Pokke-epidemies

'n Man met pokke in die Verenigde State, 1912.

Pokke-epidemies het 'n permanente invloed op die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika sowel as Noord- en Suid-Amerika gehad.

In die wêreld

[wysig | wysig bron]

Teen 430 v.C. was Athene in 'n oorlog met Sparta gewikkel. Die hele bevolking van Attica het hulle vir veiligheid binne die stadsmure van Athene teruggetrek. Ongeveer 'n derde van die stadsbewoners sterf toe aan 'n siekte wat historici nou vermoed pokke was. Tydens die bewindstydperk van Marcus Aurelius as keiser van die Heilige Romeinse Ryk sterf daar in Europa, Wes-Asië en Noord-Afrika tussen die jare 165 en 180 vyf miljoen mense, ook waarskynlik aan die pokke. Tussen 255 en 266 n.C. was daar weer massa-sterftes in 'n pokke-epidemie in Europa. Sedert die Middeleeue en daarna het 'n enorme aantal mense in pokke-epidemies omgekom. Dit het 'n groot invloed op die wêreldgeskiedenis gehad. In die eerste twee eeue na die ontdekking van Amerika het baie mense daar gesterf weens siektes wat uit Europa gekom het en waarteen die plaaslike bevolking geen immuniteit gehad het nie. Hiervan was pokke die grootste oorsaak. Die groot ryke van die Asteke en die Inkas het daardeur ineengestort en dit vir die Spanjaarde maklik gemaak om Suid-Amerika te verower. Noord-Amerika is in die 1630’s, van 1720 tot 1790 en weer van 1831 tot 1838 deur verskeie epidemies geteister. Hierdeur is die Indiaanstamme so ernstig verswak dat die Europese koloniste hulle redelik maklik daar kon vestig. Dus moes slawe uit Afrika ingevoer word om in die plantasies te werk. Daarom is die bevolking van Noord-Amerika tans hoofsaaklik van Afrikaanse en Europese oorsprong. Australië is met pokke besmet in 1828–1829 en weer in 1857, Duitsland in 1870-71, Joego-Slawië in 1972 en Indië in 1974.

In Afrika

[wysig | wysig bron]

In Egipte is mummies aangetref wat toon dat daar reeds 'n 3 000 jaar gelede sterfgevalle weens pokkies voorgekom het. Ethiopiese troepe wat in ongeveer 568 n.C. in Saoedi-Arabië geveg het, het pokke na Afrika teruggeneem. Ook het Arabiese handelaars al in die 13de eeu pokkies na die hawens aan die ooskus van Afrika gebring. Vanaf die oos- sowel as die noordkus van Afrika het pokke langs die karavaanroetes deur die vasteland versprei. Die slawehandel het verder hiertoe bygedra. Kort na die Portugese vestiging in Angola in 1484 het pokke daar uitgebreek. In 1864 sterf 25 000 Angolese daaraan, d.w.s. 'n derde van die hele bevolking. Sekere dele langs die Kongorivier is geheel ontvolk gelaat. In Ethiopië en die Soedan het daar tussen 1811 en 1890 ses pokke-epidemies geheers.

In Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Pokke-epidemies in Suid-Afrika het plaasgevind in die jare 1713, 1755, 1767, 1807, 1812, 1839–1840, 1858, 1881, 1893 en 1949. Die Kaap het van die skepe vanaf die Ooste en Europa allerlei siektes en peste (soos pokke, skarlakenkoors, rotte en kakkerlakke) gekry. Pokke was endemies in die Ooste en dus het die VOC-retoervlote die siekte na die Kaap versprei. As daar pokke aan boord was, is die skip nie toegelaat om vas te meer nie. Dit moes voor anker gaan lê aan die windskadukant van Robbeneiland en is dan daar van vars voedsel en drinkwater voorsien. Offisiere moes sorg dat siekes se klere verbrand word of oorboord gegooi word. Hulle is verbied om hul klerasie en beddegoed aan land te laat was omdat pokke so aanvanklik aan die Kaap versprei is. Slawe was die eerste slagoffers en die siekte het vinnig na die binneland versprei. Opvallend was hoeveel minder sterfgevalle daar onder die blankes was wat in Europa gebore is as onder dié wat aan die Kaap gebore is. Laasgenoemdes het selde herstel. Die Khoikhoi het blykbaar geen natuurlike weerstand teen pokke gehad nie. Teen 1831 was 80% van die Griekwas deur pokke uitgewis. In 1840 het Kaapstad tot stilstand gekom toe 2 500 bruinmense aan pokke sterf.

Na die 1893-epidemie in Johannesburg is inenting daar verpligtend gemaak en is begin om entstof in Suid-Afrika (in Grahamstad) te maak. Die aantal sterfgevalle in Suid-Afrika was nie so hoog as elders in die wêreld nie, maar die persentasie van die bevolking wat gesterf het, was hoog.

  • 1713: Die eerste voorkoms van pokke in die land was op 18 April 1713 by die Slawelosie toe weens nalatigheid die bemanning van die retoervloot aan wal toegelaat is. Op een van die skepe het meer as die helfte van die matrose aan pokke gely. Die gevolg was 'n verwoestende epidemie. Alle huise is met die dood getref en daar was sekere dae twaalf begrafnisse. Kaapstad het soms tot stilstand gekom. Ongeveer die helfte van die VOC se slawe en 'n kwart van die blanke bevolking het gesterf. Die Khoikhoi was nie net baie vatbaar vir pokke weens die afwesigheid van 'n natuurlike immuniteit by hulle, maar ook weens hul lae vlakke van ontwikkeling en dat hulle geen kennis gehad het van 'n inheemse medisyn teen pokke nie. Alle Strandlopers is met hierdie epidemie uitgewis en teen 1726 was daar geen Khoikhoi-krale binne 300 km van Kaapstad oor nie.

Ná die ramp het boonop twee droogtejare en sewe met 'n ernstige veesiekte gevolg. Dus het verskeie stamme verbrokkel en ander was so uitgedun dat hulle nie meer weerstand teen hul tradisionele vyande kon bied nie. Onder andere het die bekende Hessequa as stam ophou bestaan. Weens hul afgesonderde leefplekke in die voetheuwels van die berge het die Boesmans hierdie epidemie blykbaar vrygespring.

  • 1755: Die retoervloot van Sri Lanka het onbewustelik besmette klere aan die Kapenaars verkoop. Dus sterf 2 000 mense binne 6 maande aan die Kaap. Slawe wat die vroeëre epidemie oorleef het, was nou immuun en het die siekes help versorg. Die Khoikhoi-gemeenskappe het weer swaar gely. Hul sosio-kulturele stelsel het in duie gestort. Veral in Swellendam was daar baie slagoffers en die siekte het tot by die Temboes in die Transkei versprei.
  • 1767: Die besmetting in hierdie jaar het gekom van die Deense skip De Kroonprinses van Denemarken. Ongeveer 440 slawe en 270 blankes sterf. Hierdie getalle kon baie hoër gewees het as die dokters nie reeds so goed voorberei was op moontlike epidemies nie. Arm-tot-arm-inentings is aangewend. In 1771 het goewerneur Joachim van Plettenberg besluit dat Robbeneiland as kwarantynstasie ingerig word. Slawe wat immuniteit opgebou het, sou die verpleërs wees. Tussen 1770 en 1791 was pokke 'n algemene siekte op die skepe van die VOC.
  • 1881: In hierdie jaar was daar so 'n hewige uitbraak dat die parlement van die Kaapkolonie inenting teen pokke verpligtend gemaak het. Die Maleiers het met hierdie epidemie baie gely, omdat hulle om godsdienstige redes inenting teengestaan het.

Gevolge

[wysig | wysig bron]

Die pokke-epidemies het die Khoikhoi byna uitgewis. Grootskaalse ondertrouery met die slawe het plaasgevind en daarna was hulle bloot 'n aanhangsel van die blanke samelewing. Hulle het meer en meer die blanke se kultuur en taal aangeneem. Om genoeg arbeiders te hê is die VOC gedwing om nog slawe uit Madagaskar in te voer. Omdat sekere groot dele van die binneland van die Kaapkolonie grotendeels ontvolk geraak het, was daar geen buffer meer wat die trekboere met hul vee se opmars noordwaarts gerem het nie.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]