Remco Wouter Campert is gebore in Den Haag[2] as die seun van die skrywer en digter Jan Campert,[3] skrywer van die gedig De achttien dooden, en die aktrise Joekie Broedelet. Sy ouers se paaie het geskei toe hy drie jaar oud was, wat daartoe gelei het dat hy soms, afhangende van die omstandighede, saam met een van sy ouers, en soms saam met sy grootouers gewoon het. Sy vader het in 1943 in die Neuengamme konsentrasiekamp beswyk. Remco het daarna saam met sy moeder gewoon. Hulle het in 1945, na die einde van die Tweede Wêreldoorlog na Amsterdam teruggekeer, nadat hulle die voorafgaande drie jaar in die dorpie Epe in Nederland gewoon het.
In Amsterdam het Remco sy sekondêre opvoeding aan die Amsterdamse Lyceum begin en soms artikels geskryf of strokiesprente geteken vir die skoolkoerant. Hy het weldra al hoe meer klasse begin oorslaan en sy tyd in bioskope, jazzklubs of kroeë verwyl. Hy het uiteindelik die skool verlaat sonder om te matrikuleer. Hy het saam met 'n skoolvriend, Rudy Kousbroek, die tydskrif Braak in Mei 1950 gestig. Tussen 1949 en 1952 het Remco strokiesprente vir die Nederlandse tydskrifte Mandrill en Het Parool geteken en in die 1970's vir die Haagse Post. In 1979 het hy strokieprente geteken vir NRC Handelsblad.[4]
Remco is in 1949 getroud met Freddie Rutgers, maar het vyf jaar later geskei. Om sy leefwyse te finansier het Remco kommersiële tekste of "jingles" geskryf en ook buitelandse literêre werke vertaal. Hy is later getroud met Fritzi ten Harmsen van der Beek (dogter van die strokiesprentkunstenaar Harmsen van der Beek) saam met wie hy tot 1957 gewoon het in Blaricum, toe hy terug is na Amsterdam. Hy het met sy tweede vrou geskei en in 1961 met Lucia van den Berg in die huwelik getree. Hulle het in 1964 na Antwerpen verhuis, maar Remco het twee jaar later na Amsterdam teruggekeer. Daar het hy die eienares van 'n kunsgalery (Deborah Wolf) ontmoet, saam met wie hy tot 1980 gewoon het.
Hy het hom meestal in die daaropvolgende jare stilgehou. Hy het sy situasie in 1994 soos volg beskryf tydens 'n onderhoud met Cees van Hoore van die koerant Nieuwsblad van het Noorden: "Ek verstik myself nie. Ek is my eie beste geselskap. Wanneer ek ook al saamleef met iemand anders, voel ek vir dae asof ek onderwater is. Om saam te wees is om tweemaal alleen te wees, en ek het dit nie nodig nie. Ek is meer as tevrede om gelukkig getroud te wees aan my loopbaan."
Teen die einde van die 1970's het hy baie min geskryf. Hy het aan die joernalis Jan Brokken van Haagse Post verduidelik: "Ek kon vir jare nie skryf nie. Ek het nie lus gevoel om te skryf nie. Ek het 'n fisieke viesheid teenoor skryf gevoel. Ek het daaroor gedink, maar ek was verlam deur twyfel."
In 1979 het hy met sy skryfwerk voortgegaan. Hy het Somberman se artikel in 1985 geskryf. Van 1989 tot 1995 het Remco in plaaslike- en oorsese teaters gespeel in 'n toneelstuk wat hy geskep het saam met Jan Mulder. In 1995 het hy sy blitsverkoper roman "Het leven is vurrukkulluk" op die radio voorgelees.
Nederlanders van die ouer generasies sal waarskynlik sy naam vereenselwig met "CaMu", die vennootskap tussen Remco Campert en Jan Mulder wat tussen 1995 en 2006 daaglikse voorbladrubrieke vir de Volkskrant geskryf het. Hierdie rubrieke is tradisioneel aan die einde van elke jaar gebundel in "CaMu ....: Het jaaroverzicht van Remco Campert en Jan Mulder".