In die taalkunde is 'n samestelling of kompositum die vorming van ’n komplekse woord wat uit twee stamme bestaan. Die dele van samestellings in Afrikaans word in die reël vas geskryf.[1]
Die dele waaruit samestellings bestaan, kan tot verskillende woordsoorte behoort. Die volgende patrone word onderskei:
Kategorie | Voorbeelde |
---|---|
naamwoord + naamwoord (die kategorie wat verreweg die grootste groep samestellings in Afrikaans vorm) | arbeidswetgewing, blombedding, deurmat, reddingsboei, skroewedraaier |
naamwoord + voornaamwoord | Jan-hulle, oom-hulle |
naamwoord + setsel | bekaf, dagin en daguit, padlangs, raadop, pootuit, straataf |
naamwoord + werkwoord | asemskep, perdry, pretloop, ysskaats |
naamwoord + byvoeglike naamwoord | gebruikersvriendelik, hondsiek, kiemvry, vuurvas |
naamwoord + deelwoord | sneeubedek, uitkomsgebaseer/uitkomsgebaseerd |
werkwoord + werkwoord | brandmerk, hangsweef, stortreën |
werkwoord + byvoeglike naamwoord | kraakvars, stinkryk |
werkwoord + naamwoord | baaikostuum, eetgoed, gloeilamp, kookwater, smeerkaas |
byvoeglike naamwoord + naamwoord | blouaap, geelwortel, oukêrel (pa), stywepap |
byvoeglike naamwoord + byvoeglike naamwoord | blougroen, domastrant, ligblou |
byvoeglike naamwoord + werkwoord | blinkvryf, rofstoei |
bywoord / byvoeglike naamwoord + setsel | andersom, langsaan, regop, voluit, vooroor |
bywoord + werkwoord | binnekom, neerslaan, teregwys, wegspring |
setsel + werkwoord | aanbied, afdank, inteel, teenwerk |
setsel / bywoord + naamwoord | agterdeur, deurpad, voorarm |
telwoord + naamwoord | duisendpoot, tienkamp, tweegesig, vyftal |
bywoord + naamwoord | agterblad, bykos |
setsel + setsel | tussendeur |
Let wel:
Tesame met affikse, speel samestellings ’n groot rol wanneer dit kom by Afrikaanse woordvorming.[2]