Tenzin Gyatso | |
---|---|
Die Dalai Lama in San Francisco, 2014. | |
Gebore | Lhamo Dondrub 6 Julie 1935 Taktser, Amdo, Tibet |
Nasionaliteit | Indië |
Titel | Die 14de Dalai Lama |
Termyn | 17 November 1950 – hede |
Voorganger | Thubten Gyatso |
Ouer(s) | Choekyong Tsering die 9de Diki Tsering |
Handtekening | |
Tenzin Gyatso, die 14de Dalai Lama (gebore as Lhamo Dondrub, 6 Julie 1935), is die huidige en langslewende Dalai Lama,[1] wat belangrike monnike is van die Gelug, die jongste skool van Tibettaanse Boeddhisme.[2] Die hoof van dié skool is in naam die Ganden Tripas. Die 14de Dalai Lama het die Nobelprys vir Vrede in 1989 ontvang[3] en is bekend vir sy passievolle voorspraak vir Tibettane wêreldwyd.
Lhamo Dondrub, die vierde oudste seun van ’n arm arbeidersgesin, is op die Tibettaanse dorp Taktser in die Amdo-provinsie gebore.[4] Nadat die 13de Dalai Lama oorlede is, is soekpartye uitgestuur om sy opvolger te vind en hulle het die tweejarige Lhamo herken as die 14de reïnkarnasie van die Dalai Lama. In 1939, net ná sy vierde verjaarsdag, is hy na die hoofstad, Lhasa, gebring waar hy amptelik as die nuwe Dalai Lama bekragtig is.[5]
Hy het die grootste deel van sy kinderlewe saam met leermeesters of op sy eie deurgebring. Sy opleiding as Boeddhistiese monnik het begin toe hy ses jaar oud was en het ingesluit ’n bestudering van groot volumes Boeddhistiese leringe, gereelde meditasiesessies en die bemeestering van die vaardigheid om oor godsdienstige onderwerpe te debatteer.
In 1949 het die kommuniste die burgeroorlog in China gewen en op 7 Oktober 1950 het die Chinese magte Tibet ingeval. Die 15-jarige Dalai Lama is opgeroep om politieke gesag te aanvaar. Sy eerste stap was ’n beroep op die Verenigde Nasies, maar dit is afgewys.
In die daaropvolgende nege jaar het hy probeer om vreedsaam met die Chinese saam te leef, maar teregstellings en verwoesting deur die Chinese het gelei tot ’n groot opstand op 10 Maart 1959 in Lhasa. Die Chinese het die opstand onderdruk en die Dalai Lama het uit Tibet gevlug. Hy het asiel in Indië verkry. Sedert 1960 woon hy in Dharamsala in Noord-Indië.
In Indië het hy in 1959 ’n demokratiese regering in ballingskap gestig wat hom beywer vir die bevryding van Tibet en die welsyn van die nou meer as 120 000 Tibettaanse vlugtelinge. Hy het 53 landbou-vlugtelinggemeenskappe begin, die skepping van ’n Tibettaanse skoolstelsel bestuur, verskeie kultuurinstellings ingewy om Tibet se kuns en wetenskap te bewaar en meer as 200 abdye hervestig om die Boeddhisteleringe lewend te hou.
Sedert sy eerste oorsese besoek in 1967, het hy uitgebreid deur die wêreld gereis; hy bied lesings aan en werf ondersteuning vir die Tibettaanse saak. Hy word dikwels deur wêreldleiers genooi om oor wêreldvrede te praat en het die afgelope 40 jaar ’n simbool van vrede geword. In 1989 het hy ook die Nobelprys vir Vrede ontvang.
The spiritual head of Tibetan Buddhism and, until the establishment of Chinese communist rule, the spiritual and temporal ruler of Tibet