OSIRIS-REx was 'n ruimtetuig van Nasa waarmee 'n asteroïed bestudeer en monsters van die terrein na die Aarde teruggebring is. Die asteroïed wat besoek is, was 101955 Benoe, 'n koolstofryke nabyaardevoorwerp.[1][2]
Die materiaal, wat in September 2023 teruggebring is, sal wetenskaplikes na verwagting meer leer oor die vorming en evolusie van die Sonnestelsel, sy laaste stappe van planeetvorming en die bron van organiese verbindings wat tot die ontstaan van lewe op Aarde gelei het.[3] Ná die sending sal die tuig verby die asteroïed 99942 Apofis vlieg. Dit sal dan bekend staan as OSIRIS-APEX.[4]
OSIRIS-REx is op 8 September 2016 gelanseer, het op 22 September 2017 verby die Aarde gevlieg en het op 3 Desember 2018 by Benoe aangekom.[5] Die volgende twee jaar het dit die oppervlak ontleed om 'n geskikte terrein te kry waar monsters geneem kon word. Op 20 Oktober 2020 het OSIRIS-REx kortliks op Benoe geland en daarin geslaag om monsters te neem.[6][7] Die monsters is op 24 September 2023 na die Aarde teruggebring,[8] Dit het daarna sy vlug na Apofis begin, waar dit in April 2029 sal aankom.
Benoe is as die teiken van die sending gekies omdat dit 'n "tydkapsule" van die geboorte van die Sonnestelsel is.[9] Dit het 'n baie donker oppervlak en word geklassifiseer as 'n B-tipe asteroïed, 'n subtipe van die koolstofryke C-tipe asteroïede. Sulke asteroïede word as primitief beskou en het min veranderings ondergaan sedert hulle ontstaan. Benoe is in besonder gekies vanweë die beskikbaarheid van ongerepte koolstofryke materiaal, 'n sleutelelement in organiese molekules wat noodsaaklik is vir lewe. Dit is ook verteenwoordigend van materie wat ontstaan het voor die vorming van die Aarde. Organiese molekules, soos aminosure, is voorheen gevind in monsters van meteoriete en komete, wat daarop dui dat sommige bestanddele wat nodig is vir lewe, natuurlik in die buitenste ruim geskep word.[10]
OSIRIS-REx was die eerste Amerikaanse ruimtetuig wat monsters van 'n asteroïed teruggebring het. Vorige monsters van asteroïede sluit in dié van die Japannese tuie Hayabusa, wat 25143 Itokawa in 2010 besoek het, en Hayabusa2, wat 162173 Ryugu in Junie 2018 besoek het.
Die algemene bestuur, ingenieurswerk en navigasie vir die OSIRIS-sendings word deur Nasa se Goddard-ruimtevlugsentrum verskaf, terwyl die Universiteit van Arizona se Maan- en Planetêre Laboratorium die wetenskapoperasies behartig. Lockheed Martin-ruimtestelsels het die ruimtetuig gebou en hanteer sendingsoperasies.[11] Die wetenskapspan sluit lede in van die VSA, Kanada, Frankryk, Duitsland, Brittanje en Italië.[12]
Nadat die ruimtetuig meer as twee jaar lank gereis het, het dit in Desember 2018 by Benoe aangekom[13] en begin om vir 505 dae die oppervlak op 'n afstand van sowat 5 km te karteer.[10] Die resultate van die kartering is deur die sendingspan gebruik om die terrein te kies waar monsters van minstens 60 g materiaal van die oppervlak geneem sou word.[14] 'n Nabynadering is toe uitgevoer sodat 'n robotarm die monster kon neem.[15]
Ná die suksesvolle neem van die monsters (121,6 g materiaal),[16] is die monsters in 'n kapsule na die Aarde teruggebring.[10]
Die materiaal wat op Benoe gekry is, is hoofsaaklik baie donker, met weerkaatsingswaardes wat ooreenstem met Benoe se oppervlak, hoewel dit ook helderder deeltjies bevat. Die materiaal wissel van stof tot klippies van 3,5 cm lank.
Mineralogiese ontledings wys die monsters is ryk aan gehidreerde minerale, veral magnesiumryke fillosilikate. Ander komponente wat volop is, sluit in magnetiet, sulfiede, koolstowwe en organiese verbindings. 'n Onverwagte ontdekking was die teenwoordigheid van fosfaatminerale in sommige monsters, insluitende fosfate ryk aan magnesium en natrium.[17]
Die elementsamestelling van die monsters lyk baie soos dié van CI-chondrietmeteoriete. Die isotoopverhoudings verskil egter. Die koolstofinhoud van die monsters is hoër as dié wat in bekende meteoriete gevind is. Daar is tekens dat van die materiaal grootliks onveranderd is sedert die vorming van die Sonnestelsel. Silikonkarbied van voor die Son se vorming is geïdentifiseer.[17]
Sedert 3 November 2023 word 'n deel van die monsters in die Meteorietsaal van die Nasionale Natuurgeskiedenismuseum in Washington, DC uitgestal.[18] Nog 'n deel is van 14 tot 18 Oktober 2024 deur Nasa op die Internasionale Sterrekundekongres in Milaan, Italië, vertoon.[19][20]
Naam | Ligging | Beskrywing |
---|---|---|
Nightingale | 56°N 43°O | Vol fyn materiaal in 'n groot verskeidenheid kleure. Primêre monsterterrein.[21] |
Kingfisher | 11°N 56°O | 'n Relatief nuwe krater met die meeste waterinhoud van die vier terreine. |
Osprey | 11°N 80°O | Geleë op 'n deel met 'n lae albedo en 'n groot verskeidenheid rotse.[21] |
Sandpiper | 47°S 322°O | Geleë tusen twee jong kraters, op 'n rowwe terrein. Minerale verskil in helderheid, met tekens van gehidreerde minerale. |
Op 12 Desember 2019, ná 'n jaar van die kartering van Benoe se oppervlak, is 'n teikenterrein aangekondig met die naam Nightingale. Die gebied lê naby Benoe se noordpool en in 'n klein krater binne 'n groter krater.[21]
Op 25 April 2022 het Nasa bevestig die sending sou verleng word. Nadat die monsters van Benoe die Aarde op 24 September 2023 bereik het, het die sending OSIRIS-APEX (vir APophis EXplorer) geword.[22]
Soos die naam aandui, sal die nuwe teiken die nabyaarde-asteroïed en moontlik gevaarlike voorwerp 99942 Apofis wees. Apofis kom op 13 April 2029 uiters naby aan die Aarde, hoewel daar geen kans van 'n botsing is nie. Waarnemings van Apofis sal op 8 April 2029 begin.[23] OSIRIS-APEX sal sowat 18 maande lank om Apofis wentel op 'n manier soortgelyk aan dié by Benoe. Dit sal 'n monster van Apofis se oppervlak neem en die materiaal onder die oppervlak bestudeer.[4]
Hayabusa2 is 'n soortgelyke sending van Jaxa om monsters van die nabyaarde-asteroïed 162173 Ryugu te neem. Dit het in Junie 2018 by die asteroïed aangekom, is in November 2019 daar weg ná twee suksesvolle monsternemings en het in Desember 2020 na die Aarde teruggekeer. Die kapsule van Hayabusa2 met die monsters het op 5 Desember 2020 die atmosfeer binnegekom en, soos beplan, in Australië geland. Die monsters sal deeglik ontleed word, insluitende vir waterinhoud, om leidrade te verskaf oor die aanvanklike vorming van die asteroïed.
Omdat die twee sendings ooreengestem en oorvleuel het (OSIRIS-REx was nog aan die terugkeer) het Nasa en Jaxa 'n ooreenkoms onderteken om saam te werk wat betref monsteruitruiling en navorsing.[24] Die spanne deel sagteware, data en tegnieke vir ontleding, en sal eindelik dele van die monsters uitruil.[25]
OSIRIS-REx II was 'n sendingkonsep van 2012 om die oorspronklike ruimtetuig te dupliseer, met die tweede tuig wat monsters sou neem van Mars se twee mane, Fobos en Deimos. Daar is gesê dié metode sou die vinnigste en goedkoopste manier wees om monsters van die mane te kry. Mars I en II is nou die teikens van 'n ander sending, wat deur Jaxa gelei word: MMX (Martian Moons eXploration). Dit sal in 2026 gelanseer word.[26]
The spacecraft attempted to suck up rocks and dirt from the asteroid, which could aid humanity's ability to divert one that might slam into Earth.