Pous Gregorius II | |
---|---|
Geboortenaam | Gregorius Sabellus |
Pontifikaat begin | 19 Mei 715 |
Pontifikaat eindig | 11 Februarie 731 |
Voorganger | Konstantyn |
Opvolger | Gregorius III |
Gebore | 669 Rome, Italië |
Sterf | 11 Februarie 731 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Gregorius |
Gregorius II (ook Gregorius Junior genoem) was die 89ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk.
Pous Gregorius II die seun van Marcellus is gebore in 669 in Rome, Italië. Onder die pontifikaat van Pous Sergius I was hy pouslike bibliotekaris. Hy het sy voorganger vergesel na die konsilie van Konstantinopel. Op 19 Mei 715 volg hy Pous Konstantyn op en regeer tot sy dood op 11 Februarie 731. Hy was die eerste Romeinse pous na sewe opeenvolgende pouse van Griekse of Siriese afkoms. Hy word opgevolg deur Pous Gregorius III. Die naam ‘Gregorius’ beteken 'wagter'.
Tydens die pontifikaat van Gregorius II het die ikonoklasme in Bisantium gewoed. Keiser Leo III het alle beelde en afbeeldings van heiliges laat vernietig in 727. Gregorius het die nut daarvan nie ingesien nie en wou bowendien nie die magtige kloosters wat die beelde en afbeeldings besit het, nie kwaad maak nie en hy het dus nie gehoor gegee aan die keiser se oproep nie. Dit was die begin van die beweging van die pousdom om onafhanklik van die keiser te word. Hy het keiser Leo III ekskommunikeer.
Gregorius het die Lombarde afgekoop met dertig pond goud en homself toegespits op sendingaktiwiteite in die Noorde, veral in Friesland, Duitsland, Engeland en Ierland (toe nog Hibernië). Hy het Bonifatius na Friesland gestuur op 15 Mei 719 en hom as biskop aangestel op 30 November 722. Die ab Ceolfrid en koning Ina van Engeland en hertog Theodo I van Beiere het die pous besoek.
Gregorius is in die vyftiende eeu beskou as 'n voorsaat van die Savelli familie in Italië. Dieselfde is beweer van Pous Benedictus II. Die bewerings is egter nie betroubaar nie en daar is niks bekend oor die verwantskap tussen die twee pouse nie.
Pous Gregorius II word as heilige vereer in die Rooms-Katolieke Kerk. Sy feesdag is op 11, 12 of 28 Februarie.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Gregorius II. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia.
Voorafgegaan deur Konstantyn |
Pous (Pontifex Maximus) 715 – 731 |
Opgevolg deur Gregorius III |