| |||||
Nasionale leuse: Firme y feliz por la unión (Spaans vir: "Sterk en gelukkig vir die Unie") | |||||
Volkslied: Himno Nacional del Perú (Spaans vir: "Volkslied van Peru") Nasionale mars: Marcha de Banderas (Spaans vir: "Mars van die vlae") | |||||
Hoofstad | Lima | ||||
Grootste stad | Lima | ||||
Amptelike tale | Spaans, Quechua en Aymara | ||||
Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek[1][2] Dina Boluarte vakant Gustavo Adrianzén | ||||
Onafhanklikheid • Verklaar
• Bereik • Erken • Huidige grondwet |
van Spanje 28 Julie 1821 9 Desember 1824 14 Augustus 1879 31 Desember 1993 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 285 216[3] km2 (21ste) 496 225 myl2 0,41 | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2017-sensus - Digtheid |
32 440 172[3] (46ste) 31 237 385 23 / km2 (197ste) 59,6 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,762[5] (84ste) – hoog | ||||
Gini (2021) | 40,2[6](35ste) – medium | ||||
Geldeenheid | Nuevo sol (PEN )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
PET (UTC-5) nie toegepas nie (UTC-5) | ||||
Internet-TLD | .pe | ||||
Skakelkode | +51 |
Peru (Spaans: Perú, [peˈɾu]; Quechua: Peruu of Piruw, [pɪɾʊw]; Aymara: Piruw, [pɪɾʊw]), amptelik die Republiek Peru (República del Perú, [reˈpuβlika ðel peˈɾu], ; Quechua: Piruw Republika; Aymara: Piruw Suyu), is 'n republiek in die weste van Suid-Amerika, net suid van die ewenaar. Peru beslaan 'n oppervlakte van 1 285 216 km² en het 'n bevolking van 32 440 172 in 2023 gehad. Dit word begrens deur Colombia en Ecuador in die noorde, Brasilië en Bolivië in die ooste, Chili in die suide en die Stille Oseaan in die weste. Die hoofstad en grootste stad is Lima. Peru het drie amptelike tale: Spaans, Quechua en Aymara. Peru was tussen 1542 en 1821 'n Spaanse kolonie.
Peru is volgens oppervlakte na Argentinië en Brasilië die derde grootste land in Suid-Amerika. Dié land se geografie word deur die Andesgebergtes in die suide en die weste asook die Amasonebekken in die ooste en noorde gekenmerk.
Die Amasonerivier se twee bronriviere, die noordelike Río Marañón en die suidelike Río Ucayali, ontspring in Nevado Mismi, Arequipa, in die Peruaanse Andes. Naby Iquitos vloei die twee takke saam om die Amasonerivier te vorm. Ander belangrike sytakke in Peru sluit in Rio Juruá, Río Madre de Dios, Rio Purus en Río Putumayo.
Die grootste meer is die Titicacameer in die Andes op die grens met Bolivië.
Peru se hoofstad Lima is aan die sentrale kus langs die Stille Oseaan geleë. Ander belangrike stede sluit in Arequipa in die suide, die Inkahoofstad Cusco in die sentrale Andes en Iquitos in die noordelike Amasonebekken.
Alhoewel die Peruaanse grondgebied baie divers is, het die Spanjaarde dit, om politieke eerder as geografiese redes, in drie groot streke verdeel: die kus, wat aan die Stille Oseaan grens; die hoogland, geleë in die Andesberge; en die Amazone-reënwoud. Hierdie verdeling, hoewel met sy duidelike beperkings, was tot 1941 van toepassing, toe die derde Algemene Vergadering van die Pan-Amerikaanse Instituut vir Geografie en Geskiedenis die skepping van agt natuurlike streke goedgekeur het, soos voorgestel deur die geograaf Javier Pulgar Vidal, met die doel om 'n fisiografiese kaart te skep wat meer in ooreenstemming is met die bio-geografiese werklikheid van die gebied.[7] Die Peruaanse landkaart bestaan uit die volgende streke:
Die langste tydperk van Peruaanse geskiedenis is net voor die Spaanse verowering van die Inka-ryk onder Francisco Pizarro in die laat 15de eeu. Die vroegste bewyse van die mens in Peru dui daarop dat die mens omtrent tienduisend jaar gelede van die ander kontinente teen die einde van die laaste ystydperk in die Pleistoseen Suid-Amerika bereik het.
Die eerste Peruaanse georganiseerde bendes en stamme was jagters en versamelaars. Die jag van die Suid-Amerikaanse camelids in die Andiese hooglande (veral guanacos), visvang en skulpvisoes langs die Stille Oseaankus was die belangrikste ekonomiese aktiwiteite. Hulle het ook klipwerktuie uitgekap.
Die progressiewe ontdekking van die landbou (Argaïese tydperk) het 'n toenemend groeiende ekonomie toegelaat. Landbou-siklusse, oorheers deur die sterrekundige priesters, het dit met groot krag toegerus. Dit is dus geglo dat die eerste komplekse organisasies teokratiese van aard was. Die eerste tempels het langs die sentrale kus en die sentrale noordelike en sentrale hooglande ontstaan. Hulle het die Andes-beskawing ingelui. Caral is die oudste bekende nedersetting in die Amerikas en 'n deeglik bestudeerde argeologiese terrein van die Norte Chico-beskawing.
As gevolg van die Salpeteroorlog (1879–1883) moes Peru sy suidelikste gedeeltes aan Chili afstaan. Sedertdien is die stad Arica suid van die Chileens-Peruaanse grens geleë.
Die Andesgebergte, wat hom oor die hele lengte uitstrek, vorm die opvallendste element van die Peruaanse landskap. Die westelike reeks, Cordillera Occidental, is die hoogste en omvat tientalle pieke van meer as 5 000 m hoog, waaronder pieke van meer as 6 000 m, soos Huascaran (6 768 m), Peru se hoogste piek, voorkom. Die oostelike bergreeks, Cordillera Oriental, is dor en kaal en word deur diep valleie gevorm en deur riviere van die Amesonestelsel deursny.
Die belangrikste Peruaanse bronrivier van die Amesonerivier is die Río Marañón (met as syriviere onder meer die Río Tigre, Río Santiago en Río Huallaga), die Río Ucayali (met as syriviere onder meer die Río Tapiche, Río Urubamba, Río Ene en Río Pachitea) en die Río Napo. Die westelike Andesreeks word dreineer deur middel van 'n vyftigtal riviere, wat gevoed word deur die smeltende sneeu en welkome oases in die droë kusvlakte vorm.
Die meeste riviere het 'n deel van die jaar geen water nie en net een is bevaarbaar, naamlik die Río Tumbes. Tussen die westelike en oostelike Andesreeks lê 'n sentrale reeks, die Cordillera Central, wat in die suide met die ander twee saamkom in ’n hoogvlakte, die Puno of Altiplano. Dit is omring deur bergrûens met hoë pieke, waaronder (uitgedoofde) vulkane soos Tacora en Tutupaca. Die Puno word onder meer dreineer deur vier riviere in die Titicacameer, wat deels in Peruaanse en deels in Boliviaanse grondgebied lê.
Globaal kan Peru in drie dele verdeel word: van wes na oos die kusvlakte (costa), die bergland (sierra) en die oerwoud (selva). Die hoogteverskille en wisselinge tussen die hellings, bergrûens, plato's en valleie skep ’n gevarieerde Peruaanse landskap. Deurgaans word agt landskaptipes onderskei, elkeen met sy eie kenmerkende klimaat, plantegroei, grondbenutting en menslike bewoning.
Die Chala is die droë kusvlakte, die kusgebied benede 500 m bo seespieël, wat net 12% van die landoppervlakte beslaan, maar waar al die groot stede, onder meer die hoofstad, Lima, lê. Yungas is die naam vir die oerwoudgebiede tussen 300 en 2 500 m bo seespieël op die oostelike en westelike helling van die Andesgebergte, terwyl Rupa-Rupa die laer oostelike helling is.
Die Quechuagebied is die naam wat gegee word aan die streke waar die Inkakultuur se grootste nedersettings was. Dit is streke op 'n hoogte tussen 2 500 en 3 800 m met 'n gematigde klimaat. Suni is die naam vir die kaal plato's wat tussen 3 800 en 4 200 m lê en deur steil hellings begrens word. Die Puno of Altiplano is die uitgestrekte hoogvlakte in Suid-Peru wat tussen 4 200 en 5 200 m lê.
Janca is die bergrûens van die Andesgebergte wat bo sowat 5 000 m lê, 'n gebied waar menslike bewoning onmoontlik is, en die Omagua is die tropiese woudgebied wat deel uitmaak van die Amasonebekken. Dit beslaan 60% van Peru se grondgebied, terwyl net 'n fraksie van die land se bevolking daar woon.
Peru lê in die tropiese lugstreek. Tog het net die selva 'n tropiese reënwoudklimaat. Die oorheersende suidoospassaat waai nie by die Peruaanse kusvlakte nie, en gevolglik het dit ’n baie droë klimaat. Net in die winter (van Mei tot Oktober) het die mis, wat uit die relatief koue Humboldt-stroom (of Perustroom) kom, ’n bietjie vogtigheid tot gevolg.
Bo ’n hoogte van 4 000 m is die klimaat tipies vir hooggebergtes, waar ryp snags die heel jaar voorkom. Die grens van die ewigdurende sneeu lê tussen 5 200 en 6 300 m bo seespieël. 'n Deel van die kusvlakte is onder besproeiing en hier word die belangrikste uitvoergewasse verbou. Verder is dit net 'n kaal gebied, begroei met kort struikgewasse en kaktusse.
Die westelike Andesvalleie is natter as die kusvlakte en het vrugbare grond waarop onder meer graan en sitrusvrugte verbou word. Die curvierhaasmuis (Lagidium viscaccia) kom veral in die suide van Peru nog baie voor. Die dier is ongeveer so groot soos 'n konyn en leef in groepe. In die hoogtes kom uitgestrekte bloekombosse voor.
Bo 4 000 m oorheers die grasland en plantegroei in die hooggebergtes. Die oostelike Andeshellings is digter begroei en gaan geleidelik oor in die oostelike oerwoud. Meer as die helfte van Peru is bedek met natuurlike woud, bestaande uit baie uiteenlopende en waardevolle houtsoorte. Die ontginning van die woude het nog skaars begin vanweë die ontoeganklikheid van die oerwoud.
Spaans, Quechua en Aymara is die amptelike tale van Peru. Baie Indiane praat 'n Quechua-taal (die Runa Simi van die Inkas) of Aymara. Tans is 97% van die bevolking Rooms-Katoliek. Die Indiane het egter baie van die elemente uit hul tradisionele godsdienste behou en dit in sommige gevalle met die Rooms-Katolisisme verweef. Daar is godsdiensvryheid in Peru, al verkeer die Rooms-Katolieke Kerk in 'n beskermde posisie.
Hoewel onderwys in Peru gratis en verpligtend vir alle kinders van 7 tot 16 jaar is, is dit in die praktyk in die verafgeleë gebiede nie moontlik nie, ondanks die verskillende projekte ter bestryding van analfabetisme. Na raming kan 30% van die bevolking nog lees nog skryf. Die meeste instellings vir voortgesette onderwys, waaronder 20 instellings vir hoër onderwys, is in die kusvlakte. Onder die universiteite is die San Marcos-universiteit in Lima (die oudste in Suid-Amerika, gestig in 1551) die belangrikste, asook die universiteit in Cuzco, wat in 1692 deur die Jesuïete opgerig is, en die San Christóbal de Hyamanga-universiteit in Ayacucho.
Gebrekkige higiëniese omstandighede, ondervoeding, ’n hoë kindersterftesyfer en endemiese siektes (waaronder malaria en frambosesiekte) maak gesondheidsorg een van die dringendste voorkeure aan die kant van die owerheid. In beginsel het Peru sedert 1933 'n taamlik volledige stelsel van sosiale voorsiening, onder meer voorsiening wat betref siekte en werkloosheid, bejaardesorg en jong moeders. In die praktyk trek slegs werknemers in die stedelike gebiede voordeel uit hierdie voorsiening. Peru se grootste vakbond is die Confederación de Trabajadores del Perú (CTP).
Wikimedia Commons bevat media in verband met Peru. |