| |||||
Volkslied: Ազատ ու Անկախ Արցախ (tr.: Azat u Ankakh Artsakh) (Armeens vir: "Vrye en onafhanklike Artsach") | |||||
Hoofstad | Stepanakert | ||||
Grootste stad | Stepanakert | ||||
Amptelike tale | Armeensa | ||||
Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek Samwel Sjahramanjan (laaste) Artur Harutjunjan (laaste) | ||||
Onafhanklikheid Onafhanklikheid
• Eerste Nagorno- Karabach-oorlog • Outonomie • Onafhanklikheid • Tweede Nagorno- Karabach-oorlog • Azerbeidjanse blokkering • Azerbeidjanse offensief • Oorgawe • Ingelyf by Azerbeidjan |
van die Sowjetunie 20 Februarie 1988– 12 Mei 1994 2 September 1991[1] 10 Desember 1991 27 September– 10 November 2020 12 Desember 2022 19–20 September 2023 28 September 2023 1 Januarie 2024 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
3 170[2] km2 1 220 myl2 feitlik geen | ||||
Bevolking - 2021-skatting - 2015-sensus - Digtheid |
120 000[3] (–) 145 053[4] / km2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2018-skatting $713 miljoen | ||||
Geldeenheid | Armeense dram (de facto)b (AMD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
MSK (UTC+4[5]) nie toegepas nie (UTC+4) | ||||
Internet-TLD | geene | ||||
Skakelkode | +374 47d | ||||
a. Die Grondwet waarborg "die vrye gebruik van andere tale deur die bevolking". b. Artsach dram verkoop as aandenkings. c. +374 97 vir selfone. d. .am is dikwels gebruik. |
Die Republiek Artsach (Armeens: Արցախի Հանրապետություն, Artsakhi Hanrapetut'jun[6]), tussen 1991 en 2017 Republiek Nagorno-Karabach (Armeens: Լեռնային Ղարաբաղի Հանրապետություն, Lernajin Gharabaghi Hanrapetut'jun), was 'n de facto-onafhanklike republiek in die suidelike Kaukasus-streek van Eurasië, wat internasionaal as deel van Azerbeidjan beskou is.[7] Artsach het die meeste van die voormalige Outonome Nagorno-Karabach-oblast se gebied en sommige van die omliggende gebied beher, waarvolgens dit aan Armenië in die weste en Iran in die suide gegrens het. Die hoofstad en grootste stad was Stepanakert.
In September 2023 het Azerbeidjan 'n nuwe offensief geloods teen die Republiek Artsach wat tot die ontbinding en inlywing van Artsach op 1 Januarie 2024 en die vlug van amper die hele etniese Armeense bevolking na Armenië gelei het.[8]
Armene beskou Artsach as die bakermat van hul beskawing. Hier is die Armeense alfabet as een van die oudstes ter wêreld ontwikkel en vir die eerste keer in 'n skool gebruik, hier het die eerste gedrukte dokumente en werke in Armeens ontstaan, en hier het die Armeense kultuur en beskawing reeds 'n bloeitydperk beleef toe die huidige hoofstad Jerewan en ander nedersettings in die huidige Republiek Armenië nog onbeduidende plekke was.[9]
Die republiek het die grootste deel beheer van die vroeëre Outonome Nagorno-Karabach-oblast en 'n aantal Azerbeidjanse distrikte wat aan Armenië in die weste en Iran in die suide grens en 'n landkorridor tussen Artsach en die Republiek Armenië gevorm het.[10]
Die gebied van Artsach, wat merendeels deur etniese Armene bewoon is, was 'n omstrede streek tussen Armenië en Azerbeidjan toe dié twee lande in 1918 van die Russiese Ryk onafhanklik geword het. Nadat die Sowjetunie in beheer van die gebied was, is in 1923 die Outonome Nagorno-Karabach-oblast gevorm wat in administratiewe opsig deel van die Azerbeidjanse SSR uitgemaak het.
Die etniese konflik tussen Armene en Azerbeidjanners het in die laaste jare van die Sowjetunie weer opgevlam en aanleiding tot die Eerste Nagorno-Karabach-oorlog gegee wat tussen 1991 en 1994 gevoer is.
Toe die Ontbinding van die Sowjetunie reeds aan die gang was, is op 10 Desember 1991 'n referendum in Nagorno-Karabach en die naburige Sjahoemian-streek gehou wat tot die onafhanklikheidsverklaring van die Republiek Nagorno-Karabach gelei het. Die republiek is nie deur enige lidstaat van die Verenigde Nasies amptelik erken nie, insluitende Armenië. Dit is egter deur drie nielidlande van die VN erken wat hulself eweneens eensydig onafhanklik verklaar het: Transnistrië, Suid-Ossetië en Abchasië.[11]
Van die 1994-wapenstilstand af was die grootste deel van Artsach en 'n aantal aangrensende Azerbeidjanse gebiede onder die gemeenskaplike militêre beheer van die Armeense weermag en dié van Artsach. Verteenwoordigers van die Armeense en Azerbeidjanse regerings het sedertdien aan vredesonderhandelinge deelgeneem wat deur die sogenaamde Minsk-groep van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa bemiddel is. Armeense onderhandelaars het hierby ook namens die Republiek Artsach opgetree.
Artsach het noue ekonomiese en politieke bande met Armenië gehandhaaf. Die Armeense dram was die wetlike betaalmiddel in die land, en wette, wat deur die Armeense parlement in Jerewan aanvaar word, is gewoonlik ook in Artsach oorgeneem.[12]
Vroeg in April 2016 het die konflik oor Artsach opnuut opgevlam. Volgens nuusberigte het die hewigste grofgeskutgevegte in dertig jaar gewoed waarin 18 Armeense en twaalf Azerbeidjanse soldate dood is. Een Azerbeidjanse helikopter is neergeskiet. Die Verenigde Nasies, die Verenigde State, Rusland en die Europese Unie het 'n beroep aan die twee konflikpartye gedoen om die gevegte te staak. Azerbeidjan het 'n eensydige skietstilstand afgekondig.[13][14]
Hernude botsings het op die oggend van 27 September 2020 langs die Nagorno-Karabach-kontaklyn begin. Ná 14 dae se konflik is 'n wapenstilstand aangekondig sonder om die duur daarvan te bepaal. Die partye het dit onderhandel ná 'n besoek aan Moskou waar die Armeense, Azerbeidjanse en Russiese ministers van Buitelandse Sake tien uur lank beraadslaag het. Die wapenstilstand het dit moontlik gemaak om krygsgevangenes en die lyke van die gesneuweldes uit te ruil. Die partye het ook onderneem om weer te begin onderhandel om hul territoriale geskil op te los.[15]
In September 2023 het Azerbeidjan 'n nuwe militêre offensief geloods. Die regering van Artsach het ingestem om sy troepe te ontwapen en in onderhandelinge met Azerbeidjan te tree, wat etniese Armene genoop het om uit die gebied te vlug. Op 28 September 2023 het die president van Artsach 'n dekree onderteken, waarvolgens die republiek se instellings teen 1 Januarie 2024 ontbind sou word,[16] hoewel die president later dié dekreet probeer nietig verklaar het.[17] Teen 1 Oktober 2023 het amper die hele bevolking na Armenië gevlug.[18]
Die tradisionele Armeense landsnaam Artsach is afgelei van die Urarteïese provinsie Artechini (of Urtechini). Die gebied van die latere Karabach het in die 8ste eeu v.C. onder Urarteïese heerskappy gestaan.
Latere Armeense benamings vir die gebied is Gardar, Chatsjenk (afgelei van Chatsjen, een van die vyf vorstedomme van Artsach), Klein-Sioenik (afgelei van die Oud-Armeense provinsie Sioenik in Suidoos-Armenië), en Sew Ajgi ("Swart Tuin"). Die laasgenoemde vorm ook die basis vir die Turks-Russiese toponiem Karabach (afgelei van Turks kara "swart" en bachtsje "tuin"; in Armeens uitgespreek as Rarabach) wat egter eers vanaf die 14de eeu geleidelik gebruiklik geword het en as leenvertaling van die Persiese naam Bach-i siah beskou word (in teenstelling tot die "Wit Tuin" of Bach-i safid waarmee na Neder-Karabakh verwys is). Die "Wit Tuin" kom ooreen met die Oud-Armeense grensprovinsie Utik. Nagorno is aan Russies ontleen en beteken "bergagtig".
Karabakh bestaan in geologiese opsig uit 'n vlakte met 'n sagte helling (Armeens Artsachi hartawajr – "Vlakte van Artsach"; Dasjtajin Arzach/Rarabach – "Neder-Karabach") en 'n bergagtige gedeelte (Lernajin Artsach/Rarabach – "Berg-" of "Bo-Karabach").
'n Armeense aardrykskundige werk uit die 7de eeu verwys na die provinsies Artsach en Utik in die uiterste noordooste van die Armeense gebied. Die Koera het destyds as grensrvier gedien, met Aran ('n gebied wat deur 'n Kaukasiese volk bewoon is) aan sy linkeroewer. Die Armene het hierdie gebied Arwank genoem, terwyl die Romeine daarna as Albania verwys het.
Toe die Perse in 428 die hele oostelike Kaukasus oorheers het, het hulle sowat een eeu lank Artsach, Utik en Albania as gemeenskaplike administratiewe eenheid saamgesmelt. In hierdie periode is Artsach-Utik dikwels met Albania verwar.
Die historiese Bo- of Berg-Karabach beslaan ongeveer 12 000 km² en is in teenstelling met ander streke in die Armeense Hoogland ryk aan water. Sy riviervalleie is bebos en het moontlik die aanleiding tot die benaming "Swart Tuin" gegee.
Terwyl die voormalige onafhanklike republiek dié naam gevoer het wat sedert die 19de eeu merendeels gebruik is, hou die Armeens-Apostoliese Kerk aan die tradisionele Armeense naam Artsach vas. In 2017 het die republiek egter 'n nuwe grondwet goedgekeur, waarvolgens die naam na Republiek Artsach verander is.[19]
Die Republiek Artsach is bergagtig met Mrav (3 540 meter bo seevlak) en Kirs (2 725 m) as sy hoogste bergpieke. Groot dele van die land word deur 'n plato met hellings in die ooste en suidooste beslaan. Die gemiddelde hoogte van die land is 1 097 m.
Terter en Chatsjen is die belangrikste riviere. Die meeste riviere vloei na die Artsach-vallei. Die grootste waterliggaam is die Sarsang-dam wat in 1976 hoofsaaklik vir besproeiingsdoeleindes opgerig is.
Artsach het 'n droë en gematigde subtropiese klimaat met 'n jaarlikse gemiddeld van 11 °C. Die koudste maand is Januarie met 'n gemiddeld van -1 °C, terwyl daar in Julie 'n gemiddeld van 22 °C gemeet word. Die hoogste somertemperature word in die laer geleë streke van Martoeni en Martakert gemeet. Jaarlikse neerslae beloop in sommige dele van die land meer as 700 mm per jaar, maar kan in droër streke soos vlaktes ietwat minder as 500 mm wees. Die meeste reën val tussen Mei en Junie. Mis kom op meer as 100 dae per jaar voor. Bergwinde waai orals in die land, terwyl swaar storms gewoonlik net in die lente en somer voorkom.
Meer as 'n derde van Artsach is bebos. Die land is die natuurlike habitat van meer as 2 000 plantspesies, waarby die plantegroei van tipiese halfwoestyn-spesies in die steppegebiede tot Alpynse en toendra-plante bo die boomgrens in die hooglande en berggebiede wissel.
Die Sarsang-waterkragsentrale by die gelyknamige dam met 'n kapasiteit van 50 MW was die belangrikste bron van energie in die Republiek Artsach. Hier word jaarliks tussen 90 en 100 miljoen kilowatt-ure krag opgewek. Danksy die voldoende plaaslike watervoorrade kan klein waterkragsentrales in feitlik elke streek van die voormalige republiek opgerig word.
'n Program vir die ontwikkeling van toekomstige energiebronne het voorsiening gemaak vir die bou van agttien kleiner waterkragsentrales met 'n totale kapasiteit van sowat 140 MW. Sodra hulle voltooi is, sal Artsach oor 'n maksimale opwekkingsvermoë van 460 miljoen kilowatt-ure beskik en moontlik ook elektrisiteit na die buiteland kan uitvoer.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Republiek Artsach. |