Die Rotariër-beweging, ‘n internasionale vereniging van sake- en beroepslui, is die wêreld se grootste liefdadigheidsvereniging.
Die oogmerke van die organisasie is om hoë etiese standaarde en die beginsel van goeie diens in alle beroepe te bevorder, sake- en beroepsmoraal te verbeter en tot diens van die samelewing te wees. Ook die ondersteuning van die plaaslike ekonomie is van belang. Die organisasie streef na die opbou van welwillendhied en vrede op aarde tussen mense en state. Daarom is hul leuse “Diens bo eie belang”, met die betekenis dat selfsug ondergeskik is aan die belang van die gemeenskap. Klubs neem slegs deel aan aktiwiteite waarby die samelewing baat vind. In noodsituasies help die klubs selfs met die verskaffing van skoon drinkwater en die bestryding van siektes. In baie gevalle word plaaslike skole en bejaardetehuise ondersteun.
Dit is ‘n vereniging vir sakelui en mense wat die professies beoefen. Lidmaatskap is op uitnodiging en aanvanklik was dit beperk tot mans. Elke lid van ‘n klub verteenwoordig ‘n ander beroep. Dus het ‘n spesifieke klub as lede slegs een loodgieter, een prokureur, een boer, een motorwerktuigkundige, een chirurg, een meubelmaker, ens. Lidmaatskap is oop vir alle mense sonder om te let na opleidingsvlak, ras, religieuse en politieke oortuiging, velkleur, ens. Gewoonlik kom die klub weekliks vir ‘n middagete byeen waarna ‘n aktuele saak bespreek word. Vergaderings vind plaas tussen gelykes in ‘n gees van wedersydse vertroue. Dit is ‘n sekulêre organisasie en neem nie deel aan godsdienstige en politieke aktiwiteite nie. Wêreldwyd is daar ongeveer 1,2 miljoen Rotariërs en in Afrika bestaan daar sowat 1500 klubs. ‘n Lid van 'n klub het toegang tot alle ander klubs in die wêreld.
Die bekendste lewende lede is
Advokaat Paul P. Harris (1878-1947) het die eerste klub in 1905 in Chicago gestig. Kort daarna word ander klubs in die VSA gevestig. En dit is gevolg deur klubs in Groot-Brittanje. In 1910 ontwikkel die organisasie tot Rotary International.
In November 1920 het Rotary International die Amerikaners Edward C. Fisher en Perry J. Stevenson na Suid Afrika gestuur om die lewensvatbaarheid van ‘n klub hier te ondersoek. Hulle vergader hierna in Februarie 1921 met die Brit William Campbell en die Suid-Afrikaners C.F. Derham, Arthur Y. Smith en eerw. F. Harrison om die saak te bespreek. Op 1 Julie is die eerste klub in die land in Johannesburg formeel gestig met Hubert Hoskin as die eerste voorsitter.