Vere vorm die bedekking van 'n voël se lyf. In Latyn word 'n veer penna (meervoud: pennae) genoem en omdat vere vroeër as skryfinstrumente gebruik is, praat 'n mens steeds van 'n "pen". 'n Ander woord vir veer is "pluim", wat van die Latynse pluma kom. Die tak van die wetenskap wat oor vere gaan, word "plumologie" genoem.
Vandag is vere net kenmerkend van voëls, maar daar is fossiele van dinosourusse wat reeds vere gehad het. Vere beskerm diere teen koue en water. Dit is dalk vere se oorspronklike funksie, maar hulle het dikwels kleure, wat die dier teen vyande beskerm of tot kommunikasie bydra. Aanwysings dat gekleurde vere reeds taamlik oud is, is gevind in die fossiele van Anchiornis. Die belangrikste funksie is nogtans dat dit aan 'n voël sy vliegvermoë verskaf. Archaeopteryx is die bekendste fossiel wat hierdie funksie vertoon.
Vere bestaan uit keratien en is leweloos in hul volwasse toestand. Hulle is ook uiters lig, hoewel 'n voël se veredos ongeveer twee maal so swaar is as sy skelet.
Daar is 'n paar verskillende soorte vere, maar daar kan twee hoofkategorieë onderskei word wat in hul samestelling verskil:
Dekvere bestaan uit 'n lang stewige skag, waarvan die onderkant die spoel genoem word. Die skag bevat die vlag, wat uit baard bestaan. Die dek- of kontoervere (Pennae conturae) kan verder onderskei word:
Donsvere het 'n eenvoudiger samestelling, soos 'n borsel. Dons vorm die onderkleed. Daar is voëls waarby dit nie aangetref word nie, soos volstruise. Die vere van kuikens is aangepaste dekvere en nie regte donsvere nie.
Naas die twee hoofvorme bestaan nog ander vere:
Party voëlfamilies het naakte kuikens wat uit die eier kruip, soos die visvangers, die spegte of die koekoeke. Ander voëls se kuikens is met dons bedek, maar dit is nogtans eintlik 'n vorm van dekvere. Later groei uit dieselfde papille die regte dekvere en druk dit die ou donsvere uit. Die eerste dekvere het dikwels nie dieselfde kleure as die volwasse voël s'n nie. Meeue en visarende verveer meer as een keer voordat hulle volwasse vere kry.