’n Span sterrekundiges onder leiding van Michaël Gillon van die Institut d’Astrophysique et Géophysique aan die Universiteit van Luik[6] in België het TRAPPIST (Transiting Planets and Planetesimals Small Telescope) by die La Silla-sterrewag in Chili[7] gebruik om die ster waar te neem en na eksoplanete te soek.
Deur oorgang-fotometrie het hulle aanvanklik drie aardgrootte-planete ontdek wat om die ster wentel; die binneste twee het ’n sinchroniese rotasie, terwyl die buitenste een blykbaar in die ster se bewoonbare sone of net daarbuite lê.[4][5] Die span het hul waarnemings van September tot Desember 2015 bekendgemaak en hul bevindings in die Mei 2016-uitgawe van die tydskrif Nature gepubliseer.[7][8]
Op 22 Februarie 2017 het sterrekundiges aangekondig nog vier aardgrootte-eksoplanete is om TRAPPIST-1 ontdek. Benewens die TRAPPIST-teleskoop is onder meer die Baie Groot Teleskoop en Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop gebruik, en so is die totaal op sewe te staan gebring. Hiervan kom minstens drie in die ster se bewoonbare sone voor. Die ander kan moontlik ook bewoonbaar wees (vloeiende water op hul oppervlak hê).[9][10]
Die ster in die middel van die stelsel is in 1999 ontdek tydens die Two Micron All-Sky Survey (2MASS).[11] Dit is in die daaropvolgende katalogus opgeneem as "2MASS J23062928-0502285". Die syfers verwys na die ster se regte klimming en deklinasie, dus sy posisie in die lug, en die "J" na die huidige epog in die sterrekunde.
Die naam "TRAPPIST-1" kom van die feit dat die ster se eksoplanete die eerstes is wat deur die TRAPPIST-teleskoop ontdek is.[12] Die akroniem gedenk ook die KatoliekeTrappiste-godsdiensorde en die Trappistebier wat dit vervaardig, hoofsaaklik in België.[13]
Die name van die planete is in die volgorde waarin hulle ontdek is. Die letter "b" word tradisioneel bygevoeg vir die eerste planeet wat om ’n spesifieke ster ontdek word, "c" by die tweede een en so aan.[14] In TRAPPIST-1 se geval is die eerste drie wat ontdek is "b", "c" en "d" genoem, volgens toenemende wentelperiodes, en die tweede groep "e" tot "h"; laasgenoemde is die verste planeet.
TRAPPIST-1 is ’n rooidwerg met ’n massa van sowat 8% en ’n radius van 11% van dié van die Son; dit is min of meer so groot soos Jupiter.[15] Sy temperatuur is 2 550 K en dit is minstens 500 miljoen jaar oud. Die Son is in vergelyking sowat 4,6 miljard jaar oud[16] en het ’n temperatuur van 5 778 K.[17]
TRAPPIST-1 se ligsterkte is sowat 0,04% van dié van die Son, waarvan die grootste deel in die infrarooispektrum uitgestraal word. Vanweë dié lae luminositeit kan die ster tot 12 biljoen jaar lank bestaan.[18] Dit is metaalryk – sowat 109% soveel as die Son.
In Februarie 2017 het sterrekundiges aangekondig die planetêre stelsel bestaan uit sewe aardgrootte-planete, waarvan minstens drie (e, f en g) in die bewoonbare sone voorkom.[19][20][21] Vyf van die planete (b, c, e, f en g) is omtrent so groot soos die Aarde en twee (d en h) se grootte is tussen dié van Mars (waarvan die deursnee sowat die helfte van die Aarde s’n is) en die Aarde.[22] Die totale massa van die binneste ses planete is sowat 0,02% van TRAPPIST-1 s'n, soortgelyk aan dié van Jupiter se Mane van Galilei – dit kan daarop dui dat hul vormingsgekiedenis ooreenstem.[22]
Al sewe planete van TRAPPIST-1 is in wentelbane wat veel kleiner as Mercurius s’n om die Son is. Die afstand tussen die wentelbane van TRAPPIST-1b en TRAPPIST-1c is net 1,6 keer die afstand tussen die Aarde en die Maan. Die planete behoort goed sigbaar van mekaar af te wees en sal waarskynlik in sommige gevalle groter lyk as die Maan van die Aarde af.[21] ’n Jaar op die planeet die naaste aan die ster is net 1,5 aarddae lank, op die tweede planeet 2,4 aarddae en op die sesde planeet 12,3 aarddae; die data oor die verste planeet is minder seker vasgestel op sowat 20 dae, omdat nog net een volle omwenteling waargeneem is.
Al sewe planete het dalk ’n sinchroniese rotasie,[22] wat lewe minder waarskynlik, maar nie onmoontlik maak nie.[24] Planete met ’n sinchroniese rotasie se temperatuurverskil tussen die permanent verligte kant en die permanent donker kant is baie groot en dit kan baie sterk winde veroorsaak wat om die planete waai. Die beste plek vir lewe sal naby die gematigde skemerstreke tussen dié twee uiterste kante wees.
Die wentelbane van planete b tot g is feitlik in wentelresonansie, met relatiewe periodes van onderskeidelik sowat 24/24, 24/15, 24/9, 24/6, 24/4 en 24/3. Dit is die langste bekende ketting van amper-resonante eksoplanete en is vermoedelik die gevolg van wisselwerkings tussen die planete toe hulle in die protoplanetêre skyf nader aan die ster geskuif het nadat hulle aanvanklik verder weg gevorm het.[22]
Nog ’n aspek wat in ag geneem moet word, is dat rooidwerge gereelde, intense opvlammings ondervind wat moontlik die atmosfeer van enige planeet in so ’n klein wentelbaan kon vernietig het.[25] Verder het ’n X-straalstudie getoon die planete word onderwerp aan genoeg X-straal- en ekstreme ultraviolet-uitstralings dat dit hul primêre en dalk sekondêre atmosfeer aansienlik kon verander het.[26]
Op 23 Februarie 2017 is die ontdekking gevier met ’n Google Doodle wat deur Nate Swinehart gemaak is.[27]
Op 24 Februarie 2017 het Frontier Developments, die ontwikkelaars van Elite: Dangerous, aangekondig TRAPPIST-1 gaan as deel van die nuwe 2.3-bywerking by die spel gevoeg word.[28]
↑Bryant, Tracey (22 Februarie 2017). "Celestial Connection" (in Engels). Universiteit van Delaware. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2020.
↑"TRAPPIST-1b" (in Engels). Open Exoplanet Catalogue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2016. Besoek op 2 Mei 2016.
↑Hessman, F. V.; Dhillon, V. S.; Winget, D. E.; Schreiber, M. R.; Horne, K.; Marsh, T. R.; Guenther, E.; Schwope, A. et al. (2010). "On the naming convention used for multiple star systems and extrasolar planets". [astro-ph.SR].
↑Fraser Cain (16 September 2008). "How Old is the Sun?". Universe Today. Besoek op 19 Februarie 2011.
↑Fraser Cain (15 September 2008). "Temperature of the Sun". Universe Today. Besoek op 19 Februarie 2011.
↑Adams, Fred C.. "Red Dwarfs and the End of the Main Sequence". Gravitational Collapse: From Massive Stars to Planets: 46–49, Revista Mexicana de Astronomía y Astrofísica.
↑Wheatley, Peter J. (2016). "Strong XUV irradiation of the Earth-sized exoplanets orbiting the ultracool dwarf TRAPPIST-1". Preprint. arXiv:1605.01564.