Die Yoga Sutra of Jogasoetra van Patanjali is ’n versameling sutras (leringe) in Sanskrit oor die teorie en praktyk van joga – daar is 195 sutras volgens sommige en 196 volgens ander.
Die Yoga Sutra van Patanjali is iewers tussen 500 v.C. en 400 n.C. in Indië saamgestel deur die wysgeer Patanjali, wat kennis oor joga uit veel ouer tradisies saamgestel en georganiseer het.[1][2][3] Dit was in die Middeleeue die antieke Indiese geskrif wat die meeste vertaal is – in sowat 40 Indiese tale en twee nie-Indiese tale, Oudjavaans en Arabies.[4] Die teks is van die 12de tot 19de eeu sowat 700 jaar lank nie eintlik gebruik nie, totdat dit laat in die 19de eeu herontdek is danksy die pogings van Swami Vivekananda en ander. Dit het in die 20ste eeu weer ’n klassieke werk geword.[5]
Voor die 20ste eeu het historici gemeen die Middeleeuse Indiese jogatoneel is oorheers deur verskeie ander geskrifte soos die Bhagavad Gita en Yoga Vasistha, eerder as die Yoga Sutras.[6]
In die jogatradisie word die Yoga Sutra van Patanjali beskou as een van die basiese werke van klassieke jogafilosofie.[7][8] Die aanwending van die sutras en hulle invloed op joga word egter deur sommige geleerdes soos David Gordon White[5] bevraagteken, maar deur ander soos James Mallinson[9] herbevestig.
Moderne geleerdes van joga soos Philipp A. Maas[10] en Mallinson[11] meen die kommentaar oor die sutras is Patanjali se eie, en dat die sutras self sy opsomming van ouer geskrifte oor joga is. Die gesamentlike dokument word dus beskou as ’n enkele werk, die Patanjalayogasastra.[11]