Zenobia | |
---|---|
Koningin van Palmyra | |
Zenobia-munt met haar titel, Augusta.
| |
Titels | Koningin van Palmyra |
Regeer | 267 – 272 |
Volle naam | Septimia Bathzabbai Zainib |
Voorganger | Odenatus |
Opvolger | Vaballath |
Gebore | 23 Desember 245; Palmyra, Sirië |
Oorlede | 272; Rome |
Eggenoot | Septimio Odenato |
Vader | Zabaii ben Selim of Julio Aurelio Zenobio |
Moeder | onbekend |
Zenobia is die naam wat oor die algemeen gebruik word vir die dogter van (= "bat") Zabaai ben Selim, 'n Arabiese vors. Sy was die weduwee van Septimius Odenatus en het van 267 tot 272 as koningin van Palmyra regeer as regent vir haar jong seun, Vaballatus.
Zenobia was ietwat militant en het 'n veldtog aangepak wat haar uiteindelik die heerser van 'n groot deel van Sirië en Klein-Asië gemaak het. Haar verklaarde doel was om die oostelike deel van die ryk teen die Sassanidiese Ryk te beskerm, oënskynlik om Rome se onthalwe, maar eintlik om aan haarself die mag te besorg. Deur Persië in die ooste teen Rome in die weste teen mekaar af te speel, het sy gehoop om hulle albei te oorheers.
In 269 het sy 'n Egiptenaar oorwin wat teen Romeinse heerskappy in opstand gekom het en haarself tot koningin van Egipte verklaar. Sy het beweer dat sy van Kleopatra VII van Egipte en Marcus Antonius afstam (en baie hedendaagse geskiedskrywers glo dit), asook van Dido (volgens die Aeneïde die eerste koningin van Kartago) en het gesê dat sy hulle politieke erfgenaam is.
Die Romeinse keiser Aurelianus, met sy beleid van hereniging van die Romeinse Ryk en omdat hy besonder bewus was van die gevaar wat Zenobia ingehou het, het 'n militêre veldtog gelei wat uitgeloop het op die verowering van haar koninkryk in 272. Zenobia en haar seun is gevange geneem terwyl hulle gevlug het om by Persië hulp te soek. Aurelianus het haar na Rome gebring en haar, vasgebind met goue kettings, in 274 in sy triomftog ten toon gestel. Aurelianus was beïndruk deur haar skoonheid en waardigheid en het haar later bevry en 'n villa in Tibur (nou Tivoli, Italië) gegee, waar sy die res van haar lewe as 'n filosoof en sosiale figuur deurgebring het. Party geskiedkundiges (eertyds en modern) glo dat sy met 'n Romeinse senator getrou het en dat hulle kinders gehad het, sodat die geslagslyn tot in die 4de eeu voortgeduur het.
Die "Tyranni Triginta", 'n boek van die Augustynse Geskiedenis (wat in die 4de eeu geskryf is) bevat 'n halfspottende verslag van Zenobia se lewe en oorwinnings.