Die sardynloop, ook genoem sardientjieloop, van Suider-Afrika vind gewoonlik jaarliks plaas vanaf Mei tot Julie wanneer miljarde sardientjies – of, meer spesifiek, die Suid-Afrikaanse sardyn (Sardinops sagax) – kuit skiet in die koel waters van die Agulhasbank en noordwaarts beweeg langs die ooskus van Suid-Afrika. Die groot getalle sardiens veroorsaak frenetiese vreetsessies onder roofvisse – en voëls langs die kuslyn.
Die loop, met miljoene individuele sardientjies, vind plaas wanneer 'n koue seestroom noordwaarts vloei van die Agulhasbank af in die rigting van Mosambiek, waar dit die kuslyn verlaat en verder ooswaarts beweeg in die Indiese Oseaan.
In terme van biomassa, word daar deur navorsers beraam dat die sardienloop kan meeding met Oos-Afrika se groot wildebeesmigrasie.[1] Daar is egter min bekend oor die sardienloop verskynsel. Dit word veronderstel dat die watertemperatuur onder 21 °C moet daal vir die migrasie om plaas te vind. In 2003 het die sardientjies vir die derde keer in 23 jaar nie geloop nie. Daarenteen het 2005 'n goeie lopie gehad, en in 2006 was die loop weer afwesig.[2]
Die sardynskole is dikwels meer as 7 km lank, 1.5 km breed en 30 meter diep en is duidelik sigbaar vanuit opsporingsvliegtuie of van die oppervlak.
Sardientjies groepeer saam wanneer hulle bedreig word. Hierdie instinktiewe gedrag is 'n verdedigingmeganisme aangesien individue makliker gevang en geëet word as groot groepe.
Die sardynloop is vanuit 'n ekologiese oogpunt steeds grootliks onverstaanbaar. Daar is verskeie hipoteses, sommige teenstrydig, wat probeer verduidelik hoekom en hoe die loop plaasvind.
'n Onlangse interpretasie van die oorsake[3] is dat die sardynloop waarskynlik (meeste jare, indien nie elke jaar nie) 'n seisoenale reproduktiewe migrasie is van 'n geneties kenmerkende sardyn subbevolking wat langs die kus beweeg van die oostelike Agulhasbank na die kus van KwaZulu-Natal.
Die migrasie is beperk tot die aanlandige waters as gevolg van die sardyne se voorkeur vir koeler water en die sterk, warm aflandige Agulhasstroom, wat in die teenoorgestelde rigting van die migrasie vloei; die loop is op sy sterkste net af van die vastelandsbank af.
Die teenwoordigheid van eiers teen die KwaZulu-Natalse kus dui daarop dat sardyne vir 'n paar maande daar bly, en hul terugkeermigrasie gedurende die laatwinter en begin van die lente is byna altyd onopmerklik, want dit gebeur waarskynlik op dieptes waar die water is koeler as op die oppervlak.
Sommige jare blyk daar nie 'n sardynloop te wees nie. Dit kan wees omdat dit nie waargeneem word deur kuswaarnemers nie, óf omdat dit regtig nie plaasvind nie, as gevolg van hoë watertemperature en/of ander hidrografiese hindernisse. Die migrasie kan ook verder en dieper aflandig plaasvind weens ongewone omstandighede.
Sommige oseanografiese veranderlikes is nuttig in die beskrywing van die toestande wat sardienteenwoordigheid beïnvloed.
Ander toestande wat verband hou met sardienteenwoordigheid is:[4]
Dolfyne (na raming tot soveel as 18 000 in getal), meestal die gewone dolfyn (Delphinus capensis), is grootliks verantwoordelik vir die aankeer van die sardientjies in groepe wat "aasballe" genoem word. Hierdie aasballe kan 10-20 meter groot wees in deursnee en uitbrei tot 'n diepte van 10 meter. Die aasballe se formasie is van korte duur en bestaan selde langer as 10 minute. Sodra die sardientjies bymekaargejaag is, slaan haaie (hoofsaaklik die bronshaai), voëls (soos die Kaapse malgas), en Bryde se walvisse munt uit die geleentheid.
Kaapse pelsrobbe volg die skole langs die Oos-Kaapse kuslyn so ver as Port St. Johns.
Die Kaapse malgas is die roofdierspesie wat ten nouste verband hou met sardynteenwoordigheid langs die Oos-Kaap en KwaZulu-Natalse kus en is die mees bruikbare aanduiding van die sardynloopaktiwiteit.
Haaie en groot roofvisse se teenwoordigheid word ook sterk geassosieer met sardynteenwoordigheid tydens die loop, maar omdat hul moeilik waargeneem word op die oppervlak, is hulle nie so nuttig as 'n voorspeller van sardynteenwoordigheid nie.
Die langslandige teenwoordigheid van gewone dolfyne langs die ooskus gedurende die winter, is beduidend van sardyne en gewone dolfyne kan beskou word as die derde mees bruikbare spesie vir voorspelling.
Die plaaslike stompneusdolfyn assosieer nie met die sardynloop nie, terwyl die migrerende dolfyne dit wel doen. Dit kan verklaar waarom die stompneusdolfyn minder geneig is om sardynteenwoordigheid te voorspel.[4]
Die onlangse belangstelling in die sardynloop het 'n beduidende impak op die plaaslike ekonomie. Internasionale en plaaslike duikers sluit aan by plaaslike toeroperateurs vir duikekspedisies. Sulke ekspedisies word onderneem vanaf verskeie Oos-Kaapse dorpe insluitend Oos-Londen, Port St. Johns en Port Elizabeth. Die loop het belangrik geword vir toerisme en word beskou as een van die belangrikste attraksies in KwaZulu-Natal gedurende die wintervakansie-tydperk. Beide plaaslike en internasionale toeriste word deur die skouspel aangetrek en kry geleentheid om deel te neem aan aktiwiteite soos duik-ekskursies en bootgebaseerde besigtigingstoere.
Die KwaZulu-Natalse Haaibestrydingsraad en East Coast Radio, fasiliteer 'n "sardienloopblitslyn", wat inligting verskaf oor die posisie en beweging van die sardynskole. Die inligting is ook op die internet beskikbaar.[5]
Die sardynloop ondersteun kleinskaalse, seisoensvissers wat met treknette van die strand af vang.
Die oudste bekende rekord van die loop is 'n vermelding in die Natal Mercury koerant van 4 Augustus 1853. Meer onlangs was dit die onderwerp van dokumentêre programme (bv. die BBC se Nature's Great Events) en in gedrukte populêre media (bv. National Geographic).[5]