90482 Orcus (voorlopige naam 2004 DW) is ’n trans-Neptunus-voorwerp (TNV) in die Kuipergordel met ’n groot maan, Vanth. Dit is op 17 Februarie 2004 ontdek deur die Amerikaanse sterrekundiges Michael Brown, Chad Trujillo en David Rabinowitz. Beelde van Orcus voor sy ontdekking strek terug tot 8 November 1951.[2]
Die wentelbane van Orcus (blou), Pluto (rooi) en Neptunus (grys).
Orcus is ’n plutino, ’n TNV wat in ’n 2:3-resonansie met die ysreus Neptunus vasgevang is: Dit voltooi twee omwentelings om die Son vir elke drie deur Neptunus. Dit is baie soortgelyk aan Pluto, behalwe dat dit altyd aan die teenoorgestelde fase van sy wentelbaan is. Orcus is by sy afelium wanneer Pluto by sy perihelium is en omgekeerd. Verder wys die afelium van Orcus se wentelbaan in feitlik die teenoorgestelde rigting as Pluto s'n, hoewel die eksentrisiteit en baanhelling dieselfde is. Vanweë dié ooreenkomste en verskille word Orcus en sy groot maan, Vanth, wat herinner aan Pluto se groot maan, Charon, soms beskou as die anti-Pluto. Dit was ’n groot oorweging in die keuse van sy naam, want die godheid Orcus was die Etruskers se weergawe van die RomeinsePluto, en dit het later die altenatiewe naam vir Pluto geword.[14]
Orcus se oppervlak is relatief helder, met sy albedo wat tot 23% kan wees. Dit is grys en ryk aan water. Die ys is hoofsaaklik in kristalvorm, wat dui op kriovulkanisme in die verlede. Ander samestellings soos metaan of ammoniak kan ook teenwoordig wees. Die bestaan van ’n maan het wetenskaplikes in staat gestel om die stelsel se massa te bereken – dit is min of meer dieselfde as dié van Saturnus se maan Tethis. Die verhouding van die massa tussen Orcus en Vanth is onseker, moontlik iewers tussen 1:33 en 1:12.[8]
Orcus se deursnee word op sowat 920 km geraam en Vanth s’n op sowat 280 km; dit is mits hul albedo dieselfde is.[6]
↑Brown, Michael E.; Butler, Bryan J. (22 Januarie 2018). "Medium-sized satellites of large Kuiper belt objects". [astro-ph.EP].
↑ 8,08,1Carry, B.; Hestroffer, D.; Demeo, F. E.; Thirouin, A.; Berthier, J.; Lacerda, P.; Sicardy, B.; Doressoundiram, A.; Dumas, C.; Farrelly, D.; Müller, T. G. (2011). "Integral-field spectroscopy of (90482) Orcus-Vanth". Astronomy & Astrophysics. 534: A115. arXiv:1108.5963. Bibcode:2011A&A...534A.115C. doi:10.1051/0004-6361/201117486.
↑
Barucci, M. A.; Merlin; Guilbert; Bergh; Doressoundiram; et al. (2008). "Surface composition and temperature of the TNO Orcus". Astronomy and Astrophysics. 479 (1): L13–L16. Bibcode:2008A&A...479L..13B. doi:10.1051/0004-6361:20079079.