Pous Clemens XI | |
---|---|
Geboortenaam | Gianfrancesco Albani |
Pontifikaat begin | 23 November 1700 |
Pontifikaat eindig | 19 Maart 1721 |
Voorganger | Innocentius XII |
Opvolger | Innocentius XIII |
Gebore | 23 Julie 1649 Urbino, Italië |
Sterf | 19 Maart 1721 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Clemens |
Clemens XI was die 243ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk vir 20 jaar, 3 maande en 25 dae, van 1700 tot 1721. Hy word veral onthou weens sy bul "Unigenitus" en sy betrokkenheid by die Spaanse suksessie-oorlog.
Pous Clemens XI[1][2] is gebore as Gianfrancesco Albani (ook Giovanni Francesco Albani) op 23 Julie 1649 in Urbino, Italië. Hy is van Albanese afkoms uit die omgewing van die Kurbini-meer. Sy voorouer Michel Laçi, het Albanië verlaat met sy twee seuns George en Philippe wat is die leër van Skanderbeg teen die Turke geveg het. Hulle vestig hulle in Urbino en neem die naam Albini aan. George het twee seuns, Altobelli en Hannibal. Op sy beurt het Altobelli ook twee seuns, Horatius en Charles. Horatius trek na Rome en word benoem as senator deur Pous Urbanus VIII. Charles was die pa van Gianfrancesco. Gianfrancesco word opgelei deur die Jesuïte in Rome. Hy was 'n briljante student en het onder die aandag gekom van koningin Christina van Swede. Op 28-jarige ouderdom word hy prefek van Rieti. Vervolgens kry hy poste in Sabina en Orvieto. By sy terugkeer na Rome word hy vikaris van die Sint Pieterskerk en sekretaris van pouslike briewe. Op 13 Februarie 1690 word hy kardinaal-diaken van Santa Maria in Aquiro, maar word eers priester in September 1700. Op 23 November 1700 volg hy Pous Innocentius XII op. Hy was nie 'n biskop nie en word op 30 November 1700 biskop gewy en op 8 Desember 1700 as pous gekroon deur kardinaal Benedetto Pamphili. Hy regeer tot sy dood op 19 Maart 1721 en word opgevolg deur Pous Innocentius XIII. Die naam ‘Clemens’ beteken 'sagmoedige'.
Na die dood van Pous Innocentius XII het die kardinale aanvanklik vir kardinaal Mariscotti verkies, maar Frankryk het sy veto gebruik. Die kardinale het toe kardinaal Albani verkies as Pous Clemens XI[3] Hy was 51 jaar oud. Sy pontifikaat is gekenmerk deur die Spaanse suksessie-oorlog. Karel V sterf tydens die konklaaf. Clemens steun aanvanklik Philippe V van Frankryk wat hom die gramskap van die Oostenrykers op die hals haal en ook probleme gee met investituur van die koninkryk van Napels en Sisilië. Die Oostenrykers onder leiding van keiser Joseph I, verower die noorde van Italië en die Franse kom nie die pous help nie. Hy word gedwing om Karel, aartshertog van Oostenryk as koning van Spanje te aanvaar op 15 Januarie 1709.
Clemens XI het twee bulle teen die Jansenisme uitgegee, "Vineam Domini" op 16 Julie 1705 en "Unigenitus" op 8 September 1713. Unigenitus het veral die Franse kerk getref omdat dit die 101 stellings van Quesnel as ketters veroordeel het. Hy het ook die fees van Maria se Onbevlekte Ontvangenis ingestel op 6 Desember 1708 en Pous Pius V heilig verklaar. In 'n brief van 23 April 1718 stig hy die pouslike akademie vir teologie in Rome.
Hoewel hy in Italië gebore is, het Clemens Albanië as sy vaderland beskou. Hy gee verskeie beurse aan Albanese om in Rome te kom studeer. Hy organiseer die konsilie van Merqine de Lezhe om die islamitiesering van sy land teen te werk. Hy het ook die beroemde "Illyricum Sacrum" laat opstel deur Daniele Farlati en Dom. Coletti. "Illyrium" was destyds die naam vir die Balkanstreek wat Albanië insluit. Dit is vandag nog een van die vernaamste bronne vir die studie van Albanië en omstreke.
Die familie Albani het uitgesterf in 1852 met die dood van prins Don Philippe, laaste seun van Horatius III.
Pous Clemens XI het 70 nuwe kardinale aangestel in 15 konsistories. Weens die omvang van die lys word dit hier gehou.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Clemens XI. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Innocentius XII |
Pous (Pontifex Maximus) 1700 – 1721 |
Opgevolg deur Innocentius XIII |
Basis URL: fr:Clément XI