Kaart | Vlag |
Wapen | |
Land | Azerbeidjan |
Koördinate | 39°48′N 46°45′O / 39.800°N 46.750°O |
Gestig in die | 18de eeu |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 25,66 vk km |
Hoogte bo seevlak | 813 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2010) | 53 000 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 065,5/km² |
Tydsone | UTC +04:00 |
Burgemeester | Souren Grigoryan |
Stepanakert of Chankendi (Armeens: Ստեփանակերտ, Azerbeidjans: Xankəndi, Russies: Степанакерт of Ханкенди) was die hoofstad van die Republiek Artsach, 'n de facto-onafhanklike republiek tussen Armenië en Azerbeidjan wat die meeste nasiestate as deel van Azerbeidjan beskou. Die stad het in 2010 53 000 oorwegend Armeense inwoners gehad.
Volgens Middeleeuse Armeense bronne is na die nedersetting oorspronklik as Vararakn (Վարարակն) verwys totdat die naam in 1847 na Khankendi gewysig is.[1] Azerbeidjanse bronne beweer dat die nedersetting eers in die 18de eeu deur 'n Karabach-khan gestig is en dus Khankendi genoem is ('n Turkse naam wat as "die khan se dorp" vertaal kan word).
Ná die Russiese Oktoberrevolusie is 'n nuwe stad gestig wat deur die Sowjetregering in 1923 Stepanakert genoem is – ter ere van Stepan Shahumyan, 'n Armeense kommunis en leier van die sogenaamde "26 kommissars van Bakoe" wat in 1918 in die Azerbeidjanse hoofstad Bakoe deur Britse soldate doodgeskiet is.[2]
Nadat die vroeëre hoofstad van die Outonome Oblast Nagorno-Karabach, Şuşa, gedurende die sogenaamde Şuşa-pogrom verwoes is, het Stepanakert die funksie van administratiewe setel vervul en tot die gebied se belangrikste stad gegroei. Die bevolking het van 10 459 in 1939 meer as verdriedubbel tot 33 000 in 1978.
In 1926 het die plaaslike regering die stadsuitleg van Stepanakert volgens 'n ontwerp van die bekende Armeense argitek Alexander Tamanian verbeter. Twee bykomende ontwerpe vir die uitbreiding van die stad, wat Tamanian se oorspronklike ontwerp behou het, is in die 1930's en 1960's goedgekeur.
'n Aantal skole en twee "poliklinieke" is gebou, en in 1932 is 'n Armeense Dramatiese Skouburg in die lewe geroep wat na Maxim Gorki vernoem is. Stepanakert het tot Nagorno-Karabach se industriële sentrum ontwikkel waar teen die middel van die 1980's negentien nywerheidsaanlegte gevestig was.
Die politieke en ekonomiese hervormingsproses, wat deur sekretaris-generaal Michail Gorbatsjof in 1985 begin is, het met 'n desentralisering van die Sowjetgesag gepaard gegaan. Armene in die Armeense SSR en Nagorno-Karabach het Gorbatsjof se hervormingsproses as 'n kans beskou om die twee gebiede te herenig.
Op 20 Februarie 1988 het tienduisende Armene op Stepanakert se Leninplein (tans Renaissanceplein) vergader om die insluiting van Nagorno-Karabach by Armenië te eis. Op dieselfde dag het die Opperste Sowjet van Nagorno-Karabach besluit om Nagorno-Karabach met die Armeense SSR te verenig – ondanks felle weerstand van die Sowjet-Azerbeidjanse owerheid.[3] Die politieke krisis het etniese spanninge tussen Armene en Azerbeidjanners in Stepanakert meegebring, en byna alle Azerbeidjanners het in die volgende jare uit die stad gevlug.
Nadat Azerbeidjan in 1991 sy onafhanklikheid van die Sowjetunie verklaar het, het die regering Stepanakert se naam weer na Khankendi gewysig – as deel van 'n veldtog teen kommunisme en 'n beleid van Azerifikasie.
Die politieke spanninge het tot 'n volskaalse oorlog tussen Armeense en Azerbeidjanse magte geëskaleer. Uiteindelik het Armene nie net beheer oor Nagorno-Karabach gekry nie, maar ook oor Azerbeidjanse gebiede wes van die omstrede gebied wat nou as 'n korridor tussen Nagorno-Karabach en die nuutgestigte Republiek Armenië kon dien.
In Stepanakert is gedurende die konflik swaar skade deur Azerbeidjanse artillerievuur berokken, veral vroeg in 1992 toe die Azerbeidjanners die stad Şuşa as militêre basis gebruik het van waar GRAD-vuurpyle afgeskiet is. Azerbeidjanse magte het 'n reeks grondaanvalle teen Stepanakert geloods wat egter met sukses afgeweer is. Die artillerievuur is eers gestaak nadat Şuşa op 9 Mei 1992 deur Armeense magte ingeneem is. Stepanakert het egter nog tot die einde van die oorlog onder Azerbeidjanse lugaanvalle gely.
In 1994 is 'n nieamptelike wapenstilstand gesluit.
In September 2023 het Azerbeidjan 'n nuwe offensief geloods teen die Republiek Artsach wat tot die ontbinding en inlywing van Artsach op 1 Januarie 2024 en die vlug van amper die hele etniese Armeense bevolking na Armenië gelei het.[4]
Voor die oorlog was Stepanakert se ekonomie hoofsaaklik op voedselverwerking, sywewery en wynbou gegrond. Die oorlogshandelinge het groot skade aan die ekonomiese infrastruktuur berokken, maar danksy beleggings uit die geledere van diaspora-Armene is nuwe lewe in die ekonomie van Stepanakert en die Republiek Nagorno-Karabach (Artsach) geblaas.
Toerisme is een van die sleutelbedrywe vir werkskepping. 'n Aantal hotelle is deur diaspora-Armene geopen, waaronder in 2000 die Nairi-hotel in besit van Jack Abolakian, 'n Australiër van Armeense afkoms.[5]
'n Spesiale ekonomiese sone is geskep om buitelandse beleggings te bevorder. Hier word onder meer klokonderdele vir 'n Switserse onderneming vervaardig, terwyl 'n Russiese maatskappy diamante laat poleer.[6]
'n Nuwe lughawe het sowat 8 km buite die stad ontstaan. Die amptelike inwyding was oorspronklik vir 2012 beplan, maar weens Azerbeidjanse dreigemente om vliegtuie neer te skiet is dit tot nog toe nie in bedryf gestel nie.[7]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Stepanakert. |