SMSS J031300.36-670839.3 | ||||
Die oudste bekende ster, SMSS J031300.36-670839.3, of SM0313. (Nasa/STScI). | ||||
Sterrebeeld | Suidelike Waterslang | |||
Spektraaltipe | Klas K | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 03h 13m 00,36s[1] | |||
Deklinasie | -67° 08′ 39,3″[1] | |||
Skynmagnitude (m) | 14,7[1] | |||
Besonderhede | ||||
Ouderdom (jaar) | 13,6 miljard | |||
Temperatuur (K) | 5 125[1] | |||
Afstand (ligjaar) | 6 000 | |||
Ander name | ||||
SM0313 | ||||
|
SMSS J031300.36-670839.3 (afgekort as SM0313[2]) is ’n ster in die Melkweg wat 6 000 ligjare van die Aarde af lê. Met ’n ouderdom van sowat 13,6 miljard jaar[3] is dit die oudste bekende ster in die heelal.[4][5][6]
Die ster het sowat 100 miljoen tot 200 miljoen jaar ná die Groot Knal ontstaan. Sy baie lae ysterinhoud (minder as ’n tien miljoenste van die Son s’n)[7] dui daarop dat dit ’n eerstegenerasie-populasie II-ster is wat gevorm is uit ’n gaswolk wat deur een van die heel eerste sterre voortgebring is.[5] SMSS J031300.36-670839.3 het ook veel meer koolstof as yster, meer as duisend keer soveel.[5] Benewens waterstof, wat in die Groot Knal gevorm is, bevat die ster ook magnesium en kalsium wat in ’n kleinerige supernova gevorm het.[7] Geen suurstof of stikstof is waargeneem nie.[1] Dit is ’n klas K-dwergster.[4]
Die ster is deur ’n span sterrekundiges onder leiding van die Australiese Nasionale Universiteit ontdek.[6] Die ontdekking is op 9 Februarie 2014 in die tydskrif Nature aangekondig.[1] Dit is ’n aanduiding dat die supernovas van eerstegenerasiesterre nie so kragtig was as wat eers geglo is nie.[5]