Louis Tregardt | |
---|---|
Beeld van Tregardt by die Voortrekkermonument. | |
Gebore | Louis Johannes Tregard[1] 10 Augustus 1783 |
Sterf | 25 Oktober 1838 |
Beroep | Veldkornet, boer |
Eggenoot | Martha Elisabeth Susanna Bouwer (1796–1838) |
Kinders | Vier bereik volwassenheid: Carolus Johannes (1811–1901) Petrus Frederik (1819–1860) Louis Gustavus (1827–1891) Anna Elizabeth (1832–1902) |
Ouer(s) | Carolus (Carel)[3] Johannes Tregard, Anna Elisabeth Nel[2] |
Louis Tregardt (10 Augustus 1783 Kango, Swellendamdistrik – 1838 Delagoabaai) was 'n welgestelde grensboer in die oostelike Kaapland en een van die eerste Voortrekkerleiers. Die dorp Louis Trichardt in Limpopoprovinsie is na hom vernoem.[4]
Louis Tregardt is in die Swellendamdistrik gebore in die wyk Kango, vandag Oudtshoorn, as die oudste van die vier kinders van Carolus (Karel) Johannes Tregard en Anna Elisabeth Nel. Louis was 'n kleinseun van Carolus Gustav Tregard (van die Sweeds: trädgard wat tuin beteken) wat in 1742 uit Swede as seeman in diens van die VOC na die Kaapkolonie geïmmigreer het. In die Kaap is Tregard in 1744 met Susanna Kuun getroud. Soms is die van Trigardt geskryf, wat na 1881 na Trichardt verander is, weens 'n misgissing dat hulle van Franse afkoms was.[4]
Louis Tregardt is op 4 November 1810 in Graaff-Reinet met Martha Elisabeth Susanna Bouwer getroud. Tregardt het in die Oos-Kaap geboer totdat hy in 1835 een van die eerste Voortrekkerleiers geword het om tydens die Groot Trek na die binneland te trek en die Kaapkolonie te verlaat. Hy het tot by die Soutpansberg gebied getrek in wat nou die Limpopoprovinsie is. Tregardt en sy trek kamp vanaf Mei 1836 tot Augustus 1837 naby wat vandag die dorp Louis Trichardt is.[5]
Tregardt is op 25 Oktober 1838 op die ouderdom van 55 te Delagoabaai aan malaria oorlede.
Met sy dagboek, wat hy tussen 1836 en 1838 geskryf het, het Tregardt nie net waardevolle inligting oor onder meer die Voortrekkers en die landstreke, klimaat en leefwyse van die swart volkere langs hulle roete versamel nie, maar ook 'n aanduiding van die destydse Kaaps-Nederlandse skryftaal en Afrikaanse spreektaal gegee. Laasgenoemde se sinsbou en idiome het Tregardt se Nederlands reeds sterk beïnvloed en is derhalwe reeds deur Afrikaanse taalkundiges ontleed.
Die eerste uitgawe van die dagboek, wat eerder uit persoonlike aantekeninge bestaan het en dus nie eintlik vir publikasie bedoel was nie, is in 1917 deur G. Preller uitgegee. 'n Nuwe uitgawe is in 1964 deur T.H. le Roux van 'n taalkundige inleiding, aantekeninge en 'n glossarium voorsien.[6]