'n Skildmaagd (Oudnoors: skjaldmær) was 'n vroulike vegter uit die Noorse en Skandinawiese mitologie. Hulle word dikwels genoem in sagas soos Hervarar saga ok Heiðreks en in Gesta Danorum. Hulle kom ook voor in verhale van ander Germaanse volke, soos die Gote.[1] Die mitiese Walkures kan op sulke skildmaagde geskoei wees.[1]
Daar is al debatte gevoer oor die historiese bestaan al dan nie van skildmaagde. Volgens die mees onlangse geskrifte het hulle wel bestaan.[2][3] Ander geleerdes, soos professor Judith Jesch, meen daar is 'n gebrek aan bewyse vir opgeleide of gereelde vroulike vegters.[4]
Daar is historiese bewyse dat vroue uit die Wikingtydperk aan oorloë deelgeneem het. Die Bisantynse historikus John Skylitzes het berig vroue het geveg toe Swjatoslaf I van Kiëf die Bisantyne in 971 in Bulgarye aangeval het.[5] Toe die Warangiërs 'n groot nederlaag gely het in die Slag van Dorostolon, was die oorwinnaars verstom toe hulle vroue onder die gesneuwelde vegters kry.[5]
Toe Leif Erikson se swanger halfsuster Freydís Eiríksdóttir in Winland was, het sy na berig word 'n swaard opgeneem en aanvallende magte kaalbors verjaag.[5] Daar word van die geveg vertel in die Groenlandse Saga, wat nie eksplisiet na Freydís as 'n skildmaagd verwys nie.[6]
Saxo Grammaticus het berig dat skildmaagde in die jaar 750 aan die kant van die Dene geveg het in die Slag van Brávellir.[7]