Die Romeinse vloot was tussen die Eerste Puniese Oorlog en die einde van die Wes-Romeinse Ryk aktief.
Die bemanning van 'n skip, ongeag die grootte, het bekend gestaan 'n centuria en het dus onder die bevel van 'n centurio ('n Centurio of centurion was die hoogste offisiersrang wat deur mans van gewone afkoms bereik kon word.) gestaan. Baie offisiersposisies was gelykstaande aan dié van die gewone infanterie, maar daar was steeds 'n paar groot verskille. Die bevelvoerder van 'n Romeinse vlooteenheid (Classis)[1] het bekend gestaan as 'n Praefectus Classis, wat gelykstaande is aan 'n hedendaagse admiraal.
Enigeen wat ingeskryf was om op die Romeinse skepe te werk, ongeag sy taak, is as 'n soldaat beskou. Daarom het hulle ook ’n soldaatsalaris ontvang. Die nie-burgers wat ingeskryf het is as auxilia beskou en het dieselfde lone ontvang. Nadat hulle 20 jaar op die skepe gedien het, het hulle Romeinse burgerskap ontvang.
Die Romeinse vloot het uit verskillende soorte galeie bestaan. Daar is aanvanklik gedink dat die tipe skip 'n aanduiding gee van hoeveel rye roeiers daar aan elke kant was, maar dan sou 'n "quinquereem" bv. [2] feitlik onmoontlik gewees het om te bou. Daar heers steeds debat oor wat dit werklik beteken, aangesien die ou bronne min inligting daaroor verskaf.
Die twee grootste vlote was die Classis Misenensis by Misenum (naby Pompeii, waarvan Plinius eens praefectus was) en die Classis Ravennatis by Ravenna.
Voor die Eerste Puniese Oorlog kon die versameling bote onder Romeinse gesag kwalik 'n vloot genoem word. Die "vloot" het destyds net uit patrollieskepe bestaan. Toe hulle egter in 'n oorlog met die seevarende Karthagers betrokke geraak het, moes hulle 'n beter toegeruste vloot ontwikkel.
Die Kartaagse skepe was baie behendiger, en dus het die Romeine die corvus as teenvoeter onwikkel. Die corvus was 'n brug met 'n groot spykerhaak aan die onderkant, wat met 'n katrol op 'n vyandelike skip laat sak is. Die spykerhaak het verseker dat die skip stewig vasgeheg bly. Hierdie uitvinding het ook die voortreflike Romeinse infanterie toegelaat om vlootgevegte te wen. Die corvus is later deur die nou veel meer ervare Romeinse matrose as 'n onnodige risiko beskou en afgeskaf. Hulle het dit as ’n risiko beskou omdat die swaar plank 'n skip vinnig balans laat verloor het, en in sterk wind laat omslaan het. Uiteindelik kon Rome die vyande oor die see terugjaag na Kartago self, en sodoende die Eerste Puniese Oorlog beklink.
Aan die begin van die Tweede Puniese Oorlog het die grootste vlootmag by Rome gelê en nie meer by Kartage nie. As gevolg van hierdie feit kon die Karthagers nie meer seegevegte wen nie en moes hulle dus ander maniere vind om oorlog te voer. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die reis van Hannibal en sy olifante oor die Alpe.
In die Derde Puniese Oorlog het die Romeinse vloot ook die deurslag gegee.
Ná die beleg van Kartage in die laaste Puniese oorlog was daar geen vlootmag oor wat enigsins met dié van Rome kon meeding nie. Daarom is die Romeinse vlootmagte afgeskaal. Omdat daar min tot byna geen militêre skepe rondgevaar het nie, het dit 'n goue era vir seerowery geword. Hierdie seerowers het 'n ernstige bedreiging vir handelskepe ingehou, totdat Pompei in 67 v.C. die vloot herbou het en die seerowers byna heeltemal uitgewis het. Caesar het ook teen seerowers geveg voordat hy na Gallië is. Verder was die vloot natuurlik belangrik vir Caesar se troepevervoer na Groot-Brittanje.
Met die dood van Caesar en die daaropvolgende konflik oor wie absolute mag in die Romeinse Ryk sou hê, het vlootoorlogvoering selfs belangriker geword. Sextus Pompeius het byvoorbeeld verseker dat sy vlootmagte die uiters belangrike graanvoorraad van Sisilië na Rome versper het. Augustus (toe nog Octavianus) het met die hulp van Marcus Agrippa 'n vloot gebou en Sextus Pompeius tydens die Slag van Naulochus verslaan.
Etlike jare later, in wat waarskynlik die invloedrykste vlootgeveg vir die Romeine was, het Octavianus die gekombineerde magte van Marcus Antonius en Cleopatra ter see verslaan tydens die Slag van Actium.
Onder Augustus as keiser is die vloot gestuur om die Arabiese Skiereiland te verower, maar hierdie poging het misluk. Later het hy ook probeer om die grens in Germanië na die Elberivier te verskuif, hierin het hy wel geslaag.
Onder latere keisers het beheer oor die Germaanse riviere toenemend verlore gegaan en het die Romeine Brittanje toenemend in hul visier gehad.
In die 3de eeu n.C. het die Germane begin om hul eie vloot te bou en dele van die Romeinse Ryk te verower. Die feit dat die Germane herhaaldelik deur 'n taktiese fout in hul eie kamp gestuit is, eerder as deur weerstand van die Romeine, wys hoe vinnig die Ryk aan't verval was.
Teen die einde van die Westerse Ryk is die vloot hoofsaaklik gebruik om Romeinse burgers uit gevaarlike gebiede te ontruim.