![]() |
|
Gebruik | Nasionale vlag en Staatsvaandel ![]() |
---|---|
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 12 Junie 1902[1] |
Ontwerp | ’n Blou Britse vaandel en vier rooi sterre van die Suiderkruis op die wapperkant met ’n wit fraiing. |
Ontwerp deur | Albert Hastings Markham |
![]() |
|
Gebruik | Vlootvaandel ![]() |
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 1968 |
Ontwerp | ’n Wit Britse vaandel en vier rooi sterre van die Suiderkruis op die wapperkant. |
![]() |
|
Bynaam | Handelsvlag |
Gebruik | Burgerlike vaandel ![]() |
Verhouding | 1:2 |
Ontwerp | ’n Rooi Britse vaandel en vier wit sterre van die Suiderkruis op die wapperkant. |
Die nasionale vlag van Nieu-Seeland is in 1869 ontwerp en amptelik op 12 Junie 1902 aanvaar.[2] Die vlag vertoon ’n Blou Britse vaandel met vier vyfpuntige rooi sterre met wit fraiings wat die Suiderkruis voorstel.[3]
Nieu-Seeland se eerste vlag, die vlag van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, is aanvaar voordat Nieu-Seeland ’n Britse kolonie geword het. Dit is gekies deur ’n vergadering van Māori-hoofmanne in 1834 en het uit ’n Kruis van Sint Joris met ’n ander kruis in die skildhoek met vier sterre op ’n blou veld bestaan. Met die stigting van die kolonie in 1841 het die gebruik van Britse vaandels begin. Die huidige vlag was ontwerp en aanvaar vir beperkte gebruik in 1869 en het in 1902 die amptelike vlag geword. Dit is die Britse Blou vaandel, waarin ’n gestileerde voorstelling van die Suiderkruis is wat die vier grootste sterre uitbeeld. Elke ster verskil effens van die ander in grootte. Die Union Jack in die skildhoek herinner aan Nieu-Seeland se koloniale bande met die Verenigde Koninkryk en sy lidmaatskap in die Britse Statebond.[3]
Die verhouding van die vlag is 1:2 en die kleure is rooi (Pantone 186C), blou (Pantone 280C), en wit.[3] Die verhouding en kleure is identies aan die Union Jack.
Die amptelike vlag van Nieu-Seeland word gedefinieer in Nieu-Seeland se Vlagwet van 1981.
Die Nieu-Seelandse vlag maak gebruik van twee prominente kenmerke: die Union Jack en die Suiderkruis. Daar word dikwels aanvaar dat die Union Jack verwys na Nieu-Seeland se geskiedenis as ’n Britse kolonie, terwyl ’n meer geskiedkundige verwysing sal aandui dat dit eerder verwys na Nieu-Seeland se lojaliteit teenoor die Britse kroon. Die vier rooi sterre aan die wapperkant van die vlag verteenwoordig die sterre van die Suiderkruis. Die Suiderkruis is die helderste konstellasie sigbaar in die Suidelike Halfrond en is sedert die aanvangsdae van Britse kolonialisering in dié lande gebruik om Australië en Nieu-Seeland te verteenwoordig. Die vier sterre is vyfpuntig.[4]
In teenstelling met ander Suiderkruisvlae soos dié van Australië, Brasilië, Papoea-Nieu-Guinee en Samoa toon Nieu-Seeland se vlag nie die Epsilon Crucis, die kleinste van die Suiderkruissterre, nie.
Kleurskema | Blou | Rooi | Wit | |||
---|---|---|---|---|---|---|
Pantone | 280 C | 186 C | Veilig | |||
RGB-kleurmodel | 0-0-102 | 204-0-0 | 255-255-255 | |||
Heksadesimaal | #000066 | #CC0000 | #FFFFFF | |||
CMYK | C100-M70-Y0-K20 | C0-M100-Y80-K5 | C0-M0-Y0-K0 |
Die behoefte aan ’n vlag vir Nieu-Seeland het die eerste keer duidelik geword toe die handelskip Sir George Murray, wat in Hokianga gebou is, in die hawe van Sydney deur doeane-amptenare in beslag geneem is. Die skip het sonder ’n vlag geseil, wat ’n skending van die Britse seevaartwette was. In dié tyd was Nieu-Seeland nie ’n kolonie nie en het die land ook geen vlag besit nie. Onder die passasiers was twee belangrike Māori-leiers, moontlik Patuone en Taonui. Die skip se aanhouding is dus as ’n vernedering van die Māori-volk beskou. Tensy ’n vlag gekies is, sou die doeane voortgaan om skepe in beslag te neem.[5]
Die eerste vlag van Nieu-Seeland is op 9 Maart (of 20 Maart) 1834 aanvaar na ’n verkiesing deur die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, ’n vergadering van Māori-leiers wat deur die Britse inwoner James Busby in Waitangi belê is. Die Verenigde Stamme het later die onafhanklikheidsverklaring van Nieu-Seeland in Waitangi in 1835 afgekondig. Drie vlae is voorgestel, almal is ontwerp deur die sendeling Henry Williams, wat ’n belangrike rol by die vertaling van die verdrag van Waitangi in 1840 gespeel het. Die leiers het twee andere voorstelle wat die Union Jack ingesluit het, ten gunste van ’n gemodifiseerde Kruis van Sint Joris of die wit vaandel, wat deur Henry Williams se Sendinggenootskap-skepe gebruik is, afgekeur.[6][7] Hierdie vlag het bekend geword as dié één van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland[8] en is amptelik in die Staatskoerant van Nieu-Suid-Wallis in Augustus 1835 gepubliseer, met ’n algemene beskrywing sonder ’n omsoming of die aantal van die punte op die sterre. Die behoefte aan ’n vlag is as dringend beskou, nie net omdat Nieu-Seelandse skepe in Sydney in beslag gelê is weens die niegebruik van ’n nasionale vlag nie, maar ook as simbool van onafhanklikheid, wat deur die Māori-leiers verklaar is.
Die vlag word nog steeds aan die Waitanga-vlagpaal gehys en is sigbaar op Waitangi-dag, elke 6 Februarie.[9]
Ná die ondertekening van die verdrag van Waitangi is die Britse Union Jack gebruik, terwyl die voormalige vlag van die Verenigde Stamme nog steeds gebruik is deur ’n aantal Nieu-Seelandse skepe en in baie gevalle ook op land. So het die “New Zealand Company” in Wellington voortgegaan om die vlag van die Verenigde Stamme te gebruik, totdat goewerneur William Hobson in Mei 1840 beveel het dat dit vervang moes word (na aanleiding van sy verklaring van Britse soewereiniteit).[9][10]
Die eerste vlag van Nieu-Seeland wat gebaseer is op die Blou Britse vaandel is in 1867 bekendgestel volgens die Koloniale Vlootverdedigingswet van 1865, wat van alle skepe van koloniale regerings vereis om ’n gewysigde blou vaandel met ’n koloniale kenteken te gebruik. Nieu-Seeland het destyds nie ’n eie koloniale kenteken of ’n wapen gehad nie en dus is net die letters “NZ” vir die Engelse naam New Zealand by die blou vaandel bygevoeg.[11]
In 1869 het die eerste luitenant van die Royal Navy-skip HMS Blanche, Albert Hastings Markham, ’n ontwerp vir ’n nasionale vaandel voorgelê aan Sir George Bowen, die goewerneur van Nieu-Seeland. Sy ontwerp, wat die Suiderkruis gebruik, is goedgekeur.[12] Dit is aanvanklik net op regeringskepe gebruik, maar is in ’n oplewing van patriotisme na die Anglo-Boereoorlog aanvaar as die de facto nasionale vlag in 1902. Om die verwarring tussen die verskillende ontwerpe van die vlag te beëindig, het die liberale regering die Ensign and Code Signals Bill goedgekeur, wat deur koning Edward VII op 24 Maart 1902 aanvaar is[13] en die vlag as Nieu-Seeland se nasionale vlag verklaar. Medaljes wat toegeken is aan soldate wat in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het, bevat die ontwerp van die vlag van die Verenigde Stamme,[14] wat daarop dui dat dié vlag destyds wyd gebruik is in Nieu-Seeland.
Een van die eerste bekende vertonings van die Nieu-Seelandse nasionale blou vaandel tydens ’n geveg was by Quinn's Post tydens die Slag van Gallipoli in 1915. Dit was egter nie amptelik vertoon nie. Die vlag is na Nieu-Seeland teruggebring deur Private John Taylor, Canterbury Bataljon.[16] Die eerste keer dat die vlag van Nieu-Seeland tydens ’n seegeveg en die eerste amptelike keer ooit getoon is, was op die HMNZS Achilles tydens die Slag van die Rio de la Plata in 1939.[17]
Die nasionale vlag is volgens wet gedefinieer as “die simbool van die koninkryk, die regering en die mense van Nieu-Seeland”[18] en, soos die meeste ander wette, kan dit slegs verander word deur ’n volstrekte meerderheid stemme in die parlement.
In Maart 1994 het die eerste minister van Nieu-Seeland, Jim Bolger, verklaar dat hy die verandering na ’n Nieu-Seelandse republiek sal ondersteun.[19] In reaksie hierop het die Christen-demokratiese parlementslid Graeme Lee ’n Vlae-, Liedere-, Embleme- en Namebeskermingswysigingswetsontwerp aangekondig.[20] Indien die wetsontwerp aangeneem is, sou dit die wet, wat die vlag en die volkslied van Nieu-Seeland vaslê, slegs met ’n meerderheid van 65 persent in die parlement veranderbaar maak. Die wetsontwerp het sy eerste lesing geslaag, maar is verslaan in die tweede lesing met 26 teen 37 stemme.[21]
Die debat oor die behoud of verandering van die Nieu-Seelandse vlag het voor Mei 1973 begin, toe ’n opdrag om die vlag te verander nie deur die Arbeidersparty by hul nasionale konferensie aanvaar is nie.[22] In November 1979 het die minister van binnelandse sake, Allan Highet, voorgestel dat die ontwerp van die vlag verander behoort te word en het ’n kunstenaar gesoek wat ’n nuwe vlag, met die silwervaring op, sal ontwerp. Die voorstel het egter min ondersteuning gekry.[23] In 1998 het die eerste minister Jenny Shipley die oproep van die minister vir kulturele sake, Marie Hasler, om ’n verandering van die vlag gesteun. Shipley het saam met die Nieu-Seelandse Toerismeraad die kwasi-nasionale silwervaring-vlag, wat ’n wit silwervaring op ’n swart agtergrond uitbeeld, as ’n moontlike alternatiewe vlag na die voorbeeld van Kanada se Esdoringblaar-vlag ondersteun. Op 5 Augustus 2010 het Charles Chauvel, parlementslid van die Arbeidersparty, ’n wetsontwerp vir ’n raadplegende kommissie geloods deur ’n referendum oor die vlag van Nieu-Seeland aan te kondig.[21] In Februarie 2015 is berig dat Nieu-Seeland moontlik ’n vlagreferendum kan hou voor die einde van die jaar en dat ’n besluit vroeg in 2016 geneem kan word.[24]
Op 11 Maart 2014 het die destydse eerste minister, John Key, tydens ’n toespraak sy voorneme vir ’n referendum oor die aanneming van ’n nuwe vlag tydens die volgende parlementêre termyne aangekondig.[25][26] Na aanleiding van die Nasionale Party se herverkiesing is die details van die twee referendums aangekondig.[27] Die eerste referendum is ingestel vir November 2015, waarin kiesers vir een van vyf voorgestelde ontwerpe kon stem. In die tweede referendum van Maart 2016 sal die kiesers tussen die verkose ontwerp en die huidige vlag kies.[28]
In die geval dat die vlag verander sal word, het die Nieu-Seelandse vlagreferendumswet bepaal dat die huidige vlag (beskryf as die “1902-vlag”) van Nieu-Seeland in gebruik sal bly en erken is “as ’n vlag van historiese belang”.[29] Amptelike dokumente wat die huidige vlag toon, soos bestuurderslisensies, sal geldig bly en vervang word deur vanselfsprekend (soos hernuwing van bestuurderslisensies).[29]
Op 11 Desember 2015 is die voorlopige uitslae van die eerste referendum aangekondig. Die blou en swart ontwerp met ’n silwervaring en rooi sterre, was die verkose vlag.[30][31] Hierdie vlagontwerp het die tweede referendum nie gewen nie nadat die uitslae getoon het dat die huidige vlag gekies is as die vlag van Nieu-Seeland. 56,6% was ten gunste vir die huidige vlag, met ’n stempersentasie van 67,3%. 43,2% was ten gunste vir die goedkeuring van die Lockwood-ontwerp.[32]
Ontwerp | Eerste verkiesing | Tweede verkiesing | Derde verkiesing | Laaste verkiesing | ||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Stemme | % | Stemme | % | Stemme | % | Stemme | % | |
![]() |
559 587 | 40,15 | 564 660 | 40,85 | 613 159 | 44,77 | 670 790 | 50,58 |
![]() |
580 241 | 41,64 | 584 442 | 42,28 | 607 070 | 44,33 | 655 466 | 49,42 |
![]() |
122 152 | 8,77 | 134 561 | 9,73 | 149 321 | 10,90 | NVT | |
![]() |
78 925 | 5,66 | 98 595 | 7,13 | NVT | |||
![]() |
52 710 | 3,78 | NVT | |||||
Totaal | 1 393 615 | 100,00 | 1 382 258 | 100,00 | 1 369 550 | 100,00 | 1 326 256 | 100,00 |
Nieoordraagbare stemme | 11 357 | 0,73 | 24 065 | 1,56 | 67 359 | 4,35 | ||
Informele stemme | 149 747 | 9,68 | ||||||
Ongeldige stemme | 3 372 | 0,22 | ||||||
Totaal stemme uitgebring | 1 546 734 | 100,00 | ||||||
Bywoning | 48,78 |
> 60% ten gunste van die nuwe ontwerp > 50–59% ten gunste van die nuwe ontwerp | > 50–59% ten gunste van die huidige vlag > 60% ten gunste van die huidige vlag |
Ontwerp | Stemme | |
---|---|---|
Aantal | % | |
![]() |
915 008 | 43,26 |
![]() |
1 200 003 | 56,74 |
Totaal | 2 115 011 | 100,00 |
Informele stemme | 4 942 | 0,23 |
Ongeldige stemme | 4 554 | 0,21 |
Totaal stemme uitgebring | 2 124 507 | 100,00 |
Bywoning | 67,26 |
Bykomend tot die Blou Vaandel-vlag is daar verskeie ander Nieu-Seelandse vlae, insluitende die Māori-vlag en die vlae van die nasionale beskermingseenheid. Die ontwerp van die Nieu-Seelandse vlag is ’n geskilpunt in Nieu-Seeland wat hand-aan-hand loop met die optrede van die sogenaamde “Republikeinse Beweging” in dié land.
Die vlag van Nieu-Seeland was die eerste nasionale vlag wat die sterre van die Suiderkruis gebruik, en bly eiesoortig as die enigste nasionale vlag wat slegs die sterre van die konstellasie wat eintlik die kruis self vorm, insluit.
Die Australiese vlag, wat in 1901 aanvaar is, gebruik die Union Jack in die skildhoek en die Suiderkruis op die wapperkant. Die kruis op die Nieu-Seelandse vlag is saamgestel uit die vier primêre sterre van die Suiderkruis, elk ’n rooi vyf-puntige ster met ’n wit fraiing. Die Australiese vlag het ses wit sterre, waarvan vyf sewe-puntig is (die Gemenebes-ster) en ’n vyf-puntige ster, Epsilon Crucis, die kleiner ster van die Suiderkruis wat nie deel van die werklike kruis self vorm nie is ook ingesluit. Australië se vlag het ’n groot Statebond-ster onder die Union Jack omdat dit ’n simbool van Australië is.
Baie andere vlae bevat ook die Suiderkruis as embleem, sommige dateer so lank terug soos die nasionale koloniale vlag van Australië van 1823/24.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vlae van Nieu-Seeland. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Duitse Wikipedia vertaal. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |