Mark Boucher | ||||||
---|---|---|---|---|---|---|
Volle naam | Mark Verdon Boucher | |||||
Gebore | 3 Desember 1976 Oos-Londen, Suid-Afrika | |||||
Bynaam(e) | Bouch | |||||
Lengte | 1.68 m | |||||
Kolfstyl | Regshandig | |||||
Boulstyl | Regterarm medium | |||||
Rol | Paaltjiewagter | |||||
Internasionale geskiedenis | ||||||
Nasionale span | Suid-Afrika | |||||
Toetsdebuut (no 267) | 17 Oktober 1997 v Pakistan | |||||
Laaste Toets | 3 Januarie 2012 v Sri Lanka | |||||
EDI debuut (no 46) | 16 Januarie 1998 v Nieu-Seeland | |||||
Laaste EDI | 28 Oktober 2011 v Australië | |||||
EDI hempno. | 9 | |||||
T20I debuut | 21 Oktober 2005 v Nieu-Seeland | |||||
Laaste T20I | 18 Junie 2009 v Pakistan | |||||
Eersterangse spaninligting | ||||||
Jaar(e) | Span | |||||
2008 - | Royal Challengers Bangalore | |||||
2004/05-2006/07 | Krygers | |||||
1995/96-2002/03 | Grens | |||||
Loopbaanstatistiek | ||||||
Kompetisie | Toets | EDI | 1e rang | T20 | ||
Wedstryde | 147 | 295 | 212 | 48 | ||
Lopies aangeteken | 5,515 | 4,686 | 8,803 | 797 | ||
Kolfgemiddeld | 29.85 | 28.57 | 33.34 | 28.46 | ||
100s/50s | 5/29 | 1/26 | 10/53 | 0/2 | ||
Hoogste telling | 125 | 147* | 134 | 57* | ||
Aflewerings geboul | 8 | —- | 32 | —- | ||
Paaltjies | 1 | —- | 1 | —- | ||
Boulgemiddeld | 6.00 | —- | 26.00 | —- | ||
5 paaltjies in 'n kolfbeurt | 0 | —- | 0 | —- | ||
10 paaltjies in 'n wedstryd | 0 | —- | 0 | —- | ||
Beste boulontleding | 1/6 | —- | 1/6 | —- | ||
Vangskote/Stonkings | 532/23 | 403/22 | 712/37 | 28/4 | ||
Bron: cricketarchive, 14 Februarie 2016 |
Mark Verdon Boucher (* 3 Desember 1976 in Oos-Londen, Kaapprovinsie) is 'n voormalige Suid-Afrikaanse krieketspeler. Hy het die Proteas van 1997 tot 2012 in altesame 147 toetse as paaltjiewagter verteenwoordig, ’n rekord tot op hede. In dié tyd verbeter hy byna elke wêreldrekord vir paaltjiewagters. In toetse en in internasionale eendagkrieket benut hy onderskeidelik 532 en 403 vangskote en 23 en 22 stonkkanse. Hy was ook ’n aggressiewe middelorde-kolwer wat 5 515 toetslopies en 4 686 lopies in 295 internasionale eendagwedstryde aanteken het. Boucher se internasionale krieketloopbaan het skielik tot 'n einde gekom toe 'n dwarsbalkie opgeskiet en sy linkeroog beseer het. Dit was 'n fratsongeluk gedurende die opwarmingswedstryd in Engeland op 9 Julie 2012.[1] Hy het onder meer tydens die krieketwêreldbekertoernooie in 1999, 2003 en 2007, die T20I-wêreldbekertoernooie in 2007, 2009 en 2010, asook die Kampioenetrofeë in 1998, 2000, 2004, 2006 en 2009 vir Suid-Afrika gespeel. Later het hy Suid-Afrika tydens die T20I-wêreldbekertoernooie in 2021 en 2022 afgerig.
Mark Boucher se toetskrieketloopbaan begin op 17 Oktober 1997 teen Pakistan in Sheikhupura in die tweede van 'n drietoetsreeks. Drie dae van die toets gaan verlore weens reën en die Proteas boul en doen veldwerk vir slegs 17 boulbeurte. Boucher teken ses lopies aan in Suid-Afrika se enigste kolfbeurt.
Dit het beter gegaan met Boucher in sy eerste internasionale eendagwedstryd teen Nieu-Seeland in Perth. Hy neem twee vangskote maar stel teleur met die kolf.
Gedurende 1998 teken Boucher sy eerste vyftigtal teen Pakistan in Durban aan. In sy volgende toets teken hy weer 'n vyftigtal aan en hy ewenaar Dave Richardson se nege slagoffers vir 'n paaltjiewagter in 'n toets – agt vangskote en een stonkkans. Ses van die vangskote was in die eerste beurt wat hom tweede op die alle-tye lys plaas vir slagoffers in 'n beurt. Gedurende dié reeks stel hy 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord op met agtien slagoffers vir 'n drietoetsreeks. Hy was ook 'n lid van die Proteaspan wat tydens die Kampioenetrofee 1998 Suid-Afrika se eerste internasionale kriekettitel kon inpalm.[2]
Tydens die toer na Engeland in 1998 raak Boucher ontslae van 26 kolwers wat sy plek in die span verseker. Dit was op daardie stadium die vierde meeste slagoffers vir 'n reeks.
Gedurende 1999 teken hy sy eerste honderdtal aan teen Wes-Indië op SuperSport-park in Centurion. Hy teken nog twee hondertalle aan later die jaar.
Gedurende 2000 neem hy vyf vangskote waar teen Engeland in Johannesburg en ewenaar daarmee die internasionale eendagwedstryd rekord vir die meeste vangskote deur 'n paaltjiewagter. Hy herhaal die prestasie twee keer gedurende die jaar. Gedurende dieselfde jaar behaal Boucher sy 1 000ste toetslopie met 'n vyftigtal in die tweede toets in Kandy teen Sri Lanka. Hy rond sy vertoning af deur Muttiah Muralitheran uit te vang en daarmee verseker hy dat Suid-Afrika die toets met sewe lopies wen en sodoende die reeks gelykop maak.
In sy 38ste toets steek hy Dave Richardson se rekord van 153 slagoffers verby om sodoende Suid-Afrika se suksesvolste paaltjiewagter te word.
Gedurende 2002 neem hy as kaptein waar in vier toetse toe Shaun Pollock beseer was. Suid-Afrika verloor die tuisreeks teen Australië maar hy lei sy span tot 'n beurtoorwinnig teen Bangladesj gedurende Oktober. Hy benut ook sy 200 ste vangskoot tydens die toets.
Hy eis ook gedurende 2002 sy 166ste slagoffer, Damien Martyn, in internasionale eendagwedstryde – die meeste deur 'n Suid-Afrikaanse paaltjiewagter.
Die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika is 'n groot teleurstelling vir Boucher. Hy speel na die laaste bal van die wedstryd teen Sri Lanka, die hou lewer geen lopie op nie en die wedstryd word gestaak weens reën en eindig gelykop. Die gevolg is dat Suid-Afrika uit die kompetisie geboender word.
Gedurende 2004 verloor Boucher sy plek in die toetsspan; Thami Tsolekile word in sy plek gekies. Hy herower egter sy plek in die span teen die besoekende Engelse span. Teen die einde van die jaar word Boucher slegs die tweede persoon met 300 slagoffers in Internasionale Eendagkrieket naas Adam Gilchrist op 12 Maart 2006. Dié wedstryd sal altyd deur Boucher onthou word – hy teken 'n vyftigtal en die wenlopies aan teen Australië in die bekende 438 stryd in Johannesburg.
Gedurende 2007 neem hy sy 366ste vangskoot waar toe hy Faisal Iqbal uitvang en verbeter Ian Healy se wêreldrekord. Hy speel ook in sy 100ste toets – een van slegs vier Proteaspelers op daardie stadium. Gedurende Februarie 2007 ewenaar hy ook die wêreldrekord van ses slagoffers in 'n internasionale eendagwedstryd. Later gedurende 2007 word hy die suksesvolste paaltjiewagter óóit toe hy Ian Healy se totale slagoffers (vangskote en stonkkanse) van 395 verbysteek. Tydens die Sydneytoets word hy slegs die tweede speler wat 400 vangskote neem naas Adam Gilchrist. Dit was ook sy 275ste eendagwedstryd.
Hy speel ook in die IPL liga gedurende 2008 vir Royal Challengers Bangalore. Hy teken die tweede meeste lopies aan, 225, in tien wedstryde met 'n gemiddeld van 32.14. Gedurende 2009 speel hy in 12 wedstryde met 'n gemiddelde van 30 vir sy 150 lopies.
Op 9 November 2011 vang hy Phil Hughes uit en word die eerste paaltjiewagter wat 500 vangskote in toetse neem, 121 meer as Adam Gilchrist.
Op 10 Julie 2012 kondig hy sy uittrede aan ná die fratsongeluk teen Somerset tydens die Engelse toer.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Mark Boucher. |