Lokiceratops rangiformis | |
---|---|
Die skedel van Lokiceratops. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Superorde: | |
Orde: | |
Infraorde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Genus: | Lokiceratops Loewen et al., 2024
|
Spesie: | Lokiceratops rangiformis Loewen et al., 2024
|
Lokiceratops (betekenis "Loki-horinggesig") is 'n uitgestorwe genus Ceratopsia-dinosourus van die Laat Kryt (Campanium) van Montana, VSA. Die genus bevat 'n enkele spesie, L. rangiformis, wat bekend is van die grootste deel van die skedel en 'n gedeeltelike skelet. Vier ander seratopsiërs van dieselfde tydperk is bekend – meer as enige ander – wat daarop dui dat dié klade baie uiteenlopend was tydens die Laat Kryt van Noord-Laramidië.
Die holotipe van Lokiceratops, EMK 0012, is in 2019 deur Mark Eatman ontdek in die Loki-steengroef naby die Melkrivier in Noord-Montana, VSA, naby die Kanadese grens. Die spesimen het 'n mate van vervorming getoon weens samepersing.[1] Die holotipe bestaan uit baie bene van die skedel en dele van die skelet.[1]
EMK 0012 is deur die loop van 2021 voorberei voordat bruikbare plastiekgietsels vir navorsers gemaak is. 'n Lewensgetroue skedel kon toe gerekonstrueer word. Daarna is die oorspronklike materiaal na Denemarke vervoer, waar dit nou permanent gehou word.[1] In 2022 is die ontdekking aangekondig, asook die besluit dat dit na 'n Noorse god genoem sou word. Daar is ook opgemerk dat die holotipespesimen, met die bynaam "Frederik", een van die eerste dinosourusspesies is wat in die land vertoon word.[2][3]
In 2024 het 'n internasionale span navorsers onder Mark A. Loewen en Joseph J.W. Sertich die beskrywing van Lokiceratops rangiformis in PeerJ gepubliseer as 'n nuwe genus en spesie van die subfamilie Centrosaurinae. Die genusnaam verwys na Loki, 'n Noorse god, terwyl die woord Ceratopsia ("seratopsiër") afgelei is van die Griekse kéras ("horing") en ṓps ("gesig"}. Die naam is gekies vanweë die ooreenkoms tussen die dinosourus se geplooide horings en die krom lemme wat soms met Loki vereenselwig word. Dit gedenk ook die vennootskap tussen navorsers in die VSA, waar die spesimen ontdek is, en Denemarke, die Nordiese land waar die spesimen gehou word.
Die spesienaam, rangiformis, verwys na die soogdiergenus Rangifer (algemeen bekend as 'n rendier) waarvan die horings ooreenstem met die Lokiceratops s'n.[1][4]
Die fossielmateriaal van Lokiceratops is sowat 20% groter as dié van volwasse individue van die seratopsiër uit dieselfde tyd Medusaceratops. Die basale skedel is sowat 0,95 m lank, met 'n moontlike totale lengte van 1,92-1,99 m.[1] Die holotipe was waarskynlik sowat 6,7 m lank en het 5 ton geweeg. Dit is dus een van die grootste bekende Centrosaurinae.[5]
Anders as sy naaste verwante het Lokiceratops blykbaar nie 'n neushoring gehad nie. Die ander horings is groter as dié van enige ander bekende Centrosaurinae.[1][6]
Die Loki-steengroef word gekenmerk deur koolstofhoudende, fyn sand-, slyk- en modderstene, asook deposito's wat dui op 'n stroomstelsel met swak dreinering. Geepvisskubbe en weekdiere kom in die steengroef voor, asook verkoolde plantfragmente en hout.[1]
{{cite journal}}
: Check |pmc=
value (hulp); Check |pmid=
value (hulp)