Procyon AB | ||||
Die posisie van Procyon. | ||||
Sterrebeeld | Klein Hond | |||
Bayer-naam | α Canis Minoris | |||
Spektraaltipe | F5IV–V / DA | |||
Soort | Dubbelster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 07h 39m 18,1195s | |||
Deklinasie | +05° 13′ 29,9552″ | |||
Skynmagnitude (m) | 0,34 / 10,7 | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 1,42 / 0,6 | |||
Radius (R☉) | 2 / 0,01 | |||
Ligsterkte (L☉) | 6,93 / 0,00055 | |||
Ouderdom (jaar) | 3 miljard | |||
Temperatuur (K) | 6 530 / 7 740 | |||
Afstand (ligjaar) | 11,46 | |||
Eienskappe | ||||
Veelvoudigheid | Dubbelster | |||
Ander name | ||||
Elgomaisa, Algomeysa, Antecanis, 10 Canis Minoris, GCTP 1805.00, HR 2943, BD+05°1739, HD 61421, LHS 233, GJ 280, HIP 37279, SAO 115756[1] | ||||
|
Procyon (ook bekend as Alpha Canis Minoris of α CMi) is die helderste ster in die sterrebeeld Klein Hond (Canis Minor). Dit lyk met die blote oog soos ’n enkele ster, die sewende helderste ster aan die naghemel met ’n skynbare helderheid van 0,34,[2] maar dit is eintlik ’n dubbelster. Dit bestaan uit ’n wit hoofreeksster van spektraaltipe F5 IV–V met die naam Procyon A en ’n dowwe witdwergmetgesel van spektraaltipe DA met die naam Procyon B.
Die rede dat dit so helder is, is sy nabyheid aan die Son; dit is volgens die Europese Ruimteagentskap se Hipparcos-satelliet[3][4] 11,46 ligjare[5] van die Son af en is dus een van ons naaste buursterre. Die naaste ster aan hom is Luyten se Ster, sowat 1,12 ligjare weg.
Procyon A het ’n sterreklassifikasie van F5IV–V. Die oppervlaktemperatuur is sowat 6 530 kelvin[2] en daarom is dit ’n wit ster. Dit het ’n massa van 1,4 sonmassas, ’n radius van twee keer dié van die Son en ’n ligsterkte van 6,9 keer dié van die Son.[2][6] Dit is helder vir sy spektraalklas en dit dui daarop dat dit ’n subreus is wat byna al sy waterstof verbrand het.[2] Oor sowat 10 miljoen tot 100 miljoen jaar sou dit uitgedy het tot sowat 80 tot 150 keer sy huidige deursnee en sal dit ’n rooi of oranje kleur hê.
Procyon B is ’n witdwerg waarvan die bestaan reeds in 1844 voorspel is, lank voor dit in 1896 deur John Martin Schaeberle ontdek is.[7] Sy massa is 0,6 sonmassas en sy oppervlaktemperatuur 7 740 K. Die ster waaruit Procyon B ontstaan het, was sowat 2,5 sonmassas en dit het sowat 1,7 gigajaar gelede die einde van sy leeftyd bereik.[2]
Die gemiddelde afstand tussen die twee sterre is 15 AE, ’n bietjie minder as die afstand tussen die Son en Uranus.[8]
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Canis Minoris". Die naam "Procyon" kom van die Griekse Προκύων Prokyon, "voor die hond", omdat dit voor die "Hondster", Sirius, uitbeweeg vanweë die Aarde se rotasie.
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Procyon" vir die ster goedgekeur.[9]