Solomens
| |
Algemene naam | Solomens |
---|---|
Spesie | Homo erectus soloensis |
Ouderdom | 108 000 tot 117 000 jaar |
Plek ontdek | Solorivier, Java, Indonesië |
Datum ontdek | 1931-'33 |
Ontdek deur | Willem Oppenoorth Carel ter Haar Gustav von Koenigswald |
Die Solomens of Solo-mens (Homo erectus soloensis) is 'n subspesies van H. erectus wat sowat 117 000 tot 108 000 jaar gelede,[1] in die laat Pleistoseen, aan die Solorivier in Java, Indonesië, gewoon het. Dié bevolking is die laaste bekende rekord van die spesie. Dit is bekend van 14 skedeldakke, tibias en 'n stuk van die bekken wat naby die dorp Ngandong ontdek is, asook moontlik drie skedels van Sambungmacan en 'n skedel van Ngawi, na gelang van klassifikasie.[2]
Die Ngandong-terrein, wat sowat 40 m bo die seevlak is,[3] is van 1931 tot 1933 die eerste keer uitgegrawe onder leiding van Willem Oppenoorth, Carel ter Haar en Gustav von Koenigswald, maar verdere navorsing is in die wiele gery deur die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog en die Indonesiese Onafhanklikheidsoorlog. In ooreenstemming met historiese rassebegrippe, is dié Indonesiese subspesie van H. erectus oorspronklik geklassifiseer as die direkte voorouers van die Australiese Aborigines. Daar word egter nou geglo die Solomens het geen lewende nakomelinge gehad nie, want die oorblyfsels is veel ouer as die moderne mens se migrasie na die gebied, wat rofweg 55 000 tot 50 000 jaar gelede begin het.
Die Solomens se skedel is ovaalvormig van bo af gesien, met swaar wenkbroue, hoë wangbene en 'n prominente staaf van been wat om die rug gedraai is. Die breinvolume was nogal groot en het gewissel van 1 013 tot 1 251 cm3, in vergelyking met dié van 'n moderne man van 1 270 cm3 en 'n moderne vrou van 1 130 cm3. Een potensiële vroulike lid van die subspesie was dalk 158 cm lank en het moontlik 51 kg geweeg. Mans was waarskynlik baie groter as vroue. Die Solomens stem in baie opsigte ooreen met die Javamens (H. e. erectus) wat vroeër op Java gewoon het,[4] maar was veel minder argaïes.