Rudolf Clausius | |
---|---|
Gebore | |
Sterf | 24 Augustus 1888 (op 66) |
Nasionaliteit | Duits |
Bekend vir | Tweede wet van termodinamika Skepper van die begrip entropie Clausius-Mossotti verhouding Clausius-Clapeyron verhouding Clausius-stelling Clausius–Duhem ongelykheid Virial-stelling |
Handtekening | |
Rudolf Julius Emanuel Clausius (Duitse uitspraak: |ˈʁuːdɔlf ˈklaʊ̯zi̯ʊs;[1][2] 2 Januarie 1822 – 24 Augustus 1888) was 'n Duitse fisikus en wiskundige wat beskou word as een van die pioniere van die wetenskap van termodinamika.[3] Hy het deur sy hersamestelling van Sadi Carnot se beginsel, wat bekendstaan as die Carnot-siklus, aan die teorie van hitte 'n meer grondige basis verleen. Sy belangrikste stuk, "Oor die Bewegende Krag van Hitte",[4] wat in 1850 gepubliseer is, het eerste die basiese idees van die Tweede wet van termodinamika gestel. In 1865 het hy die begrip van entropie bekendgestel. In 1870 het hy die virial-stelling bekendgestel wat van toepassing is op hitte.[5]
Clausius is in Köslin (die teenswoordige Koszalin in Pole) gebore in die Provinsie Pommerania in Pruise. Sy vader was 'n Protestantse predikant en skoolinspekteur, [6] en Rudolf het in die skool van sy vader studeer. Na 'n paar jaar is hy na die Gimnasium in Stettin (die teenswoordige Szczecin). Clausius het in 1844 aan die Universiteit van Berlyn gegradueer waar hy wiskunde en fisika studeer onder Gustav Magnus, Peter Gustav Lejeune Dirichlet en Jakob Steiner. Hy het ook geskiedenis studeer onder Leopold von Ranke. In 1847 het hy sy doktorsgraad aan die University van Halle behaal op die optiese effekte in die aarde se atmosfeer. Hy het daarna professor in fisika aan die Koninklike Artillerie- en Ingenieurskool van Berlyn en Privatdozent aan die Universiteit van Berlyn geword. In 1855 word hy professor aan die ETH Zürich, die Switserse Federale Tegniese Instituut van Tegnologie in Zürich, waar hy tot 1867 bly. Gedurende daardie jaar het hy na Würzburg aanbeweeg en twee jaar later, in 1869 na die Bonn.
In 1870 het Clausius aan bevel gestaan van 'n ambulanskorps tydens die Frans-Pruisiese Oorlog. Hy is gewond in die geveg, wat hom met 'n blywende gestremdheid gelaat het. Hy is met die Ysterkruis beloon vir sy dienste aan sy vaderland.
Sy vrou, Adelheid Rimpham, is in 1875 tydens 'n bevalling oorlede, en gevolglik moes hy self hul ses kinders grootmaak. Hy het voortgegaan om onderrig te gee, maar minder tyd gehad vir navorsing.
In 1886 het hy met Sophie Sack getrou en nog 'n kind gehad. Hy het twee jaar later, op 24 Augustus 1888, in Bonn, Duitsland, gesterf. [7]
Clausius se PhD verhandeling betreffende die refraksie van lig het voorgestel dat mens onder meer 'n blou lug tydens die dag en ook verskeie skakerings van rooi tydens die daeraad en sonsondergang waarneem as gevolg van die refleksie en refraksie van lig. Later sou Lord Rayleigh toon dat dit egter gebeur as gevolg van die verstrooiing van lig; nietemin het Clausius 'n veel meer wiskundige benadering geneem as wat sommiges sou neem.
Sy bekendste werk, Ueber die bewegende Kraft der Wärme ("Oor die bewegende krag van Hitte en die Wette van Hitte wat daaruit afgelei kan word")[8] is in 1850 gepubliseer, en handel oor die meganiese teorie van hitte. In die werk het hy getoon dat daar 'n teenstrydigheid was tussen Carnot se beginsel en die konsep van bewaring van energie. Clausius het die twee wette van termodinamika hersaamgestel ten einde hierdie teenstrydigheid te oorkom (die derde wet is ontwikkel deur Walther Nernst, gedurende die jare 1906–1912). Hierdie werk het hom onder wetenskaplikes bekend gemaak.
Clausius se bekendste verklaring betreffende die tweede wet van termodinamika is in 1854 in Duits gepubliseer,[9] en in Engels in 1856.[10]
Hitte kan nooit van 'n kouer na 'n warmer liggaam beweeg sonder dat daar terselfdertyd 'n ander verandering, wat daarmee verband hou, plaasvind nie.
Gedurende 1857 het Clausius 'n bydrae gelewer tot die kinetiese teorie na die verfyning van August Krönig se baie eenvoudige gas-kinetiese model om translasie-, rotasie- en vibrasie-molekulêre bewegings in te sluit. In dieselfde werk het hy die begrip Gemene gratis weg van 'n deeltjie bekendgestel. [11][12][13]
Clausius het die Clausius-Clapeyron-verhouding afgelei uit termodinamika. Hierdie verhouding, wat 'n manier is om die fase-oorgang tussen twee toestande van materie soos vaste stowwe en vloeistowwe te karakteriseer, is oorspronklik in 1834 ontwikkel deur Émile Clapeyron.
In 1865 het Clausius die eerste wiskundige weergawe van die begrip van entropie gegee, en ook die naam daarvan verskaf. [7] Clausius het die woord gekies want die betekenis (uit Grieks ἐν "en" "in" en "τροπή" "tropē" "transformasie") is "inhoud transformatief" of "transformasie inhoud" ("Verwandlungsinhalt").[4][14] Hy het die nou-vergete eenheid 'Clausius' (simbool: Cl) vir entropie gebruik.
Die 1865 referaat waarin hy die begrip entropie bekendgestel het eindig met die volgende opsomming van die eerste en tweede wette van termodinamika: [4]
Die energie van die heelal is konstant.
Die entropie van die heelal neig na 'n maksimum.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
Wikiquote het aanhalings in verband met Rudolf Clausius |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Rudolf Clausius. |