Die Wikimedia Commons (ook bekend as die "Commons" of "Wikicommons") is 'n versameling vrye beelde, opnames en ander multimedialêers. Dit is 'n projek van die Wikimedia-stigting. Lêers wat by hierdie versameling opgelaai word kan deur al die ander Wikimediaprojekte gebruik word, insluitende Wikipedia, Wikibooks en Wikinews.
Beelde wat opgelaai is na Wikimedia Commons kan deur al die ander Wikimemedia projekte gebruik word; die sintaks is dieselfde as vir plaaslike beelde. Indien 'n plaaslike beeld met dieselfde naam reeds bestaan, sal dit gebruik word, andersins sal die een vanuit Commons gelaai word.
Die projek is op 7 September 2004 gestig. Teen November 2004 het dit reeds die mylpaal van 10 000 opgelaaide medialêers bereik. Dit was ook die eerste Wikimedia-projek wat weergawe 1,4 van die MediaWiki-sagteware gebruik het.
Die hooftaal vir die Commons is Engels, maar die koppelvlak kan via gebruikersvoorkeure verander word om enige ander taal te gebruik (insluitend Afrikaans). Verder word sommige van die bladsye ook na ander tale vertaal.
Sedert 2004 laat Wikimedia Commons nie meer lêers toe wat onder nie-vrye lisensies vrygestel word nie, insluitend lisensies wat kommersiële gebruik van die materiaal beperk, asook media wat onder billike gebruik val. Lisensies wat toelaatbaar is sluit in die GFDL, Creative Commons (slegs sekeres) en publieke domein.
Beeld van die jaar 2007: Die Broadway-toring is 'n siergebou wat uit 1797 dateer en geleë is op Broadway-heuwel naby die dorpie Broadway, in Worcestershire, Engeland, in die Cotswolds. Die toring se basis is 312 meter bo seespieël en die toring self is 17 meter hoog. Op 'n mooiweersdag kan dertien graafskappe van Engeland van die bokant van die toring gesien word. Die uitsig sluit in die Severn-vallei tot by die Walliese berge.
Beeld van die jaar 2010: 'n Laser word gestuur tot die sentrum van die Melkweg vanuit die koepel Yepun van die Paranal-observatorium op die gelyknamige berg in Chili.
Beeld van die jaar 2017: Phyllomedusa rohdei is 'n spesie in die familie van boompaddas en is deur 'n oranje-pers-kleuring in die lies gekenmerk. In die prentjie wedywer twee mannetjies vir 'n tak en een klim oor die ander.
Beeld van die jaar 2019: Twee bulle hardloop terwyl die jokkie hulle vashou tydens 'n pacu jawi (Minangkabau vir: "bulwedloop"), 'n tradisionele bulwedloop in Tanah Datar, Wes-Soematra, Indonesië. 2015, Finale-45.