Algirdas Brazauskas | |
Algirdas Brazauskas in 1998 | |
Eerste sekretaris van die Kommunistiese Party van Litaue se Sentrale Komitee
| |
Ampstermyn 1988 – 1989 | |
Voorafgegaan deur | Ringaudas Bronislovas Songaila |
---|---|
Opgevolg deur | Mykolas Burokevičius |
9de President van Litaue
| |
Ampstermyn 25 Februarie 1993 – 25 Februarie 1998 | |
Voorafgegaan deur | Vytautas Landsbergis |
Opgevolg deur | Valdas Adamkus |
Eerste minister van Litaue
| |
Ampstermyn 3 Julie 2001 – 31 Mei 2006 | |
Voorafgegaan deur | Eugenijus Gentvilas |
Opgevolg deur | Zigmantas Balčytis |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 22 September 1932 Rokiškis, Litaue |
Sterf | 26 Junie 2010 Vilnius, Litaue |
Politieke party | Litause Sosiaaldemokratiese Party |
Eggenoot/-note | Kristina Brazauskienė |
Alma mater | Politegniese Instituut in Kaunas |
Professie | Ingenieur in hidrotegniek |
Algirdas Mykolas Brazauskas (22 September 1932 in Rokiškis, Litaue; † 26 Junie 2010 in Vilnius) was 'n Litause politikus. Hy het die ampte van Litause president (1993-1998) en eerste minister (2001-2006) beklee. Sy regering het op 31 Mei 2006 bedank nadat die Litause Arbeidsparty (Darbo partija) die regeringskoalisie verlaat het.
) (*Algirdas Brazauskas is in die klein Noord-Litause stad Rokiškis gebore waar sy vader as amptenaar werksaam was. Nadat hy sy skoolloopbaan aan die Middelskool in Kaišiadorys naby Kaunas voltooi het, het hy in 1951 by die Politegniese Instituut in Kaunas (tans die Tegniese Universiteit van Kaunas) ingeskryf en in 1956 sy akademiese graad as ingenieur in hidrotegniek behaal.
Hy was vervolgens op verskillende poste vir die regering van die Litause SSR en die Kommunistiese Party van Litaue (KPL) werksaam. Vanaf 1965 het hy die amp van minister vir boumateriaal en vanaf 1967 dié van vise-voorsitter van die staatsbeplanningskomitee beklee. In die 1980's het hy as die Sentrale Komitee se sekretaris vir nywerhede gefungeer waarby energiekwessies deel van sy breë verantwoordelikhede was. In verband met die proteste teen die uitbreiding van die kernkragsentrale Ignalina naby Visaginas het Brazauskas as hervormer opgetree en kritiek op Moskou se beleid in Litaue gelewer.
In Oktober 1988 is Brazauskas tot eerste sekretaris van die KPL verkies. Onder sy leierskap het die party hom in Desember 1989 losgemaak van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie, sy magsmonopolie laat gaan en uiteindelik 'n nuwe politieke posisie as Sosiaaldemokratiese Litause Demokratiese Arbeidsparty (Lietuvos demokratinė darbo partija, LDDP) ingeneem. Op dié party se eerste vergadering in Desember 1990 is Brazauskas tot voorsitter verkies, en hy het vervolgens daarin geslaag om die Sosiaaldemokrate se rol as invloedrykste politieke party in die nuut onafhanklike Litaue te handhaaf. Die party, wat intussen hernoem is tot Litause Sosiaaldemokratiese Party (LSDP), is volgens sy ledetal steeds een van die beduidendste politieke organisasies in Litaue.
Brazauskas is een van die 124 ondertekenaars van die Litause onafhanklikheidsverklaring van Maart 1990 en was as Litause vise-premier in die eerste regering onder Kazimiera Prunskienė (Maart 1990 tot Januarie 1991) van begin af een van die leidende politici van die onafhanklike Republiek van Litaue.
Ná die algemene verkiesings van 1992 het Brazauskas as parlementspresident en sodoende ook as waarnemende staatspresident en opvolger van die leier van die Litause onafhanklikheidsbeweging Sąjūdis en oortuigde anti-kommunis, Vytautas Landsbergis, gedien. In Februarie 1993 is Brazauskas met 60 persent van die uitgebragte stemme tot staatspresident van Litaue verkies. Hy het hierdie amp tot en met Desember 1998 beklee en is, nadat hy besluit het om nie vir 'n tweede ampstermyn te staan, deur Valdas Adamkus opgevolg.
Nadat die LDDP met die bestaande Sosiaaldemokratiese Party van Litaue (Lietuvos socialdemokratų partija, LSDP, gestig in 1896) saamgesmelt het, is Brazauskas in Januarie 2001 as voorsitter van die nuwe verenigde party verkies. Kort daarna het hy ook eerste minister geword nadat die konserwatief-liberale regeringskoalisie onder Rolandas Paksas na slegs enkele maande sy meerderheid in die parlement verloor het.
Die nuwe koalisie van Sosiaaldemokrate en die Nuwe Unie/Sosiaal-Liberale (Naujoji Sąjunga (Socialliberalai)) onder leiding van parlementspresident Artūras Paulauskas het danksy sy volstrekte meerderheid in die Seimas, die Litause parlement, 'n tydperk van politieke stabiliteit aan die land verskaf. Stewige ekonomiese groei en Litaue se toetreding tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en die Europese Unie in die lente van 2004 was belangrike prestasies van die destydse regering.
Die regeringskoalisie, wat voor die algemene verkiesing in Oktober 2004 'n gemeenskaplike politieke beweging onder die naam "Werkgeleenthede vir Litaue!" (Už Darbą Lietuvai!) gevorm het, is by die stembus deur die nuutgestigte Arbeidsparty (Darbo partija) onder leiding van die entrepreneur Viktor Uspakich oorvleuel. Nogtans het Brazauskas daarin geslaag om in November 2004 'n koalisie tussen sy eie politieke groepering en die nuwe Arbeidsparty te vorm waarin hy steeds as eerste minister gefungeer het.
Op 1 Junie 2006 het Brazauskas se regering bedank oor 'n geskil met die Arbeidersparty oor die benoeming van nuwe ministers uit dié party se geledere.[1] Die regering het sy meerderheid reeds in Maart 2006 verloor nadat die Nuwe Unie (Naujoji Sąjunga) die koalisie verlaat en sewe lede van die Arbeidsparty hul lidmaatskap in die party opgesê het. President Valdas Adamkus het nog op dieselfde dag die minister van finansies, Zigmantas Balčytis, as waarnemende premier benoem.
Ofskoon Brazauskas aangekondig het dat hy uit die politiek sou aftree, het hy nog tot 19 Mei 2007 as voorsitter van die Sosiaaldemokratiese Party van Litaue gefungeer. Hy is opgevolg deur Gediminas Kirkilas. As erevoorsitter van die party het Brazauskas steeds 'n beduidende invloed op die party gehad.
Brazauskas was 'n erelid van die Internasionale Raoul Wallenberg Stigting.[2] In Desember 2008 is Brazauskas met limfatiese kanker gediagnoseer.[3]
Videonuus