Wakea, of Wākea, was in die Hawaise godsdiens die lugvader wat met Papahānaumoku of Papa, die aardmoeder, getrou het. Die paar word beskou as die ouers van die regerende opperhoofde van Hawaii.
Wākea was die oudste seun van Kahiko ("die Antieke Een"), wat in Olalowaia gewoon het. Hy is die voorvader van die aliʻi (adel) van Hawaii, die heersersklas, en die kleinseun van Welaahilaninui. Die priesters en gewone mense het gekom van sy broers.
Wākea beteken uitgestrekte ruimte, senit of hemel en Papa beteken fondament of oppervlak; saam skep hulle 'n simbool van grond en lug, of aarde en hemel.[1] Oorledenes, so is geglo, het na die huis van Wākea gereis. As hulle rein was, kon hulle in die gerief van dié ryk bly, anders is hulle na Lua-o-Milu gestuur.[2]
Die Hawaise eilande is deur Wākea en Papahānaumoku geskep. Nadat Wākea bloedskande met sy dogter, Ho’ohokukalani, gepleeg het, het sy die lewe geskenk aan Haloa-naka-lau-kapalili, wat beteken bewende lang stingel.[3] Die baba is doodgebore en hulle het hom later geplant; hy het die eerste taro, 'n Hawaise stapelvoedsel, geword. Daarna het Ho’ohokukalani die lewe geskenk aan nog 'n kind, Haloa, wat beteken lang stingel, en hy het die eerste Hawaiër geword.
Later het Wākea en Papahānaumoku nog kinders gehad, naamlik Kaua'i, Ni'ihau, Lehua en Kaʻula.[4]