Mzilikazi Khoemalo | |
---|---|
Koning van die Ndebele | |
Silkaats, stigter en koning van die Ndebele | |
Dinastie | Huis van Khoemalo |
Bewind | omstreeks 1823 – 1868 |
Kroning | omstreeks 1820 |
Volle naam | Mzilikazi Khoemalo |
Gebore | omstreeks 1790 |
Mkuze, Suid-Afrika | |
Gesterf | 9 September 1868 |
Matebeleland | |
Begrawe | 4 November 1868 |
Entoembane, Matobo-gebergte, Zimbabwe | |
Voorganger | geen |
Opvolger | Lobengoela |
Gade | Oemoaka en verskeie ander |
Kinders | Lobengoela (seun), Nkoeloemane (seun) |
Vader | Matsjobana kaMangete |
Moeder | Nompethoe kaZwide |
Silkaats (ong. 1790 tot ong. 9 September 1868), ook bekend as Mzilikazi, Oemsiligasi of Moselekatse, was die eerste koning van die Ndebele, wat by die binnelanders (Sothos ens.) as die maTebele bekend was.[1] Silkaats was die seun van Matsjobana, hoofman van die klein Khoemalo-stamgroep, wie se tuiste tussen die magsfere van die Ndwandwes en Mthetwas van Zoeloeland ingewig was. Silkaats het 'n antagonis van die Zoeloenasie geword, grootliks tot die mfecane bygedra, en het die politieke toneel in suider-Afrika herskik.
Matsjobana het in die Mkuze-omgewing van Zoeloeland gewoon, maar het in 'n skermutseling met 'n aanliggende stam, die Soeiti, gesneuwel. Silkaats se oupa, Zwide van die Ndwandwes, het hom in sy pa se plek as hoofman aangestel. Mettertyd het Silkaats egter besluit om sy stam aan die gesag van Shaka te onderwerp. Volgens Bryant is Matsjobana vermoor deur Zwide, sy skoonpa,[2] en het Silkaats dieselde lot gevrees. Nietemin het Zwide in 1819 die onderspit teen Shaka gedelf, en het uiteindelik na die verre noorde gevlug.
Silkaats het aan die boloop van die siKwebezirivier, aan die noordgrens van Shaka se grondgebied gewoon. Vanaf hierdie ligging moes hy as Shaka se onderhorige vir hom strooptogte uitvoer. In 1822 is hy onder meer na die Transvaalse hoëveld gestuur om die Sotho-hoofman Ranisi te plunder en onderwerp. Na hierdie strooptog het Silkaats egter van die beeste vir homself teruggehou. Toe Shaka daarvan verneem en hom inroep, het Silkaats besluit om hom te verset en het sy vrouevolk in die eNtoebeni-bos[3] versteek terwyl hy verdeeldheid gesaai en aanhangers gewerf het. 'n Impi van Shaka kon egter die vroue opspoor en uitmoor,[4] waarop die impi self deur Silkaats uitgewis is.
Toe Shaka omstreeks 1823/24 sy elite impi, die oeFasimba, teen Silkaats uitstuur, het Silkaats oor die Drakensberg gevlug met 'n paar duisend volgelinge wat die kern van sy toekomstige volk sou uitmaak. Sy trekroete het hom verby die huidige dorpe Vryheid en Ermelo geneem, waarna hy hom in die nabye van die hedendaagse Groblersdal vestig, waar hy die stat ekoePhoemoeleni, oftewel "Plek-van-rus" oprig. Teen 1825 het hy sy enKoengwini-hoofstat aan die Apiesrivier aangelê, benewens die enDinaneni- en enHlahlandlela-vestings (of -"iboetho") aan die bo- en laer-Krokodilrivier. In 1829/30 ontvang hy die eerste besoek van die sendeling Robert Moffat. Hy besoek ook die Vaalrivier, waar hy in konflikte met die Griekwas betrokke raak, wat onder leiding van Jan Bloem, Bêrends en andere strooptogte op sy vee uitvoer. In 1831 voer 'n mag van Griekwas, Korannas en Betsjoenas 'n rooftog op sy vee uit, maar 'n impi slaag daarin om hulle te oorval en grootliks uit te wis.
In die winters van 1830 en 1832 het impis van die nuwe Zoeloekoning Dingaan weer op die maTebele toegeslaan, en na skermutselings moes hulle nogmaals weswaarts uitwyk. Die hoofstat Mosega (oftewel Motsenjateng)[5] van die Tswana-sprekende Hoeroetsje-nasie is ingeneem, en hul hoofmanne Mokgathle en Moiloa II is verdryf. Mosega word dan Silkaats se suidelike vesting, benewens 'n vesting by Tsjwenjane.[6] Meeste stamme tussen die Oranje- en Limpoporivier is nou deur hom verdryf of uitgedelg. Jongmense is as slawe geneem, en bejaardes en babas is uitgemoor.
Sowat 45 myl benoorde van Mosega aan die Groot-maricorivier het Silkaats sy omvangryke koningstat opgerig, en dit eGabeni[7] genoem. Dit het ook as Kapain, Kapajien of Kopanjeng bekend gestaan. Hier het hy die jagter-reisiger William Cornwallis Harris as gas ontvang, en hy sou 'n toenemend hegte vriendskap met die sendeling Robert Moffat aanknoop. Enige besoeker aan sy ryk moes hom dan via Kuruman en Mosega nader, sodat hulle eers deur Moffat gekeur kon word. Silkaats het aan die sendelinge in Mosega genoem dat hy graag onderwysers, skole en 'n kerk wou hê, maar sy verklarings is weens sy despotiese geaardheid met omsigtigheid bejeën.
Moffat het die wreedhede en magsug van die maTebele as volg uitgedruk: "Vir die maTebele het dit nie bloot gegaan oor verkryging van beeste nie, maar niks minder as algehele onderwerping en uitdelging van verowerdes kon hul magsug versadig nie. Wanneer hulle dan 'n stat oorrompel het, is die skare verskrikte inwoners na die buitewyke uitgejaag, waar al die ouers en getroude vroue sonder omhaal om die lewe gebring is. Vir diesulkes wat hul stat heldhaftig verdedig het, en hul vroue en kinders, was 'n groter verskrikking beskore. Droë gras wat in vet geweek is, is om hul naakte liggame gedraai en aan die brand gesteek. Jeugdiges en meisies is as buit saam met die beeste aangemarsjeer na die tuistes van hul oorwinnaars. Wanneer die stat afgeleë was, is die hulpelose babas agtergelaat om van honger om te kom, of deur wilde diere verslind te word. ... 'n Wolk aasvoëls het neergedaal op die lewendes en dooies om fees te vier op mensevlees. Sou die suspisie ontstaan dat die hulpelose onskuldiges deur vriende gered kon word, is hulle in 'n kraal bymekaargemaak, waar struikbos oor hulle gegooi is en aan die brand gesteek is, sodat die stat wat tot onlangs 'n plek van blydskap was, in 'n hoop as omskep is." Moffat het Silkaats gewaarsku oor die gevolge van voortgehoue oorlogvoering, maar Silkaats se antwoord was bloot: "Bid tot jou God om my uit die hande van Dingaan te hou."
In 1836 het Hendrik Potgieter se trek by die Vaalrivier aangekom, en die trekkerfamilies het in los groepe uitgespan, terwyl 'n verkenningskommando die gebied oor die rivier verken het. Die Erasmus-party se geweerskote op 'n jagtog het skynbaar die aandag van 'n impi van Silkaats, sowat 600 sterk, gewek en hul laer is aangeval en uitgewis. Terugkerende manskappe het te perd ontsnap om die Steyn- en Bothagesinne te waarsku sodat hul laers betyds gevorm kon word om die aanslag af te slaan. Die Liebenberg-laer is egter uitgewis en twee meisies en 'n seun is na Silkaats weggevoer, om nooit weer gesien te word nie.[8] Die oorblywende trekkers het 'n laer by Vegkop gevorm, waar die aanslag van 'n groot impi afgeweer is, alhoewel hulle al hul vee en trekbeeste aan die maTebele moes afstaan. Moontlik ⅓ van Silkaats se impi het nie teruggekeer nie, en die Zoeloes het die geleentheid benut om ook 'n aanval op Silkaats te loods.
Op 17 Januarie 1837 is eers Mosega deur die strafkommando van Potgieter en Maritz vernietig,[9] en sowat 6 000 beeste is teruggewin. In totaal is 15 of 16 nedersettings vernietig en meer as 1 000 van Silkaats se keurtroepe het gesneuwel. Die sendelinge aldaar het besluit om onder begeleiding van die boere na Natal terug te keer. Dit is opgevolg deur 'n stryd van 9 dae vanaf 4 November 1837 waarin eGabeni deur o.m. Potgieter en Uys vernietig is. Die Maricogebied is nou deur die maTebele ontruim via die Dwarsbergpasse, en in 1838 het sowat 15 000 maTebele oor die Limpoporivier getrek, waarna hulle in twee groepe verdeel het. Silkaats het hom in Betsjoeanaland gevestig en 'n groepering onder sy seun Nkoeloemane ("Koeroeman")[10] het hulle in die Matobo-heuwels gevestig. Die indoenas van Nkoeloemane, insluitend Silkaats se oom Gondwanda, was onder die indruk dat Silkaats gesterf het, en het Nkoeloemane by Ntabazindoena as koning gehuldig. Nkoeloemane (c.1828 gebore) was Silkaats se seun by Oemoaka, 'n seniorvrou van suiwer Zoeloe-afkoms, en is in 1848 deur Silkaats as sy opvolger aangewys.
Toe Silkaats egter weer sy opwagting maak is hierdie indoenas terreggestel. Nkoeloemane het op hierdie stadium verdwyn en sy lot is onbekend en bestrede. Silkaats het hom by die nuwe Mhlahlandlela-stat in die Matopo-heuwels gevestig, en sy gesag oor 'n groot gebied uitgebrei. Hy het die Mashona feitlik geheel en al aan hom onderwerp. Mashonaland was nie vir wit besoekers toeganklik nie, aangesien Silkaats dit as sy private bron van beeste en slawe gesien het. Net voor sy afsterwe vergun hy egter vir Westbeech en Philips om 'n strooptog saam met Lobengoela langs die Mazoerivier ("Mazare") mee te maak, waartydens die Mashona-hoofman Watah aangeval is.
Silkaats se gesondheid het in sy laaste twee jaar gekwyn, waartydens hy in 'n ossewa geleef het waarvan die staanplek gereeld verskuif is. Hy het op 6/12 September 1868 by Ingama-stat, sowat 50 myl suid van die huidige Bulawayo gesterf, en sy oorskot is by Entoembane, in die noordelike Matobos te aarde bestel. Die stamhoofde het nou 'n bejaarde indoena, Mncoembatha Khoemalo ("Nombate"), as regent aangewys. Aangesien Nkoeloemane verdwyn het, het Nombate op 24 Januarie 1870 vir Lobengoela, 'n ander seun van Silkaats, as koning uitgeroep. Lobengoela het volgens volksgebruik 'n nuwe hoofstat begin, naamlik Gibixhegoe, wat hy later kwaBoelawajo of "Plek-van-die-vervolgde" sou noem. Hy moes egter eers 'n faksie van Nkoeloemane, naamlik kaptein Mbigo van die Zwangendaba-regiment ondersit, voor hy onbestrede kon regeer.