Pous Gregorius XI | |
---|---|
Geboortenaam | Pierre Roger de Beaufort |
Pontifikaat begin | 30 Desember 1370 |
Pontifikaat eindig | 27 Maart 1378 |
Voorganger | Urbanus V |
Opvolger | Urbanus VI |
Gebore | 1329 Rosiers-d’Égletons, Frankryk |
Sterf | 27 Maart 1378 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Gregorius |
Vir die verkose (maar nie geproklameerde) Pous Gregorius XI sien Vicedomino de Vicedominis.
Gregorius XI was die 201ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1370 tot 1378. Hy is veral bekend omdat hy die pousdom weer na Rome gebring het. Tot 2009 is hy die laaste Franse Pous.
Pous Gregorius XI[1] is gebore as Pierre Roger de Beaufort in 1329 (BBKL) (die Catholic Encyclopedia gee 1331) in Rosiers-d’Égletons, Frankryk seun van Guillaume Roger, graaf van Beaufort en broer van Pous Clemens VI en sy vrou Marie de Chambon. Pierre het vyf broers, vyf susters en drie stiefbroers gehad. Op agttienjarige leeftyd op 28 Mei 1348 word hy deur sy oom Pous Clemens VI as kardinaal-diaken van St. Maria Nuova aangestel. Op 30 Desember 1370 volg hy Pous Urbanus V op. Hy word gekroon op 5 Januarie 1371 en regeer tot sy dood op 27 Maart 1378. Hy word opgevolg deur Pous Urbanus VI.
Die naam ‘Gregorius ’ beteken 'wagter'.
Pous Gregorius XI[2] het streng op getree teen verskeie ketterye wat in Duitsland, Engeland en ander dele van Europa uitgebreek het. Die negentien stellings van John Wycliffe en die dertien artikels van Sachsenspiel is formeel deur die pous veroordeel op 22 Mei 1377.
Sy pogings om te bemiddel in die oorlog tussen Frankryk en Engeland het niks opgelewer nie, maar het daarin geslaag om vrede in Kastilië, Aragon, Navarre, Sisilië en Napels te bewerkstellig.
Die konsentrasie van die pousdom in Avignon en die toenemende verankering van Franse belange het probleme in Italië tot gevolg gehad. Op 30 Mei 1371 stel die pous naas Robert van Genève (later Teenpous Clemens VII) nog nege ander Franse kardinale aan waaronder sy neef Jean de Cros. Op 20 Desember 1375 nog ses Franse waaronder 'n broerskind en 'n neef sowel as Petro Marinez de Luna y Gotor, die latere Teenpous Benedictus XIII.
Die Milanese vors Bernabò Visconti, die pous se groot teenstander het reeds in 1371 dele van die pouslike staat verower. Nadat onderhandelinge skipbreuk gely het, het die pous Bernabò geëkskommunikeer. Bernabò het oorlog teen die pous verklaar, maar nadat die pous die steun van die keiser, die koningin van Napels en die koning van Hongarye gekry het en die Engelse veldheer John Hawkwood in diens geneem het, het Bernabò gou verloor en is 'n wapenstilstand gesluit op 6 Junie 1374.
Op 17 Januarie 1377 keer die pous terug na Rome veral weens die ondersteuning van Catherine van Sienna, maar teen die raad van die meerderheid van die kardinale. Die terugkeer is vertraag weens die konflik met Florence. Die pous het Florence onder 'n interdik geplaas. Aanvanklik kon die pous nie in Rome bly nie en het sy intrek in Anagni geneem. Eers op 7 November 1377 het hy hom in Rome gevestig.
Gregorius het die terugkeer nie lank oorleef nie. Hy sterf op 27 Maart 1378 en die kardinale het, onder groot druk van die Romeinse volk 'n Italiaanse pous Urbanus VI verkies.
Die kardinale het gou in konflik gekom met die nuwe pous en na Avignon teruggekeer en Teenpous Clemens VII verkies. Dit was die begin van die Westerse Skisma wat sou duur tot die konsilie van Konstanz in 1418.
Pouse van die Westerse Skisma |
---|
Wikimedia Commons bevat media in verband met Gregorius XI. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Urbanus V |
Pous (Pontifex Maximus) 1370 – 1378 |
Opgevolg deur Urbanus VI |