'n Requiem of requiemmis, ook bekend as 'n dodemis, die mis vir die dood (Latyn: missa pro defunctis ) of mis van die dood (Latyn: missa defunctorum ), is 'n Rooms-Katolieke mis wat vir 'n gestorwe persoon of persone gehou word volgens 'n spesifieke vorm van die Roomse misboek. Dit word gewoonlik tydens 'n begrafnis bedien, maar nie noodwendig nie.
Toonsettings van die Proprium van die requiemmis word ook requiems genoem. Die term word vandag ook op ander komposisies toegepas wat met die dood, sterfte of rou verband hou – selfs in gevalle waar dit nie godsdienstig of liturgies van aard is nie.
Die term word ook vir soortgelyke seremonies buite die Rooms-Katolieke Kerk gebruik, veral in die Anglo-Katolieke tradisie van Anglikaanse en sekere Lutherse kerke. 'n Vergelykbare diens, maar met 'n heeltemal verskillende ritueelvorm en -teks, bestaan ook in die Oos-Ortodokse en Oos-Katolieke Kerke, asook in die Metodiste Kerk.
Die mis en die toonsettings daarvan ontleen sy naam aan die introitus (inleiding) van die liturgie, wat met die woorde "Requiem aeternam dona eis, Domine" ("Gee aan hulle ewige rus, Here") begin. Die woord "Requiem" is die akkusatiewe enkelvoud van die Latynse naamwoord requies, wat "rus" beteken. Die Roomse misboek, wat in 1970 hersien is, gebruik hierdie frase as die eerste inleidingsantifoon in die formules vir dodemisse, en dit is vandag nog so van toepassing.
In vroeë vorms van die Roomse rite, waarvan sommige nog in gebruik is, verskil dié requiemmisse op verskillende wyses van die gewone requiemmis. Sommige dele van redelik onlangse oorsprong word weggelaat, insluitende dele wat reeds in die 1970-hersiening weggelaat is. Voorbeelde hiervan is die psalm Judica aan die begin van die mis – die gebed wat die priester sê voordat hy uit die Evangelie voorlees (of die diaken se seën, as 'n diaken uit die Evangelie voorlees) – en die eerste van die twee gebede wat die priester vir homself doen voordat hy nagmaal gebruik.[1] Ander weglatings sluit in die gebruik van wierook tydens die Introit (inleiding) en die voorlees uit die Evangelie, die vredesoen, brandende kerse wat deur akoliete gehou word wanneer 'n diaken die Evangelie verkondig, en saligsprekinge. Nóg die Gloria in excelsis Deo, nóg die Credo word ingesluit; die Alleluia-gelyksang wat gewoonlik voor die voorlees van die Evangelie kom, word vervang deur 'n traktus, soos tydens die Vastyd; en die Agnus Dei word verander deurdat die frase "dona nobis pacem" ("gee ons vrede") met "dona eis requiem sempiternam" ("gee aan hulle ewigdurende rus") vervang word. Die finale frase "Ite missa est" word vervang met "Requiescant in pas" ("mag hulle in vrede rus"); die antwoord hierop ("Deo gratias" – "Dank aan God") word vervang met "Amen". Hoewel swart die verpligte liturgiese kleur van die ampsgewade in die vroeëre vorms was, laat die nuwe liturgie buiten violet ook wit of swart gewade tydens begrafnisdienste en by ander offisies en misse vir die gestorwenes toe.[2] Die sekwent Dies irae, wat tussen die traktus en Evangelie voorgedra word, was voor die Novus Ordo-veranderinge 'n verpligte deel van die requiemmis. Soos die openingswoorde "Dies irae" ("dag van toorn") aandui, handel hierdie gedig in vreesaanjaende terme oor die opstandingsdag; dit smeek Jesus dan om genade. In die pre-Novus Ordo-vorm is kommemorasies (dus die voorgebed (collecta), gawegebed (secreta) en slotgebed (postcommunio) van minderwaardige liturgiese feeste wat op dieselfde dag as die votief- of seisoenmis plaasvind) nie in die liturgie aanwesig nie. afwesig van die liturgie; om hierdie rede is die standaardpraktyk 'n afsonderlike, kleiner requiemmis wat slegs die rubrieke en verskillende misformulariums vir dodemisse bevat, eerder as die volledige mis wat tekste bevat tekste wat in elk geval nooit tydens 'n requiemmis gebruik sou word nie.
Met die liturgiese hervormings (Novus Ordo, 1962–1965) in die Rooms-Katolieke Kerk ná die Tweede Vatikaanse Konsilie (ook bekend as Vatikaan II) het 'n beduidende verskuiwing in die begrafnisrites van die kerk plaasgevind. Die klem op droefheid en smart is vervang deur een wat ook die hele gemeenskap se aanbidding van God insluit en waarin die oorledene aan God se liefde toevertrou is, gebaseer op vertroue in die verlossingswaarde van die lyding, dood en die opstanding van Jesus Christus.
Die term "requiemmis" is dikwels vervang met die term "mis van die opstanding" of mis vir 'n Christelike begrafnis, hoewel eersgenoemde nooit deel van die amptelike terminologie was nie. In die amptelike Engelse ritueel, Order of Christian Funerals, wat in 1990 deur die Rooms-Katolieke biskoppe van Engeland en Wallis uitgegee is, word die benaming "begrafnismis" gebruik. "Requiemmis" bly egter 'n gepaste benaming vir ander dodemisse en vir die begrafnismis self, juis omdat die korrekte antifone steeds gebruik word, naamlik die Introit ("Requiem aeternam dona eis Domine", oftewel "Gee aan hulle ewige rus, Here"), die Offertorium ("Domine Jesu Christe, Rex gloriae, libera animas ... ", oftewel "Here Jesus Christus, Koning van heerlikheid, verlos die siele van ... ") en die Kommunie ("Lux aeterna luceat eis, Domine ... ", oftewel "Laat ewige lig op hulle skyn, Here"), hoewel die proprium nie gereeld gebruik word nie. In ooreenstemming met hierdie verskuiwing is die gebruik van swart ampsgewade opsioneel gemaak deur Vatikaan II (en het meestal teen die laat 20ste eeu – in die VSA ten minste – verdwyn, hoewel daar 'n herlewing in die gebruik van swart is), sodat wit die voorkeurkleur geword het (hoewel die gebruik van wit in sommige lande volgens pouslike vergunning geskied en nie deel is van die algemene runriek nie) as simbool van die vreugde van Paasfees, of pers, 'n meer gedempte kleur van rou. Die tekste wat tydens dié tipe dienste gebruik is, het 'n soortgelyke verandering ondergaan, met meer keuses vir voorlesings, waarvan sommige die oorhoofse tema van Jesus se belofte van 'n ewige lewe versterk.[3]
Die woord requiem word ook gebruik om enige gewyde komposisie te beskryf wat op godsdienstige tekste gebaseer is en by 'n begrafnis gepas sou wees, of om sulke komposisies vir liturgieë anders as die Rooms-Katolieke mis te beskryf. Van die vroegste voorbeelde van hierdie aard is die Duitse toonsettings wat in die 17de eeu deur Heinrich Schütz en Michael Praetorius, wie se komposisies Lutherse aanpassings van die Rooms-Katolieke requiem is, en wat besieling was vir Brahms se magtige Duitse requiem.[4]
Soortgelyke werke sluit in:
In die Oosters-Ortodokse en Grieks-Katolieke Kerke is die requiem die volledigste vorm van die gedenkdiens (Grieks: Parastas; Slawies: Оpеlо). Die normale gedenkdiens is 'n baie verkorte vorm van mette (oggendgebede), maar die requiem bevat al die psalms, voorlesings en lofsange wat normaalweg in die deurnaggebede (wat die kanonieke ure van vespers (nagtelike gebede), mette en priem (gebedstonde) kombineer) voorsien 'n volledige stel proprium vir die afgestorwene. Só 'n volledige requiem duur ongeveer drie en 'n half uur lank. In dié formaat verteenwoordig dit meer duidelik die oorspronklike konsep van parastas, wat letterlik beteken "om deur die nag te staan". Dikwels is daar 'n goddelike liturgie (Grieks: Θεία Λειτουργία) wat die volgende oggend gehou word met verdere propriums vir die afgestorwene.
Vanweë die enorme lengte daarvan word 'n volledige requiem selde uitgevoer. In ten minste die Russiese liturgiese tradisie sal 'n requiem egter dikwels op die vooraand voor die verheerliking (kanonisering) van 'n heilige gehou word, in 'n spesiale diens wat as die "laaste Panikhida" bekend staan.
Die Book of Common Prayer bevat geen requiemmis nie, maar in plek daarvan 'n diens wat as The order for the burial of the dead ("Die orde vir die begrafnis van 'n afgestorwene") bekend staan. Sedert die liturgiesehervormingsbeweging is daar voorsiening gemaak vir 'n eucharistie wat gebruik kan word tydens begrafnisse in die onderskeie weergawes van die Book of Common Prayer wat in die verskillende provinsies van die Anglikaanse Kerk gebruik word. Voor hierdie uitbreidings het Anglo-Katolieke of sogenaamde High Church-anglikane gereeld dele van die Rooms-Katolieke requiemmis as deel van die begrafnisdiens geïnkorporeer – tipies dele van die Ordinarium van die mis. In dié diens is daar verskeie tekste met rubrieke wat meld dat dit deur die priester of ander kerklike amptenaar voorgelees of voorgesing moet word. Die eerste paar van dié tekste word aan die begin van die diens aangetref, terwyl die res tydens die plasing van die liggaam in die graf voorgelees of voorgesing moet word. Die teks word tipies in sewe dele verdeel wat in geheel as die "begrafnisgebede" bekend staan. William Croft, Thomas Morley, Thomas Tomkins, Orlando Gibbons en Henry Purcell is 'n paar komponiste wat die Anglikaanse begrafnisdiens getoonset het. Die teks van dié sewe gebede lees soos volg in die Book of Common Prayers van 1662 (vry in Afrikaans vertaal):
Die requiemmis is bekend vir die groot aantal komposisies wat dit geïnspireer het, insluitend toonsettings deur Mozart (hoewel onvoltooid), Verdi, Berlioz, Dvořák, Fauré en Duruflé. Oorspronklik was sulke komposisies bedoel om met monofoniese sang tydens liturgiese dienste uitgevoer te word. Uiteindelik het die dramatiese aard van die teks komponiste tot só mate besiel dat dit die requiem tot 'n eie genre verhef het, en komposisies soos dié van Verdi is in wese konsert- eerder as liturgiese werke.
Verskeie tekste van die requiemmis is al getoonset, insluitend:
Vir baie eeue lank is requiemmisse op Gregoriaanse melodieë gesing. Die requiemmis van Johannes Ockeghem, wat iewers in die laaste helfte van die 15de eeu gekomponeer is, is die vroegste polifoniese toonsetting wat nog bestaan. Daar is ook 'n toonsetting deur die ouer komponis Dufay, moontlik selfs ouer, wat nou verlore is: Ockeghem s'n is moontlik daarop gebaseer.[5] Baie vroeë komposisies weerspieël die uiteenlopende tekste wat in verskillende liturgieë in Europa gebruik is voordat die Konsilie van Trent tekste vir liturgiese gebruik gestandaardiseer het. Die requiem van Brumel van om en by 1500 is die eerste wat die sekwent Dies Irae insluit. In vroeë polifoniese toonsettings van die requiemmis is daar beduidende tekstuurkontraste in die komposisies self: eenvoudige akkoord- of fauxbordon-agtige passasies word gekontrasteer teen ander gedeeltes van kontrapuntale kompleksiteit, soos in die Offertorium van Ockeghem se requiem.
Teen die 16de eeu het al hoe meer komponiste die requiemmis begin toonset. In teenstelling met toonsettings van die Ordinarium van die mis het baie komponiste vir dié toonsettings 'n cantus firmus-tegniek gebruik, 'n styl wat teen die middel van die eeu as taamlik argaïes beskou is. Boonop het hierdie komposisies minder struktuurkontraste gebruik as in die geval van vroeë toonsettings deur byvoorbeeld Ockeghem en Brumel. Die vokale toonsettings was dikwels egter veel ryker, byvoorbeeld die sesstemmige requiem van Jean Richafort wat hy het ná die dood van Josquin des Prez gekomponeer het.[5] Ander komponiste voor 1550 sluit in Pedro de Escobar, Antoine de Févin, Cristóbal Morales en Pierre de La Rue; die requiemmis van De la Rue is waarskynlik die tweede oudste ná die van Ockeghem.
Tot op hede is daar meer as 2 000 requiemmisse gekomponeer. Toonsettings uit die Renaissance – veral dié wat nie op die Iberiese Skiereiland gekomponeer is nie – kan a cappella uitgevoer word (dit wil sê sonder enige instrumente), terwyl komponiste van die begin van 1600 rond meer gereeld verkies het om instrumente te gebruik om die koor te begelei. Hulle het ook solosangers gebruik. Daar is groot variasie tussen komposisies wat betref die hoeveelheid liturgiese teks wat getoonset word.
Die meeste komponiste laat gedeeltes uit die liturgiese voorskrif weg, en meestal die trapgesang en traktus. Fauré laat die Dies irae weg, terwyl dieselfde teks dikwels in vorige eeue deur Franse komponiste as 'n selfstandige komposisie getoonset is.
Soms verdeel komponiste 'n enkele item van die liturgiese teks in twee of meer bewegings. Weens die lengte van die teks is die Dies irae-sekwent die gedeelte van die teks wat die meeste in kleiner dele verdeel word (soos byvoorbeeld in die geval van Mozart se requiemmis). Die Introïtus en Kyrie, wat in die egte Rooms-Katolieke liturgie direk op mekaar volg, word daarenteen dikwels as een beweging getoonset.
Daar kan ook musikotematiese verhoudings tussen bewegings binne 'n requiemmis aangetref word.
Aan die begin in die 18de eeu en deur die 19de eeu het verskeie komponiste requiemmisse gekomponeer wat as 't ware konsertwerke is. Dié werke is só groot in terme van die aantal musici of die tyd wat in beslag geneem word om die werke uit te voer dat dit nie geredelik in gewone begrafnisdienste gebruik kan word nie. Die requiemmisse van Gossec, Berlioz, Verdi en Dvořák is in wese dramatiese konsertoratoria. Teenreaksie op dié gebruik kom meestal van die Ceciliaanse beweging, wat eerder 'n besadigde begeleiding vir liturgiese musiek voorstaan, en die gebruik van operasoliste glad nie goedkeur nie.
Verskeie komponiste het requiems gekomponeer. Van die belangrikste is die volgende (in chronologiese volgorde):
In die 20ste eeu het die requiem in verskillende rigtings ontwikkel. Die genre van die oorlogsrequiem is miskien die opvallendste – komposisies in herinnering aan mense wat in die oorlog gesterf het. Dit bevat dikwels ekstraliturgiese gedigte van 'n pasifistiese of nieliturgiese aard. Die tweede requiem van Benjamin Britten jukstaponeer die Latynse teks met die poësie van Wilfred Owen; Krzysztof Penderecki se Poolse Requiem sluit 'n tradisionele Poolse lofsang by die volgorde in; Robert Steadman se Mass in Black kombineer omgewingspoësie en die profesieë van Nostradamus. Die Holocaustrequiem kan beskou word as 'n spesifieke subgroep van hierdie genre. Die Requiem Ebraico (Hebreeuse Requiem) van 1945 deur die Oostenryk-Amerikaanse komponis Eric Zeisl – 'n toonsetting van Psalm 92 wat hy ter herinnering aan sy vader en die ander ontelbare slagoffers van die Joodse tragedie in Europa opgedra het – word as die eerste groot werk van Holocaust-herdenking beskou. John Foulds se A World Requiem is geskryf in die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog en het tot die Royal British Legion se jaarlikse herdenkingsfees gelei. Onlangse werke van die Taiwanese komponiste Tyzen Hsiao en Ko Fan-long volg dié tradisie na en vereer die slagoffers van die 28 Februarie-slagting en die daaropvolgende Wit Terreur.
In die 20ste eeu is die sekulêre requiem ontwikkel, wat gekomponeer is vir openbare uitvoering sonder spesifieke godsdienstige voorskrifte, byvoorbeeld Max Reger se Requiem (1915) – 'n toonsetting van 'n Duitse gedig met die titel Requiem en wat aan slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog gewy is. Ander voorbeelde is Frederick Delius se Requiem, wat in 1916 voltooi is en aan gewy is aan die herinnering aan alle jong kunstenaars wat in die oorlog gesneuwel het;[6] Paul Hindemith se When Lilacs Last in the Dooryard Bloom'd: A Requiem for They We Love, waarvoor die opdrag in 1945 gegee is (die première was in 1946) ná die dood van Franklin Delano Roosevelt en wat op Walt Whitman se elegie gebaseer is (dis geskryf ná die dood van Abraham Lincoln); en Dmitry Kabalevsky se Requiem (op. 72; 1962), 'n toonsetting van 'n gedig spesiaal vir die werk deur Robert Rozhdestvensky geskryf is.[7]
Herbert Howells se onbegeleide Requiem gebruik Psalm 23 ("Die Here is my herder"), Psalm 121 ("Ek slaan my oë op"), "Salvator mundi" ("O Redder van die wêreld"), die Requiem aeternam-teks (twee verskillende toonsettings), en "I heard a voice from heaven". John Rutter kombineer in sy Requiem (1985) enkele dele van die Latynse requiemmis met twee volledige psalms (Psalm 130 ("Uit die dieptes") en sy vroeëre toonsetting van psalm 23 The Lord is my Shepherd) en jukstaponeer meer Bybelverse binne die Latynse bewegings.
Sommige komponiste het suiwer instrumentale werke gekomponeer wat hulle Requiem genoem het – hier dien die beroemde Sinfonia da Requiem van Britten as voorbeeld. Hans Werner Henze se Das Floß der Medusa, wat in 1968 as 'n requiem vir Che Guevara gekomponeer is, is streng gesproke 'n oratorium; Henze se Requiem is instrumenteel, maar behou die tradisionele Latynse titels vir die bewegings. Igor Stravinsky se Requiem Canticles meng instrumentale bewegings met dele van die Introïtus, die Dies irae-sekwent, Pie Jesu en Libera me. Christopher Wood se Requiem (in 2012 onder leiding van Paul Brough by Sint John's, Smith Square), is geïnspireer deur die openbare reaksie op die dood van koningin Elizabeth, die Koningin-Moeder, en keer terug na 'n meer tradisionele vorm wat feitlik die volledige Latynse teks van die Liber Usualis volg. In Februarie 2013 is 'n requiem van die komponis Rami Khalife wat deur die Arabiese lente- geïnspireer is deur die Katarrese Filharmoniese Orkes en die Leipzigse Radiokoor bekend gestel. Dit is uiters positief ontvang.