Maurice Maréchal | |
---|---|
Maurice Maréchal in Tokio | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 3 Oktober 1892 Dijon |
Sterf | 19 April 1964 (op 71) Parys |
Beroep(e) | Tjellis, musiekpedagoog |
Maurice Maréchal (3 Oktober 1892 – 19 April 1964) was 'n Franse klassieke tjellis.[1]
Maréchal is gebore in Dijon aan die huis van sy ouers. Sy vader, Jules Jacques Maréchal, het vir die pos- en telegraafdienste gewerk. Sy moeder was Martha Justine Morier. Nadat hy aan die konservatorium in sy tuisdorp studeer, skryf hy in 1905 in aan die Paryse Konservatorium, waar hy studeer onder Jules-Leopold Loeb [2] en sy eerste toekenning in 1911 op 19-jarige leeftyd wen.[3]
Drie jaar later het Frankryk tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree, en Maréchal is opgeroep tot die weermag. Hy het sy daaglikse roetine van Augustus 1914 tot Februarie 1919 in sy dagboeke beskryf, en opgeteken hoe twee skrynwerkers vir hom 'n eenvoudige houttjello uit 'n ammunisiekis gemaak het, waarmee hy tydens religieuse dienste gespeel het.[4][5]
Tydens sy dienstydperk het hy kennis gemaak met musikante soos Gustave Cloëz, Lucien Durosoir, André Caplet en Henri Lemoine, waarmee hy 'n klein ensemble gevorm het wat opvoerings gegee het vir die offisierspersoneel. Maréchal is in 1916 met die Croix de Guerre bekroon,[6] en was 'n offisier van die Erelegioen.
Ná die oorlog het hy in 1919 vir 'n jaar by die Concerts Lamoureux, en later by die New York Simfonieorkes, aangesluit. Hierna het hy 'n solo-loopbaan begin. Sy vriend Émile Poillot het hom op die klavier begelei tydens toere in Spanje (1925 en 1926), Frankryk (1928), Singapoer (1933)[7] en Nederlands-Indië (1933). In 1942 is hy aangestel as professor aan die Paryse Konservatorium, welke pos hy 'n jaar voor sy dood in 1964 verlaat het op 72-jarige ouderdom. Sy leerlinge het Christine Walevska, Alain Lambert, Jean Moves en Alain Meunier ingesluit.
Hy was bekend vir sy vertolkings van die Sonate vir viool en tjello deur Maurice Ravel, wat hy tydens die werk se première in 1922 gespeel het saam met die violis Hélène Jourdan-Morhange. Hy is ook bekend vir sy interpretasies van André Caplet se Épiphanie en die concertos van Arthur Honegger, Darius Milhaud en Édouard Lalo. Met die Tweede Wêreldoorlog is Maréchal se loopbaan weer onderbreek deur oorlog. [8] Na die oorlog het hy sy loopbaan hervat, maar hy het egter 'n progressiewe spiersiekte opgedoen wat sy spelende arm erg aangetas het. Hy het sy laaste konserte in 1950 gegee, en die res van sy lewe bestee aan onderrig, en ook gereeld op internasionale beoordelingspanele verskyn.[8]
Maréchal was getroud met Lois Perkins van Norwich, Connecticut, VSA. 'n aktrise.[9] Hulle het in 1920 in Frankryk ontmoet en[10] 'n dogter en 'n seun gehad.
Maréchal is oorlede op Sondag, 10 April 1964 by sy huis in Parys, na 'n nieroperasie. Sy begrafnis het op 22 April plaasgevind in die Katedraal van Sint Benignus, en hy is begrawe in die begraafplaas van Péjoces in Dijon.
Sy vrou Lois Perkins-Maréchal het haar en haar man se lewe en kuns breedvoerig bespreek in 'n boek getiteld "L'Amérique avant les gratte-ciel" ("Amerika Voor die Wolkekrabbers"), wat in 1979 deur France-Empire gepubliseer is.
Nege van Maréchal se dagboeke, saam met die briewe van Lucien Durosoir, het in 2005 verskyn in 'n boek getiteld "Two Musicians in the Great War." Dit is saamgestel deur Duroisoir se seun, Luc Durosoir.[11]