Die Lunar Gateway, of net Gateway, is 'n beplande klein ruimtestasie in 'n wentelbaan om die Maan wat sal dien as 'n sonkragaangedrewe kommunikasiesentrum, wetenskaplaboratorium, korttermynwoongebied vir ruimtevaarders en 'n stoorplek vir verkenningstuie en ander robotte.
Dit sal die eerste ruimtestasie buite 'n lae aardwentelbaan wees en die eerste een in 'n wentelbaan om die Maan.[1][2] Die amptelike naam is die Lunar Orbital Platform-Gateway (LOP-G).
Van die wetenskaplike dissiplines wat op die Gateway bestudeer sal word, sluit in planetologie, astrofisika, die waarneming van die Aarde, heliofisika, ruimtebiologie en menslike gesondheid.[3] Dit sal volgens plan in die 2020's gebou word.[4][5][6] Die Gateway sal van uiterste belang wees in die vestiging van 'n menslike teenwoordigheid op die Maan, Mars en ander voorwerpe in die sonnestelsel.[7]
Die projek sal na verwagting 'n groot rol speel in Nasa se Artemis-program ná 2024. Hoewel Nasa aan die hoof van die projek staan, sal die Gateway ontwikkel, gediens en gebruik word in samewerking met CSA, ESA, JAXA en kommersiële vennote. Dit sal onder meer dien as 'n fase in die stuur van mense en robotte na die Maan en Mars.[8][4]
Die Gateway se wentelbaan sal hoogs eksentries wees en sewe dae duur om te voltooi. Sy nabyreglynige halowentelbaan (NRHO) om die Maan sal hom binne 1 500 km van die noordpool af bring op sy naaste afstand en tot 70 000 km van die suidpool af op sy verste afstand.[9]
Gateway sal die eerste modulêre ruimtestasie wees wat outomaties sal werk en die eerste een buite 'n lae aardse wentelbaan. Gesofistikeerde sagteware sal alle stelsels monitor en beheer. Mettertyd sal dit ingewikkelder sendings ook vergemaklik.[10]
↑NASA.govGeargiveer 2 Januarie 2020 op Wayback Machine Human Exploration and Operations Mission Directorate - Architecture Status], Jim Free, NASA, 28 March 2017 Hierdie artikel bevat teks uit dié bron, wat in die publieke domein is.