Passer | ||||
Latynse naam | Circinus | |||
Genitief | Circini | |||
Afkorting | Cir | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 15h | |||
Deklinasie | -60º | |||
Grootte | 93 vk. grade (85ste) | |||
Kwadrant | SQ3 | |||
Besonderhede | ||||
Hoofsterre | 3 | |||
Helderste ster | Alpha Circini | |||
Naaste ster | Alpha Circini | |||
Sterre helderder as 3 m | 0 | |||
Sterre met planete | 2 | |||
Messier-voorwerpe | 0 | |||
Bayer-/Flamsteed-sterre | 9 | |||
Meteoorreëns | Alpha Circiniede | |||
Aangrensende sterrebeelde | ||||
Sentour, Vlieg, Paradysvoël, Suidelike Driehoek, Winkelhaak, Wolf | ||||
|
Die Passer (Latyn: Circinus) is ’n klein, dowwe sterrebeeld aan die suidelike hemelruim. Dit is in 1756 deur die Franse sterrekundige Nicolas-Louis de Lacaille geskep en is na die instrument passer genoem; De Lacaille se belangstelling in wetenskap het meegebring dat hy die sterrebeelde wat hy geskep het, na wetenskaplike instrumente genoem het.
Die Passer is net suid van 30°N te sien. Sy helderste ster is Alpha Circini, ’n effens veranderlike ster met ’n skynbare magnitude van 3,19. AX Circini is ’n Cepheïed-veranderlike wat met die blote oog gesien kan word en BX Circini is ’n dowwe ster wat vermoedelik uit die samesmelting van twee witdwerge ontstaan het. Twee sontipe sterre het planeetstelsels: HD 134060 het twee klein planete en HD 129445 het ’n Jupiter-agtige planeet. Die supernova SN 185 het in 185 n.C. in die Passer voorgekom en is deur Chinese waarnemers aangeteken. Twee novas is meer onlangs, in die 20ste eeu, waargeneem.
Die Melkweg loop deur die sterrebeeld, wat prominente voorwerpe bevat soos die oop sterreswerm NGC 5823 en die planetêre newel NGC 5315. Dit het ook ’n spiraalsterrestelsel, die Circinus-sterrestelsel, wat in 1977 ontdek is en die naaste Seyfert-sterrestelsel aan die Melkweg is. Die meteoorreën Alpha Circiniede, wat ook in 1977 ontdek is, straal van dié sterrebeeld uit.
In 1756 het die Franse sterrekundige Nicolas Louis de Lacaille die sterrebeeld op ’n kaart van die suidelike naghemel bekend gestel met die Franse naam le Compas, wat verwys het na ’n passer.[1] Op dié kaart het hy die sterrebeelde Winkelhaak, Passer en Suidelike Driehoek as ’n groep instrumente aangedui.[2] Die Passer het sy huidige Latynse naam, Circinus, in 1763 gekry toe De Lacaille ’n bygewerkte lugkaart gepubliseer het met Latynse name vir die sterrebeelde wat hy bekend gestel het.[1]
Die Passer word begrens deur die sterrebeelde Sentour, Vlieg, Paradysvoël, Suidelike Driehoek, Winkelhaak en Wolf en lê langs die sterre Alpha en Beta Centauri. Dit is slegs suid van die breedtegraad 30°N te sien.
Die aanbevole afkorting van drie letters vir die sterrebeeld, soos in 1922 deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) aanvaar, is "Cir".[3]
Die Passer is ’n dowwe sterrebeeld met net een ster wat helderder as die vierde magnitude is.[4] Alpha Circini, ’n wit hoofreeksster met ’n skynbare magnitude van 3,19, is 54 ligjare van die Aarde af en lê 4° suid van Alpha Centauri.[5] Dit is nie net die helderste ster in die sterrebeeld nie, maar ook die helderste voorbeeld van ’n vinnig skommelende Ap (RoAp)-ster. Dit is van die ongewone spektraaltipe A7 Vp SrCrE, wat toenemende emissies van stronsium, chroom en europium toon. Sulke tipe sterre het ongewoon geleë magneetvelde en is effens veranderlik.[6] Alpha Circini is ’n dubbelster met ’n oranjedwerg van spektraaltipe K5 en magnitude 8,5 as metgesel.[6] Met ’n skeiding van 5,7 boogsekondes kan die twee sterre net deur ’n teleskoop onderskei word.[4][7] Die afstand tussen die twee sterre is 260 AE en dit duur 2 600 jaar om om ’n massamiddelpunt te roteer.[6]
Die tweede helderste ster is Beta Circini, ’n wit hoofreeksster van spektraaltipe A3Va en magnitude 4,07. Dit is sowat 100 ligjare van die Aarde af.[8] Sy deursnee is sowat 1,8 keer dié van die Son.[9]
Gamma Circini is ’n dubbelster sowat 450 ligjare van ons;[10] die twee komponente is net 0,8 boogsekondes van mekaar af.[4][7] Die helderste komponent is ’n blouerige Be-ster van spektraaltipe B5IV+ en met ’n magnitude van 4,51.[10] Die dowwer komponent is ’n geeldwerg met ’n magnitude van 5,5.[11] Hulle wentel elke 180 jaar om mekaar.[4]
Delta Circini is ook ’n dubbelster, met komponente van magnitude 5,1 en 13,4; hulle wentel elke 3,9 dae om hul massamiddelpunt. Albei is bloudwerge van onderskeidelik spektraaltipe O7III-V en O9,5V met ’n massa van sowat 22 en 12 keer dié van die Son.[12]
Altesaam 493 veranderlike sterre in die Passer is aangeteken, maar die meeste se magnitude wissel min en hulle is taamlik dof.[13] Verskeie sterre het planete, hoewel nie een van die moedersterre prominent is nie.
Drie oop sterreswerms en ’n planetêre newel word in die Passer aangetref. Almal is met ’n amateurteleskoop sigbaar. Die helderste swerm, NGC 5823, is 800 miljoen jaar oud en dek ’n gebied van 12 ligjare aan die sterrebeeld se noordgrens.[14] Dit bevat 80 tot 100 sterre van die 10de magnitude en dowwer.[15]
Die planetêre newel NGC 5315 het ’n magnitude van 9,8 en ’n sentrale ster van magnitude 14,2. Dit is 5,2 grade wessuidwes van Alpha Circini geleë. Bernes 145 is ’n donker en refleksienewel wat in 1971 die eerste keer aangeteken is.
In die Passer word ook die Circinus-sterrestelsel aangetref wat in 1977 ontdek is.[15] Dit is ’n relatief onverduisterde sterrestelsel (magnitude 10,6), wat ongewoon is vir sterrestelsels in sterrebeelde naby die Melkweg – hul dowwe lig word gewoonlik deur stof en gas verduister. Hierdie langwerpige spiraalstelsel, met ’n deursnee van 26 000 ligjare, is sowat 13 miljoen ligjare van die Aarde af en lê 4 grade weg van die galaktiese vlak, waar die meeste sterre voorkom.[16] Dit is die naaste Seyfert-sterrestelsel aan die Melkweg;[17] dit bevat dus ’n aktiewe kern.[18]
Circinus X-1 is ’n X-straaldubbelster wat ’n neutronster insluit. Waarnemings van Circinus X-1 in Julie 2007 het die teenwoordigheid onthul van X-straalstrome wat gewoonlik in swartkolkstelsels aangetref word.[19] Die pulsar PSR B1509-58, of die Circinus-pulsar, 19 000 ligjare van ons, het ’n stroom materiaal van 20 ligjare lank uit sy suidpool geskiet wat duidelik in die X-straalspektrum sigbaar is. Nog ’n supernova, SN 185, is in 185 n.C. deur Chinese waarnemers aangeteken en was sowat agt mande lank sigbaar.[20]
’n Witdwerg in ’n kompakte dubbelster kan materiaal van sy metgesel vergader totdat dit ontvlam en ontplof; dit is bekend as ’n nova.[21] Nova Circini 1926, ook bekend as X Circini, is op 3 September 1926 met ’n magnitude van 6,5 waargeneem voordat dit dowwer geword en in 1928 tussen magnitude 11,7 en 12,5 gewissel het. In 1929 het dit verdof tot magnitude 13.[22] Nova Circini 1995 (BY Circini) het in Januarie 1995 ’n maksimum skynbare magnitude van 7,2 bereik.[21]
Die Passer is die bron van ’n jaarlikse meteoorreën, die Alpha Circiniede. Dit is in 1977 die eerste keer in Queensland waargeneem.[23] Die meteore het ’n gemiddelde spoed van 27,1 km/s en hou vermoedelik verband met ’n langperiodekomeet.[23][24] Die reën bereik sy hoogtepunt op 4 Junie.[25]