Pierre Kemp | |
---|---|
![]() Tekening van Kemp deur Hubert Levigne | |
Gebore | 1 Desember 1886 |
Sterf | 21 Julie 1967 |
Beroep | skrywer, skilder |
Pierre Kemp (1 Desember 1886 – 21 Julie 1967) was 'n Nederlandse digter.
Na laerskool was Kemp as skilder (van erdewerk) werksaam by die Société Céramique en daarna tot sy aftrede as administrateur by die steenkoolmyn Laura en Vereeniging te Eygelshoven.
Kemp debuteer as digter met 'n sonnet in 'n uitgawe van De Limburger Koerier van 23 Maart 1910. In 1914 verskyn sy eerste digbundel onder aanmoediging van die Jesuïet J. van Well. Tussen 1915 en 1916 werk hy as leerling-joernalis by De Tijd in Amsterdam, maar word deur heimwee gedryf en keer spoedig terug na Maastricht. In 1918 trou Kemp met Hubertina Catharine Mommers, saam met wie hy drie seuns het.
Kemp het vir dekades lank per trein tussen Maastricht en Eygelshoven gereis op pad na sy werkplek by die Laura-myn. Hy het, gewoonlik onberispelik geklee in 'n donker en stemmige pak, honderde gedigte tydens die kort treinreise geskryf. Vele hiervan is ingesluit in Stabielen en passanten (1934), wat Kemp se "tweede debuutbundel" genoem is vanweë die ligter toon en speelse, beskeie verse daarin, en de Engelse Verfdoos (1956).
'n Besonderse werk verskyn in 1960 toe hy saam met die skilder Willem Hofhuizen Les Folies Maestrichtoises ('n digbundel gebaseer op die koeplette van François Couperin getiteld Les Folies Françaises) ter ere van die 50ste verjaardag van Fernand Lodewick skep. Lodewick was 'n bekende Neerlandikus wat destyds handboeke aan die Nederlandse lycea voorsien het. Dit is gepubliseer deur Willem Veltman. Honderd eksemplare daarvan is gedruk, waarvan die eerste dertig "getooi" is met 'n handtekening van beide kunstenaars en waarvan die gedrukte tekeninge per hand ingekleur is deur Willem Hofhuizen.
Behalwe vir sy digterskap was Pierre Kemp ook 'n verdienstelike skilder. In 1975 en 2010 is uitstallings van sy werk in die Bonnefantenmuseum in Maastricht gehou.
Sy jonger broer Mathias Kemp was ook 'n digter en skrywer.
Pierre Kemp, Eygelshoven en die Laura-myn was die onderwerp van die digter-juris Manuel Kneepkens se begrafnismars uit 1993: "Langs de lange, lange beroete spoorlijn|naar huis..." (in: Au pays du tendre Mosan noir)
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |