Pluimvee is gedomestikeerde voëls wat deur mense aangehou word vir hul nuttige produkte. Pluimvee is basies vee met vere ('n pluim is 'n veer). Dit sluit in: hoenders, kalkoene, eende, makoue, ganse en selfs volstruise. Hulle word aangehou vir die eiers wat hulle lê, vleis en selfs vir hulle vere.
Onder pluimvee word verstaan voëls wat ter wille van eier- of vleisproduksie aangehou word. Van al die voëlsoorte neem die hoender verreweg die vernaamste plek in die pluimveebedryf in, maar eende, ganse, makoue, kalkoene en kwartels speel ook 'n belangrike rol.
In die pluimveebedryf word daar onderskei tussen lêrasse vir die produksie van eiers vir die verbruikersektor en vleisrasse vir die produksie van braaikuikens en -hoenders, eende, ganse, ensovoorts.
Eiers is vanweë hulle hoë proteïeninhoud, vitamiene en minerale 'n belangrike voedingsproduk, asook pluimveevleis, wat gewoonlik 'n besonder gunstige vet/vleisverhouding het. Pluimveeboerdery is uiters gespesialiseer. Die werfhen met haar kuikens en weglêneste is vir altyd verby. In die plek daarvan het die sogenaamde batteryhen gekom.
Hulle produseer in hul duisende eiers, soms letterlik op 'n lopende vervoerband, in draadhokkies nie groter as 20 x 25 cm nie. Die braaihoender, 'n "uitvinding" van die 20de eeu, broei in 'n masjien uit, en word na 8 weke geslag sonder dat die dier ooit die sonlig gesien het. Die arbeid, soos die uithaal van eiers, kos en water gee, en die skoonmaak van die hokke, vereis vanweë meganisasie die minimum mannekrag. Die totaal onnatuurlike leefwyse van hierdie diere lok, veral in Europa, dikwels kritiek by diereliefhebbers uit.
Aan die ander kant bied die bedryf aan 'n proteïen-honger wêreld 'n goedkoop en higiëniese voedselbron. Veral in Europa, waar byna alle voedselpryse sterk gestyg het, het die prys van eiers en pluimvee in die laaste dekade feitlik konstant gebly. In Suid-Afrika word hierdie meganisasieproses ook in die laaste dekades toegepas, en mettertyd word groot voordeel hieruit geput. Die nuwe boerderymetodes en moderne aanpassing het egter daartoe gelei dat produksiekoste, en daarmee saam die verbruikersprys van pluimvee en eiers, in die laaste dekade skerp gestyg het.
In Europa word daar nog net in België en Nederland op redelike skaal met kalkoene geboer. In Suid-Afrika word daar heelwat moeite gedoen om hierdie bedryf te stimuleer. Lê-eende word amper nie meer in Europa aangehou nie omdat die vraag na eendeiers sterk gedaal het. In Suid-Afrika het die bedryf nog nooit werklik ingang gevind nie. Frankryk is die belangrikste produsent van ganse, terwyl tarentale daar ook gesogte pluimvee is.
Oor die afstamming van die hoender (Gallus domesticus) is daar min bekend. Daar word aanvaar dat die huishoender 'n afstammeling is van die wilderooiboshoender of Bankivahoender (Gallus gallus), wat vandag nog in Indonesië, Birma, Noord-Italië en op die Filippynse Eilande aangetref word. Ook ander boshoenders, die sogenaamde Lafayettehoender (Gallus lafayettii) uit Sri Lanka, die Indiese Sonnerathoender (Gallus sonneratii) en die Javaanse vurksterthoender (Gallus varius), het vermoedelik ook ʼn aandeel gehad in die ontwikkeling van die huishoender.
Uit die Ooste het hierdie mak hoenders, wat reeds onderling begin teel het en veral vanweë hulle vleis en later hulle eiers aangehou is, waarskynlik via Wes-Asië, Noord-Afrika, Griekeland en Italië na die Weste versprei. Die Romeine het hoenders as heilige diere beskou (nie te heilig om in die kookpot te beland nie) en het die mak hoender na die Germaanse volke versprei. Gedurende die Middeleeue het die kruistogte waarskynlik die verspreiding van die mak hoender baie vergemaklik.
Die Europese koloniste het hoenders na Amerika geneem, soos Jan van Riebeeck ook hoenders saam met hom na die Kaap gebring het. Uit geskiedenisbronne is dit egter ook bekend dat Vasco da Gama hoenders in Natal opgemerk het. Die Swart stamme wat uit die Noorde van Afrika suidwaarts getrek het, het dus ook hulle eie soort hoenders gehad. Ook die Khoi het hoenders aangehou, maar in vergelyking met die destydse Europese huishoender was hulle van swak gehalte. Van Riebeeck het gedurende 1656 en 1657 hoenders uit Holland ingevoer met die oog op die produksie van vleis en eiers.
Jan Woutersz was waarskynlik die eerste hoenderboer in Suid-Afrika. In die 18de en 19de eeu was daar nog geen georganiseerde hoenderboerdery nie, maar die meeste boere het wel hoenders op die werf aangehou. Hoenders is ook tydens die Groot Trek die binneland ingeneem in spesiale houthokke, wat onder aan die ossewa gehang het.
Kalkoene het oorspronklik wild in Noord-Amerika voorgekom. Die Asteke het waarskynlik kalkoene as huisdiere aangehou. Ook ander Indiaanse kulture het die kalkoen mak gemaak, veral vir die vleis maar ook vir hul mooi vere. Die mak kalkoen stam af van die subspesie Meleagris gallopavo gallopavo, wat nog in die suide van Mexiko aangetref word. In sy oorspronklike woongebied is hierdie kalkoen vandag baie skaars en word dit as 'n bedreigde spesie beskou. Kort nadat Amerika ontdek is, het die Spanjaarde kalkoene saam met hulle teruggeneem Europa toe.
Die huidige kalkoenrasse stam van hierdie ingevoerde voëls af. Daar is bruin of sogenaamde bronskleurige kalkoene, in Suid-Afrika die bekende blougrys kalkoen, en ook die oorheersende wit kalkoenras, veral in die Europese pluimveebedryf.
Die moderne eenderasse in die pluimveebedryf stam af van die verskillende wilde-eende in die Noordelike Halfrond, soos Anas platyrhynchos, die Indiese drafeend en die beroemde Pekingeend. Die Chinese was waarskynlik die eerste mense wat eende mak gemaak het. Eende is nie net vanweë hul vleis en eiers aangehou nie, maar ook vir hulle dons en vere. Dit is bekend dat die Voortrekkers ook eende saam met hulle die binneland ingeneem het.
In die Oudheid is ganse op groot skaal in verskeie dele van Europa aangehou. Hulle het waarskynlik van die bekende wilde- of grysgans (Anser anser) afgestam. Die Romeine was veral lief vir die diere. Ganse is wel diere en was dus grotendeels selfversorgend. Namate minder ruimte in Europa beskikbaar was, het die gewildheid van die gans as plaasdier afgeneem. In Oos-Europa is die gans nog 'n gewilde plaasdier, maar in Wes-Europa word hulle nog net op groot skaal aangehou vir die produksie van ganslewers.
Hoenders, ganse en makoue is vir 'n lang tyd as feitlik selfversorgende diere op plase of in agterplase aangehou. Pluimveeboerdery was aanvanklik nie op vleisproduksie toegespits nie, en die vere is hoofsaaklik gebruik vir die verfraaiing van klere, die maak van kussings, matrasse en ander artikels. Die eerste volwaardige pluimveeskou is in 1849 in Boston in die VSA gehou, en hierdeur is die studie van die destyds bestaande rasse sterk aangemoedig.
Dit was ook die aansporing tot die ontwikkeling van nuwe rasse en soorte. Kennis van eierproduksie was in daardie jare uiters gebrekkig. Oor die kunsmatige uitbroei van eiers was die destydse hoenderboere minder onseker. Die Ou Egiptenare en die Chinese het al geweet hoe dit gedoen moet word. Teen die einde van die 19de eeu het die beperkte pluimveebedryf in Suid-Afrika hom begin toespits op die teel van rashoenders. James Templar het byvoorbeeld in 1883 ʼn klompie rasegte hoenders ingevoer en ene Jan Hofmeyr en 'n boer, bekend as Van Eyssen, het sy voorbeeld gevolg.
Die eerste pluimveeklubs is in 1884 in Natal en in 1893 in die Westelike Provinsie gestig – laasgenoemde het 110 lede gehad. In 1904 het pluimveeliefhebbers die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging in Kimberley gestig, hoofsaaklik met die oog op die bevordering en beheer van pluimveeskoue. Pluimveeliefhebbers is so geïnspireer dat pluimvee uit Brittanje, Nieu-Seeland, Denemarke, Duitsland, Frankryk, België, Italië, die VSA en die Verre Ooste ingevoer is.
Gedurende 1914 is eiers ten bedrae van R132 000 ingevoer. Na die Eerste Wêreldoorlog moes Suid-Afrika egter selfversorgend raak en in 1921 is eiers ten bedrae van R400 000 na Brittanje en Europa uitgevoer. Die gevolge van die Anglo-Boereoorlog was 'n werklike stukrag in die ontwikkeling van die pluimveebedryf in Suid-Afrika. Omdat Transvaal en die Vrystaat na die oorlog feitlik kaal gestroop was van hul inkomstebronne, is hoenderboerdery beskou as 'n vinnige metode om die veefaktor in te skakel en terselfdertyd as tussentydse voedselbron te dien. Teen 1930/ 31 het uitvoere die rekordsyfer van 193 162 kiste van 30 dosyn elk bereik.
Die Tweede Wêreldoorlog, wat in 1939 uitgebreek het, het feitlik alle uitvoer tot stilstand gebring. Die Staat was verplig om as koper op te tree en dit het die hele bemarkingstruktuur verander. In 1953 is die Eierbeheerraad gestig. Pluimveeboerdery in Suid-Afrika het gedurende die laaste 80 jaar ʼn belangrike bedryf geword en groot pluimveeplase word naby Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein, Durban en Pietermaritzburg aangetref. Die klem in die pluimveebedryf het dus op hoenders en hoendereiers geval.
Teenoor die pluimveebedryf wat enersyds ontwikkel het, het daar, anders as in Europa, ook nog heelwat pluimvee op kleiner skaal op die gewone gemengde boerdery agtergebly. In Europa het pluimvee feitlik heeltemal van die plase af verdwyn en in die bedryf beland. In Suid-Afrika het die proses heelwat stadiger en anders verloop, hoewel die beeld van die pluimveeboerdery in die laaste paar dekades drasties verander het. Sowat 50 jaar gelede was die aanhou van hoenders heeltemal gebaseer op hul natuurlike leefwyse: 'n haan met 'n klompie henne wat vry kon rondbeweeg, en saam 'n hegte groepie met 'n streng hiërargie gevorm het. Die hele dag lank het die werfhoender geskrop op soek na sade, wurms en insekte.
In die natuur het hulle in bome geslaap, maar op plase of in die agtertuin was daar 'n hoenderhok om hulle teen roofdiere te beskerm, en in plaas van takke het hulle op stellasies geslaap. Gewoonlik is daar eenkant in die hok 'n plek afgesonder waar die henne kon lê. Dit is hierdie wydverspreide weglêery wat die uithaal van eiers 'n baie tydrowende taak gemaak het. In Europa is die toneel van die klompie vrylopende hoenders, eende of ganse beslis verby, maar nog nie heeltemal in Suid-Afrika nie.
Terwyl dit in Europa ekonomies nie meer moontlik is om pluimvee op hierdie "natuurlike" manier aan te hou nie, word die metode van boerdery in Suid-Afrika met sy talle kleinboere en landelike gemeenskappe nog algemeen toegepas. Dit gaan in sulke gevalle nie werklik oor die ekonomiese bedryf nie, maar oor ʼn voorraad eiers en vleis vir 'n selfversorgende klein gemeenskap. Aan die ander kant het die aanhou van hoenders in 'n hok in die agterplaas op selfs die groter dorpe heeltemal onekonomies geword.
Die hoenders eet in geldwaarde meer kos op as wat hulle in vleiswaarde en eiers kan produseer. Die werfhen of vars eier uit die hoenderhok het 'n buitensporige duur artikel geword. Die enigste manier om hoenders en ander pluimvee ekonomies lonend te maak, was die oorskakeling na die massabedryf. Op die moderne pluimveeplase word enorme getalle hoenders in 'n beperkte ruimte binnenshuis gehou, dikwels sonder daglig. Hulle kan skaars beweeg, en hulle enigste taak is die lê van eiers of om so vinnig moontlik te groei sodat hulle geslag kan word.
In baie gevalle is hulle pote heeltemal onderontwikkel omdat hulle dit nie meer gebruik nie. Dit is voor die hand liggend dat hierdie onnatuurlike leefwyse die hoenderboere die kritiek van die meeste diereliefhebbers op die hals haal, veral in Europa en die VSA, waar die soort bedryf al soveel langer toegepas word. Aan die ander kant verskaf die pluimveebedryf, veral die hoenderbedryf, 'n belangrike, relatief goedkoop bron van proteïene in die vorm van witvleis en eiers.
In 'n vinnig-ontwikkelende land soos Suid-Afrika styg die vraag na voedselbronne daagliks, nie net in die Republiek nie, maar ook in die omliggende Afrikalande. Net deur oor te skakel na die intensiewe moderne pluimveeboerderymetodes kan pryse in so mate onder beheer gehou word dat die grootste deel van die bevolking nog die vleis en eiers sal kan bekostig.
Hoenders kan volgens ekonomiese waarde ingedeel word, naamlik vleisrasse, eierproduksie en dubbeldoelrasse – met ander woorde vir sowel slag – as eierproduksie. Wat die vleisrasse betref is die Cornish 'n goeie voorbeeld. Hierdie ras behoort tot die veghoendertipe wat vandag nog in Suidoos-Asië geteel word. Die Cornish word as die voorganger van die braaihoender beskou. ʼn Kruising tussen die Cornish en die Plymouth Rock word wêreldwyd as 'n uitstekende slaghoender aanvaar.
Die Leghorn is weer 'n goeie lêhen. Hierdie ras, wat wit, swart, bruin, geel of gestreep kan wees, het ontstaan uit kruisings met hoenders uit Italië, met Spaanse hoenders in die VSA en is verder verbeter deur kruisings met Engelse Leghorns. Onder dubbeldoelrasse tel bekende rasse soos Australorps, Rhode Island Red, Ligte Sussex, New Hampshire, die Plymouth Rock en Wyandotte. Die Rhode Island Red is 'n gewilde hoender in baie lande en word op groot skaal in Suid-Afrika geteel. Hulle eierrekords vergelyk terloops baie gunstig met dié van die Wit Leghorns en die Swart Australorps.
Die New Hampshire is net soos die Rhode Island Red in die VSA geteel. Dan is daar nog talle rasse wat as troeteldiere en vir skoudoeleindes aangehou word vanweë hul sierlikheid. Bekende rasse in dié verband is die klein veghoenders soos Cochins en Silkies, die Yokohama, met ʼn besonder lang stert, en die bekende kapokkie. Al die talle ander rasse is eintlik nog net van betekenis vir diegene wat 'n klein klompie hoenders in die agterplaas aanhou, soos onder meer die Wyandotte (VSA), die Orpington (Engeland), die Maran, afkomstig uit Frankryk, en die Sussex uit Engeland.
In die verlede is aanbeveel dat 'n pluimveeplaas so na as moontlik aan 'n bemarkingsgebied moet wees. Vanweë die uitbreiding van stedelike gebiede het dit egter soms gebeur dat pluimveeplase binne stadsgebiede geval het. Behalwe die hoë koste as so 'n plaas verskuif sou moes word, was daar die bykomende nadele van duur grond en arbeid en toenemende diefstal. Aan die ander kant is die vervoerkoste geweldig hoog indien die plaas afgeleë is.
Pluimveeboerdery is vandag ʼn gespesialiseerde bedryf en talle faktore moet in ag geneem word voordat ʼn pluimveeplaas aangelê word. Die grond moet groot genoeg wees omdat die geboue minstens 100 m van mekaar moet wees; dit is ook noodsaaklik om na die struktuur van die grond te kyk omdat turfgrond byvoorbeeld die gevaar inhou dat geboue kan kraak. Verder moet die grond verkieslik so gelyk moontlik en goed gedreineer wees en alle afloopwater moet doeltreffend weggevoer kan word.
Waar hoenders aanvanklik in hokke met strooi op die vloere aangehou is, het die higiëniese roostervloer later groot ingang gevind. In lande met ʼn sterk ontwikkelde pluimveeboerdery (byvoorbeeld Nederland en België), word die grootste aantal lêhenne in 'n battery aangehou, dit wil sê rye hokke van gaas. So kan die hokke ook volgens die stapelstelsel op mekaar geplaas word. Dit vergemaklik alle werksaamhede in so mate dat een persoon ongeveer 10 000 henne kan versorg.
Dan is daar ook die sogenaamde “high rise”-huise, waar die koste per hen verminder word deurdat daar meer batterye per vierkante meter is, naamlik drie vlakke met hoenderbatterye. Met die tipe huis is 'n probleem soos misverwydering nie meer 'n probleem nie omdat 'n trekker onder die hokke kan deurry en die mis meganies verwyder. Daar is bereken dat ongeveer 80% van die wêreld se lêhenne vandag in batterye aangehou word. Een van die belangrikste funksies van hoenderhuise is om die hoenders teen temperatuursveranderinge te beskerm.
Gedurende warm weer moet die gebou koel wees en andersom – 'n konstante temperatuur van 22˚C is geskik vir lêhenne. Dit is ook baie belangrik dat 'n hoenderhuis oor goeie ventilasie beskik en droog is omdat ʼn hoë voggehalte nadelig vir die hoenders kan wees. Al hoe meer pluimveeboere isoleer deesdae hul hoenderhuise ten einde die temperatuur te help reguleer. Hiervoor is plafonne baie belangrik aangesien die meeste hitte deur die dak opgeneem of daardeur verlore gaan. Voerbakke is uiters belangrik en moet aan die volgende vereistes voldoen:
Dit moet maklik vol- en skoongemaak kan word, hoenders moet nie daarop kan slaap nie, die voer moet maklik bereikbaar wees, selfs al is die bakke taamlik leeg, en voervermorsing moet tot die minimum beperk word. Dit is belangrik om te onthou dat hoenders langer sonder kos as sonder water kan lewe.
'n Gebalanseerde dieet is noodsaaklik vir die produksie van sowel eiers as braaikuikens. Deur navorsing is dit moontlik dat diëte vir alle ouderdomme en klasse van pluimvee geformuleer kan word – selfs rekenaars word vir die doel gebruik. Graansoorte en hulle neweprodukte, soos mielies, graansorghum en koringsemels, is 'n waardevolle bron van koolhidrate. Geelmieliemeel is 'n gesogte graansoort in pluimveevoere omdat dit volop en betreklik goedkoop is en die meeste koolhidrate bevat.
Dit bevat ook pigmente wat die geel kleur aan die braaikuiken se vel en eiergeel gee. Proteïene is baie noodsaaklik vir eierproduksie, en voedsel wat ryk is hieraan, is onder meer vismeel en grondboon-, sonneblom- en katoensaadoliekoekmeel. Net soos by die mens, toon pluimvee duidelike afwykings indien daar 'n tekort aan vitamiene in die dieet is. 'n Tekort aan vitamien D veroorsaak ragitis, terwyl malkopsiekte of breinversagting deur 'n tekort aan vitamien E veroorsaak word.
Minerale is ook nodig in die dieet, terwyl skoon en vars water altyd beskikbaar moet wees. Omdat 'n hoender nie sweetgaatjies het nie, verdamp die water van die longe af, wat die belangrikste manier is waarop 'n hoender van die oortollige hitte ontslae kan raak. Deesdae word allerhande bymiddels in pluimveevoeding gebruik. Pluimveesiektes word op hierdie manier bekamp, terwyl die groei gestimuleer word deur onder andere antibiotika by die voeding te voeg.
Vir maksimale eierproduksie is dit noodsaaklik dat die hen daagliks voldoende nutriënte inneem sodat sy 'n eier van gewenste grootte kan produseer, asook in 'n goeie fisieke toestand kan bly sonder dat haar liggaamsmassa te veel toeneem. In die meeste gevalle presteer eierproduksielyne die beste op volvoeding deur die hele produksietyd. Vleistipe hoenders is meer geneig tot ooreet as die eiertipe hoenders, en daarom is dit dikwels nodig om die tipe henne se voerinname te beperk, selfs voordat topproduksie bereik is.
Die voeding van teelhenne verskil ietwat van die van henne wat vir kommersiële eierproduksie aangehou word, omdat meer van die noodsaaklike nutriënte nodig is as slegs vir die vorming van ʼn eier. Braaikuikens moet vinnig groei en ontwikkel en daarom moet die dieet voldoende, hoogs verteerbare en gebalanseerde hoeveelhede van al die voedingstowwe bevat. Braaikuikens kry van dagoud tot slagouderdom, wat reeds op 7 op 8 weke bereik word, soveel kos as wat hulle wil eet.
Daar word dikwels gevra hoeveel vordering gemaak is ten opsigte van pluimveeteling en of die huidige hoenders beter presteer as die van 'n aantal jare gelede. Die volgende voorbeelde verskaf ʼn duidelike antwoord: Gedurende 1923 het dit 16 weke geduur om 'n braaikuiken met 'n lewende massa van 1,0 kg te produseer. Vandag word 'n braaikuiken met ʼn massa van 2,3 kg in 7 weke geproduseer. In die geval van lêhenne was die vordering ewe merkwaardig. Waar die wilde-boshoender ongeveer 30 eiers per jaar lewer, lê die moderne hen gemiddeld 240 tot 280 eiers per jaar.
Sover bekend, is die eerste hen wat 200 eiers per jaar gelê het, in 1902 in Engeland geteel. In 1913 het “Lady Macduff” 303 eiers gelê en sodoende bewys dat ʼn hen wel meer as 300 eiers per jaar kan lê. In die VSA het 300-eier-henne algemeen begin word, en die standaard is verder verhoog toe ʼn gestreepte Plymouth Rock-hen in 1929 met 358 eiers per jaar te voorskyn gekom het. Kort op haar hakke in 1930 was ʼn Wit Leghorn-hen met 357 eiers.
Nog ʼn verbasende rekord is in 1945 in New York opgestel toe 13 Wit Leghorn-henne 'n gemiddelde produksie van 312,3 eiers per hen oor 'n tydperk van 51 weke gelewer het, waarvan 12 volwaardige susters was. In 1865 het die Oostenrykse monnik Gregor Mendel sy gevolgtrekkings gemaak nadat hy sy klassieke telingsproewe met ertjies gemaak het. In 1902 het William Bateson, wat hoenders geteel het, bewys dat die wette van oorerwing soos deur Mendel opgestel, ook op diere van toepassing is.
Verskeie teorieë oor oorerwing van eierproduksie is geboekstaaf, onder meer die teorieë van Pearl, Hurst en Goodhale Hays. Laasgenoemde teorieë bied vandag nog 'n grondslag vir die verbetering van eierproduksie en berus op die volgende faktore:
- Vroeë geslagsrypheid
- Hoë winterproduksie
- Geen onderbreking gedurende produksie
- Geen broeisheid
- Aanhoudende produksie in die herfs.
In sy soektog na 'n goeie praktiese teelmetode het Pearl gedurende 1898 tot 1907 elke jaar alleenlik sy hoogste produserende henne vir teeldoeleindes gebruik. Die henne is uitgesoek vir produksie, gesondheid en lewendigheid. Na 9 jaar se paringproefnemings op dié wyse het Pearl bevind dat geen verhoging in eierproduksie verkry kan word en die gemiddelde van die groep nie verhoog kan word deur elke jaar van die beste henne uit 'n groep hoenders te teel nie.
Die nageslag van die hoogste produserende henne uit die groep het ook geen beter nageslag gelewer as henne wat gewoonweg uit die groep gekies is nie. Toe Pearl en Surface (1909) ook vasgestel het dat die dogters van 200-eier-moeders niks meer eiers lê as die dogters van henne met 'n produksie van 150 tot 200 eiers nie, het Pearl geen voordeel in die seleksie van henne uit die groep gesien nie. Nieteenstaande die werk van Pearl, het James Dryden (1921) van die Oregon-proefstasie bewys dat eierproduksie nie alleen verhoog kan word deur parings uit die groep nie, maar dat die verhoging ook vinnig kan geskied.
Vir sy werk het hy drie rasse gebruik: Wit Leghorns, gestreepte Plymouth Rocks and Oregons. Volgens Dryden het dit geblyk dat parings uit die groep suksesvol is in 'n onverbeterde groep, maar dat die verbetering afneem namate 'n sekere hoogte van produksie bereik is. Enige kommersiële dier moet aan sekere markvereistes voldoen en die teler moet toesien dat die dier die genetiese vermoë het om daaraan te voldoen. In die geval van pluimvee word op die volgende gelet: groeitempo, wat veral by die braaikuiken belangrik en 'n hoogs oorerflike faktor is.
Die groeitempo word onder meer beïnvloed deur rasverskille, eiergrootte, geslagsverskille en basterkrag (heterose). Dit is 'n interessante verskynsel dat kruisgeteelde diere vinniger as een of albei van die ouers groei. Selfs die kleur van die vere is belangrik omdat hoenders met gekleurde vere onaantreklik vertoon wanneer hulle geslag word. Ander faktore wat in aanmerking geneem word, is die velkleur, veregroei en siekteweerstand. By lêhenne is vroeë geslagsrypheid belangrik - hoe gouer 'n hen hierdie stadium bereik, hoe meer eiers sal sy in haar lewe lê.
Omdat henne eiers in reekse met 'n kort rusperiode tussenin produseer, moet die rustyd so kort as moontlik gehou word vir goeie produksie, en dus moet daar ook hieraan aandag geskenk word. Faktore wat verder in ag geneem word by die teel van lêhenne, is volgehoue produksie, broeisheid (daar word streng hierteen geselekteer), eiergetalle, eiergrootte en dopkleur. Dit is dus uit voorafgaande duidelik dat daar 'n hele aantal eienskappe is waarvoor geselekteer moet word. Die teelsukses word bepaal deur die getalle waarmee gewerk word, die byhou van geskikte rekords, die korrekte interpretasie van die resultate, die seleksie van doeltreffende teelouers en baie geluk.
Vir die kunsmatige uitbroei van die eiers bestaan daar twee tipes masjiene: die stillugmasjien, wat gewoonlik 'n klein tipe masjien is waarin lugomruiling natuurlik geskied en die eiers met die hand omgedraai word, en die geforseerde-lugmasjien, wat toegerus is met waaiers vir lugomruiling. In laasgenoemde masjien word die eiers outomaties omgedraai. Daar is 4 faktore wat goeie broeiresultate beïnvloed, onder meer die korrekte posisie van die eiers. In stillugmasjiene word die eiers plat op die sy gepak en in geforseerdelugmasjiene met die breë punt na bo.
Gedurende die broeityd moet die eiers gereeld gedraai word ten einde te verhinder dat die ontwikkelende embrio aan die binneste dopvlies vasgroei en om die temperatuur aan alle kante van die eier dieselfde te hou. Temperatuur is die kritiekste faktor en het nie net 'n invloed op die uitbroeibaarheid nie, maar beïnvloed ook die lengte van die broeityd, embriogrootte en sterftes, die grootte en lewensvatbaarheid van die kuikens wat uitbroei, asook die persentasie gebreklike en swak kuikens.
Vir goeie resultate is die regte hoeveelheid vog in die masjien net so belangrik as die regte temperatuur. Die regte hoeveelheid vog bevorder kalkopname en 'n toename in die grootte van die embrio. Vogtigheid is ook belangrik wanneer die kuikens deur die dop begin pik. Net soos ander lewende organismes het die ontwikkelende embrio suurstof nodig vir ontwikkeling, terwyl koolsuurgas afgeskei word. Die broeimasjien het 'n dubbele funksie, naamlik suurstofvoorsiening en die wegvoering van koolsuurgas en ander skadelike gasse.
Sowat die helfte van die totale sterftes vind gedurende die laaste 3 tot 4 dae van die broeityd plaas, waarvan die 19de dag die kritiekste is. Dit is te wyte aan swak broeimasjienfaktore. Die tweede vernaamste kritieke tyd is van die 2de tot die 4de dag van uitbroei, wat veroorsaak word deur henne met 'n lae broeivermoë. Die derde kritieke tyd, hoewel nie so belangrik soos die eerste 2 nie, is tussen die 1ste en die 14de dag, wat veroorsaak word deur voedingstekorte in die rantsoen van die teelhoenders.
Ten einde die verwagte sukses vroegtydig te bepaal, is dit nodig om die eiers in verskillende stadia van die broeityd te toets. Vir die doel is die 7de en 18de dag van die broeityd die beste en 'n toetslamp word hiervoor gebruik. Hierdie toets kan aandui of die embrio's goed ontwikkel is en of dit reeds voor die 7de dag gesterf het. Tydsduur van broeitye van verskillende pluimvee:
Hoender – 21 dae
Eend – 28 dae
Kalkoen – 28 dae
Tarentaal – 26 – 28 dae
Fisant – 12 – 24 dae
Makou – 35 dae
Gans – 28 – 30 dae
Volstruis – 42 dae
Die uitskotlêhen en lêrashaantjies het tot in ongeveer 1950 die grondslag vir die pluimveebedryf gevorm, maar is geleidelik vervang deur spesiaal geteelde braaikuikens. Die braaikuikenbedryf in Suid-Afrika het 'n enorme omvang en sal in die toekoms waarskynlik nog belangriker word. Dit is goedkoper om braaikuikens te produseer, as volwasse slaghoenders, omdat die produksiekoste nog besonder laag is wanneer die braaikuiken op 7 tot 8 weke bemark word.
Twee belangrike faktore waaraan telers van braaikuikens moet aandag gee, is die groeitempo en bouvorm. 'n Voorbeeld van die vordering wat al in die verband gemaak is, is die feit dat daar in 1965 braaikuikens met 'n massa van 1,59 kg op die ouderdom van 9 weke bemark is. Vandag word braaikuikens op die ouderdom van 8 weke bemark met 'n massa van ongeveer 1,98 kg. Braaikuikens word deesdae hoofsaaklik geproduseer van die Wit Plymouth Rock en die Wit Cornish veghoender, of sinteses van die twee rasse.
Wat bouvorm betref, is die braaikuiken verbeter ten einde hulle by die behoefte aan te pas, met ander woorde die totale hoeveelheid eetbare vleis aan die karkas word verhoog. In sommige gevalle was die vordering op die gebied van voeding selfs vinniger as op die gebied van teel, omdat die voedingsbehoeftes aangepas moes word. Waar daar in 1951 4 kg voer nodig was vir die produksie van 1 kg lewende massa, was 2,05 kg in 1974 nodig om dieselfde hoeveelheid lewende massa te produseer.
Omdat voedingskoste die hoogste enkele koste-item is, moet elke braaikuikenprodusent daarna streef om die maksimum hoeveelheid vleis met die kleinste hoeveelheid kos te produseer. Op die ouderdom van 7 tot 8 weke is die kuikens slaggereed; hulle massa is dan ongeveer 2 kg. Alle braaikuikens wat as geslagte hoenders bemark word, moet volgens wet in 'n goedgekeurde slagplaas geslag word. Die slagproses geskied heeltemal meganies, met outomatiese masjiene.
Kuikens word onderstebo aan 'n vervoerband opgehang en hulle beweeg na 'n elektriese skokapparaat, waar hulle doodgeskok word. Die nekare word dan afgesny sodat die karkasse leegbloei, wat 1 ½ tot 2 minute duur. Nadat die kuikens vir 'n ½ tot 1 minuut in warm water gedompel is, beweeg hulle na die elektriese plukmasjiene wat die vere verwyder. Die braaikuikens word met 'n elektroniese apparaat getel en terselfdertyd geïnspekteer vir uitwendige abnormaliteite wat hulle vir menslike verbruik ongeskik maak.
Vervolgens word die ingewande verwyder en die eetbare en nie-eetbare binnegoed word geskei. Die nie-eetbare dele, bloed en vere word gebruik vir die vervaardiging van pluimvee-neweproduktemeel. Die karkasse word hierna in yswater gedompel om hulle teen uitdroging te beskerm en langer vars te hou. Na afkoeling word die karkasse op 'n drooglyn gehang en geïnspekteer. Aanvanklik is slaghoenders slegs as heel, vars karkasse bemark. Vandag het die verbruiker 'n keuse tussen vars en bevrore slaghoenders.
Braaikuikenporsies of snitte het in die laaste paar jaar besonder gewild geword. Pluimveevleis word slegs deur beesvleis oortref wat betref die verskaffing van vleis in Suid-Afrika.
Sover bekend, is die eerste eierlêtoets in 1879 in Engeland gehou. Pluimveeboere het in toenemende mate begin soek na inligting om te besluit watter rasse die meeste eiers gedurende die eerste seisoen van produksie sou lê. Die eerste eierlêtoets in Suid-Afrika is in 1906/07 deur die Westelike Provinsie se Landbouvereniging gereël. 'n Interessante feit is dat die Wit Leghorn koning gekraai het met die hoogste produksie van 223 eiers. Na hierdie poging het 2 departementeelbeheerde toetse in Potchefstroom (1914) en Cedara (1917/18) gevolg 'n Sentrale eierlêtoets by Glen in 1926 het vir 900 henne voorsiening gemaak.
Dit was egter duidelik dat die henne wat goed gevaar het in die prestasietoetse, nie altyd verteenwoordigend was van die betrokke teler se hele boerdery nie, en dat hulle nageslag dikwels nie aan die hoë verwagtings voldoen het nie. In 1951 is 'n nageslagtoets ingestel en in 1963 is die ewekansige monstereier-produksietoets by Glen ingestel en later ook 'n tweede by Irene. Na 1960 was dit duidelik dat suiwer rasse nie noodwendig die beste eierproduseerders was nie en is daar in die toetse ook voorsiening gemaak vir kruisgeteelde hoenders.
Heel gou het hierdie hoenders die toetse oorheers en die opreg-geteelde suiwer rasse het verdwyn. Die uitmuntende vordering in eierproduksie-potensiaal (van 'n gemiddelde 106 eiers per hen, gebaseer op die 1906/7-eierlêtoets in Kaapstad, tot 250 eiers in die 1978/80-toets by Irene) kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waarvan teling die belangrikste is. Dit was egter nie die enigste deurbraak nie. In al die voerberekenings sedert 1930 het voerkoste ongeveer 60% tot 80% van die totale koste uitgemaak.
Die feit dat die moderne lêhen dus baie minder kos verbruik om 'n dosyn eiers te produseer, was ook 'n geweldige deurbraak. In 1963 was daar in die Glen-toets 3,67 kg voer nodig om 1 kg eiers te produseer, terwyl die verhouding in dieselfde toets van 1977/79 slegs 2,67 tot 1 was. Telers se bydrae is egter aangevul deur ander tegnologiese deurbrake, soos die geslagsbepaling van kuikens waardeur die haantjies reeds in die vroegste stadium verwyder kan word. Siektebeheer en -bestryding en voedingsnavorsing het ook 'n belangrike bydrae gelewer sodat die hoenderhen optimaal gebruik kan word.
Voordat eiers verkoop word, word dit gesorteer en meganies gegradeer. Die gehalte word gereeld getoets deur middel van 'n toetstafel, waarvan die bokant 'n glasblad het, met 'n spieël aan die onderkant. 'n Eier word op die glasblad gebreek en die boonste en onderste gedeelte (deur middel van die spieël) van die eier word getoets vir onder meer bloedvlekkies. Die hoogte van die eiergeel en die eierwit word getoets vir fermheid. Hoe hoër die eiergeel en hoe fermer die eierwit, hoe beter is die gehalte.
Die dopkleur beïnvloed geensins die gehalte van 'n eier nie. 'n Ideale eier het 'n massa van tussen 56 en 60 g. Eiers word in toenemende mate vir nywerheidsgebruik aangewend, veral deur banketbakkers en lekkergoedvervaardigers. Hier word eierpap of eierpoeier meestal gebruik. Eiers word gebreek, soms gepasteuriseer en dan verkoel of bevries, en hierna na die verskillende fabrieke versend.
Eiers kan ook masjinaal geskei word en die dooiers (eiergeel) of die eierwit word dan verder verwerk en selfs droog gespuit. Ongeveer 10% van die totale produksie word na raming op dié manier gebruik.
Die Eierbeheerraad is in 1953 gestig met die hoofdoel om die eiernywerheid in Suid-Afrika te stabiliseer. Al die landbourade is egter sedert markmodernisering in die 1980's ontbind. Tans word wetlike aspekte deur die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye afgedwing.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Poultry. |