William Wallace | |
---|---|
Sir William Wallace | |
Gebore | ca. 1270 |
Sterf | 23 Augustus 1305 |
Nasionaliteit | Skotland |
Beroep | Bevelvoerder in die Skotse Oorloë van Onafhanklikheid |
Kinders | Geen bekend |
Ouer(s) | Vader: Alan Wallace |
William Wallace was 'n Skotse ridder wat in die Middeleeue teen die koning van Engeland, Eduard I, geveg het. Hy is in ongeveer 1272 gebore en is op 23 Augustus 1305 deur die Engelse tereggestel. Skotland is deur Eduard opgeëis, maar Wallace het geweier om trou aan Engeland te sweer.
Daar is min oor Wallace se geboorte en kinderjare bekend, en dit is nie duidelik waar en wanneer hy gebore is nie. Sommige bronne gee sy geboorte as ongeveer 1272 aan, maar 'n boek wat in die 16de eeu gedruk is, genaamd History of William Wallace and Scottish Affairs, beweer dat hy in 1276 gebore is. Volgens oorlewering is Wallace in Elderslie, naby Paisley in Renfrewshire gebore.[1][2][3]
Koning Eduard het aan Skotland 'n ooreenkoms gebied wat hulle sou toelaat om 'n ondergeskikte Skotse koning te hê. Volgens die ooreenkoms moes die Skotse edelmanne voor hom kniel en trou aan hom sweer. Wallace het egter geweier en militêre weerstand hierteen gebied.
Op 11 September 1297 wen Wallace die slag van Stirling Bridge teen 'n veel groter Engelse mag. Ses maande daarna lei hy 'n klopjag in die noorde van Engeland. Hy wou die stryd na Engelse grondgebied neem, om aan Eduard te wys dat Skotland dieselfde skade as wat hy aangerig het, suid van die grens kan aanrig.
Die slag van Falkirk volg op 1 April 1298, wat Eduard met behulp van sy swaar gewapende leër wen. Wallace vlug na die berge om die stryd van daar af voort te sit.
Wallace ontduik gevangenskap tot 5 Augustus 1305, waarna John de Menteith, 'n Skotse ridder wat lojaal aan Eduard was, hom op Robroyston naby Glasgow aan Engelse soldate uitlewer. Wallace is na Westminster in Londen geneem, waar hy weens hoogverraad aangekla is. Hy antwoord die aanklag met die woorde: "Ek kan nie verraad teenoor Eduard pleeg nie, omdat ek nie een van sy onderdane is nie". Wallace is egter skuldig bevind.
Ná die verhoor is Wallace op 23 Augustus 1305 uit die saal geneem, kaal uitgetrek, en agter 'n perd deur die stad na Smithfield gesleep. Hy is daarna gehang en gevierdeel (in 4 dele gekap of uitmekaargetrek), die wreedste teregstelling volgens die destydse Engelse reg. Dit beteken dat hy gehang is om te wurg, maar afgehaal is terwyl hy nog gelewe het. Sy liggaam is daarna oopgesny en sy ingewande is voor hom verbrand. Daarna is hy onthoof en sy liggaam in vier dele gekap. Sy hoof is in teer gedoop en bo London Bridge geplaas.[4] Die koppe van die broers John en Simon Fraser, wat kollegas van Wallace was, is later langs syne uitgestal. Wallace se ledemate is afsonderlik in Newcastle upon Tyne, Berwick-upon-Tweed, Stirling en Aberdeen tentoongestel.
In die rolprent Braveheart (1995), oor die brutale onafhanklikheidsoorlog van die Skotte in die 13de eeu teen die Engelse, vertolk Mel Gibson die rol van William Wallace. Hy was die regisseur en vervaardiger van die rolprent gewees. Die film bied 'n geromantiseerde weergawe van die gedig The Acts and Deeds of Sir William Wallace, Knight of Elderslie, geskryf deur die 15de-eeuse musikant Blind Harry. Die gedig is op sy beurt gebaseer op die lewensverhaal van William Wallace. Sir William Wallace was nie, soos in die film beweer word, 'n boer van lae stand nie, maar was van adellike afkoms.
Wikimedia Commons bevat media in verband met William Wallace. |