Tiamat

Tiamat
Soort godin  Mesopotamies
Godin van die skepping
Simbool Soutwater
Metgesel Abzu
Kinders Alle latere gode

Tiamat was ’n oergodin van die oseaan in die Mesopotamiese mitologie (Sumeries, Assiries, Akkadies en Babilonies) wat met Abzu, die god van die varswater, gepaar het om die jonger gode te skep. Sy is die simbool van die chaos voor die skepping, en word uitgebeeld as ’n vrou:[1] sy verteenwoordig die skoonheid van vroue.[2]

Daar was dalk twee weergawes van die Tiamat-mite. In die een is sy die skeppergodin wat die kosmos vreedsaam skep deur ’n "heilige huwelik" tussen die sout- en varswater. In die tweede weergawe word Tiamat beskou as ’n monster wat die oerchaos verteenwoordig.[3] In sommige bronne was sy ’n seemonster of draak.[4]

In die Enuma Elisj, die Babiloniese epiese verhaal oor die skepping, skenk sy die lewe aan die eerste generasie gode. Haar man, Abzu, neem (korrek) aan hulle wil hom doodmaak en sy troon oorneem en hy voer oorlog teen hulle. In die proses word hy doodgemaak. Woedend val Tiamat haar man se moordenaars aan in die vorm van ’n enorme seedraak, maar sy word doodgemaak deur Enki se seun, die stormgod Mardoek – maar eers skenk sy die lewe aan die monsters van die Mesopotamiese panteon, onder meer die eerste drake, wie se liggaam sy "met gif vul pleks van bloed". Mardoek skep daarna die hemel en aarde van haar verdeelde liggaam.

Daar word geglo Tiamat se naam is weggelaat in latere vertalings van die Enuma Elisj in Akkadies omdat die vertalers haar naam vervang het met die gewone woord vir "see"; die twee name het vanweë assosiasie feitlik dieselfde geword.[5]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Luzacs Semitic Text and Translation Series (PDF) (Vol XII uitg.). p. 150-line 122.
  2. Luzacs Semitic Text and Translation Series (PDF) (Vol XII uitg.). p. 124-line 36.
  3. Dalley, Stephanie (1987). Myths from Mesopotamia. Oxford University Press. p. 329.
  4. Soos Jacobsen, Thorkild (1968). "The Battle between Marduk and Tiamat". Journal of the American Oriental Society. 88 (1): 104–108. JSTOR 597902.
  5. Jacobsen 1968:105.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]