Anatolië Anadolu | |
---|---|
![]() Satellietbeeld van die gebied.
![]() 'n Kaart van Anatolië (groen).
| |
Ligging | Wes-Afrika |
Oppervlakte | 537 886 km2 |
Land | Turkye |
Hoofstad | Ankara |
Volke | Hoofsaaklik Turke[1][2] |
Anatolië (Turks: Anadolu), ook bekend as Klein-Asië,[nota 1] is 'n skiereiland aan die wespunt van Asië, wat twee derdes (87 persent) van die hedendaagse Turkye insluit. Die gebied strek oor 'n oppervlakte van 756 000 vierkante kilometer. Dit word in die weste deur die Egeïese See begrens, in die noordweste deur die See van Marmara en Thracië, en in die noorde deur die Swartsee.
Topografies verbind die See van Marmara die Swartsee met die Egeïese See deur die Bosporus en die Dardanelle, en skei dit Anatoloië van Thraciè in Suidoos-Europa.
In die Neolitikum was Anatolië 'n vroeë sentrum vir die ontwikkeling van boerdery nadat dit in die aangrensende Vrugbare Halfmaan begin het. Van sowat 9 000 jaar gelede af was daar 'n groot migrasie van Anatoliese Neolitiese boere na Europa, met hulle afstammelinge wat die vasteland in die weste tot by die Iberiese Skiereiland en die Britse eilande oorheers het.
Die vroegste bekende bewoners van Anatolië, wat nie Indo-Europees of Semities was nie, is geleidelik opgeneem in die inkomende Indo-Europese Anatoliese volke, wat die nou uitgestorwe Anatoliese tale gepraat het. Die groot Anatoliese tale was Hetities, Loewies en Lidies. Ander plaaslike tale, hoewel dit nie so volop was nie, sluit in Frigies en Misies. Die Horities-Urartiese tale is in Mitanni in die suidooste gepraat en Galaties, 'n Keltiese taal, in Galasië op die sentrale skiereiland. Onder die ander volke wat 'n aansienlike teenwoordigheid in antieke Anatolië gehad het, was die Horiete, Assiriërs, Armene en Kimmeriërs, sowel as 'n paar antieke Griekse stamme. In die tydperk van die klassieke oudheid is die Anatoliese tale grootliks vervang met Grieks, wat die streek verder in die Hellenistiese en die Romeinse tydperk oorheers het.
In die Bisantynse tydperk het die invloed van Grieks deur die skiereiland afgeneem terwyl die Bisantyns-Seldjoekse oorloë die inkomende Seldjoeke in staat gestel het om 'n vastrapplek in die streek te kry. Die proses van Anatolië se Turkifikasie het dus in die 11de eeu onder die Seldjoekse Ryk begin en in die Ottomaanse tydperk voortgeduur tot die vroeë 20ste eeu, toe die Ottomaanse Ryk ineengestort het in die tyd ná die Eerste Wêreldoorlog.
Tussen 1894 en 1924 is miljoene nie-Turke en Christene onderdruk en deur die Turkse owerhede verwyder uit die grootste deel van wat vandag Turkye is. Tog word 'n verskeidenheid nie-Turkse tale steeds deur etniese minderhede in Anatolië gepraat, insluitende Arabies, Koerdies, Georgies en Grieks.
Anatolië word tradisioneel beskou as dat hy in die ooste loop tot by 'n vae lyn van die Golf van Iskenderun tot die Swartsee,[4] aangrensend aan die Anatoliese plato. Volgens dié definisie word Anatolië in die ooste begrens deur die Armeense Hoogland en die Eufraat voordat die rivier na die suidooste draai om in Mesopotamië in te loop.[5]
In die suidooste word dit begrens deur die bergreekse wat dit van die Orontesvallei in Sirië afsny en die Mesopotamiese vlakte.[5]
Ná die Armeense volksmoord is Wes-Armenië deur die nuutgestigte Turkse regering hernoem tot die Oos-Anatoliese Streek.[6][7] In 1941, met die Eerste Geografies Kongres wat Turkye in sewe geografiese streke verdeel het geskoei op verskille in klimaat en landskap, is die oostelike provinsies van Turkye in die Oos-Anatoliese Streek geplaas[8] wat grootliks ooreenstem met die historiese streek Wes-Armenië. Vazken Davidian het die uitgebreide naam Anatolië gebruik vir die gebied in Oos-Turkye wat voorheen "Armenië" genoem is.
Die hoogste berg in die Oos-Anatoliese Streek (ook die hoogste op die Armeense Hoogland) is berg Ararat (5 123 m).[9] Die riviere Eufraat, Aras, Karasu en Murat verbind die Armeense Hoogland met die Suid-Kaukasus en die Bo-Eufraatvallei. Saam met die Çoruh is dié riviere die langstes in die Oos-Anatoliese Streek.[10]
Die oudste naam vir enige gebied in Anatolië is vir die sentrale streek, wat bekend was as "Hatti". Dit is aanvanklik deur die antieke Hattiërs vir hulle land gebruik, maar het later die naam van die hele gebied onder die heerskppy van die Hetiete geword.[11]
Die eerste aangetekende naam wat die Grieke vir die skiereiland gebruik het, was Ἀσία (Asia), hoewel dit nie baie gewild was nie.[12] Dit kom miskien van die Akkadiese woord vir sonsopkoms of van die naam van Assoewa in Wes-Anatolië. Die Romeine het dit gebruik vir die naam van hulle provinsie Asia, wat die weste van die skiereiland asook die nabygeleë Egeïese eilande ingesluit het. Terwyl die naam "Asia" of "Asië" se gebruik uitgebrei is om die groter streek oos van die Middellandse See in te sluit, het sommige Grieke in die laat oudheid Μικρὰ Ἀσία (Mikrà Asía, "Klein-Asië") begin gebruik vir die hedendaagse Anatolië. Die hele ryk het egter daarna verwys as Ἀνατολή (Anatolḗ, letterlik "die Ooste").
Die endoniem Ῥωμανία (Rōmanía, "land van die Romeine" en dus die oostelike Romeinse provinsie) is as 'n ander naam vir die streek gebruik deur die invallende Seldjoekse Turke, wat in 1077 'n sultanaat van Rûm gestig het. So het (Land van die) Rûm 'n ander naam vir Anatolië geword. Teen die 12de eeu het Europeërs na Anatolië begin verwys as "Turchia".[13]
In die tyd van die Ottomaanse Ryk het kaarttekenaars na die bergagtige plato in Oos-Anatolië as "Armenië" verwys. Ander kontemporêre bronne noem dieselfde gebied "Koerdistan".[14] Geograwe het "Oos-Anatoliese plato", "Armeense plato" en "Iranse plato" vir die gebied gebruik.[15] Die standaarddefinisie van Anatolië verwys na die hele Asiatiese deel van Turkye.[15]
Turkye se Eerste Geografiese Kongres in 1941 het twee geografiese streke geskep vir die gebied oos van die Iskenderun-Swartsee-lyn, de Oos-Anatoliese Streek en die Suidoos-Anatoliese Streek.[16] Eersgenoemde stem hoofsaaklik ooreen met die westelike deel van die Armeense Hoogland en laasgenoemde met die noordelike deel van die Mesopotamiese vlakte. Volgens die Amerikaanse historikus Richard Hovannisian was dit "nodig om alle bewyse van die Armeense teenwoordigheid uit te wis as deel van die nuutgestigte Turkse regering se beleid om die Armeense volksmoord te ontken".[17]
Menslike bewoning van Anatolië strek terug tot die Paleolitikum.[18] Neolitiese nedersettings sluit in Çatalhöyük, Çayönü, Nevali Cori, Aşıklı Höyük, Boncuklu Höyük, Hacilar, Göbekli Tepe, Norşuntepe, Köşk Höyük en Yumuktepe. Van hulle word Çatalhöyük (7000 v.C.) as die gevorderdste een beskou.[19] Onlangse navorsing in argeogenetika het bevestig dat die verspreiding van landbou van die Midde-Ooste na Europa sterk verband hou met die migrasie van vroeë boere van Anatolië 9 000 jaar gelede en nie net 'n kulturele uitruiling was nie.[20]
Anatoliese Neolitiese boere het die grootste deel van hulle herkoms geërf van plaaslike jagter-versamelaars, wat daarop dui dié jagter-versamelaars het landbou plaaslik aanvaar en dat dit nie na die streek gebring is nie.[21] Anatoliese Neolitiese boere het dus oor Europa versprei, tot by die Iberiese Skiereiland en die Britse eilande in die weste[22]en tot by Magreb.[23] Die meeste moderne Europeërs het 'n aansienlike deel van hulle herkoms van dié Anatoliese boere geërf.[24]
Die Neolitiese Anatalië is al voorgestel as die tuisland van die Indo-Europese taalfamilie, hoewel die meeste linguiste 'n latere oorsprong in die steppes noord van die Swartsee voorstaan. Tog is dit duidelik dat die Anatoliese tale, die vroegste aangetekende tak van Indo-Europees, minstens sedert die 19de eeu v.C. in Anatolië gepraat is.[25][26]
Die vroegste historiese data oor Anatolië kom blykbaar uit die Bronstydperk en duur deur die Ystertydperk. Die oudste tydperk in die geskiedenis van Anatolië strek van die opkoms van die antieke Hattiërs tot met die verowering van Anatolië in die 6de eeu v.C. deur die Achaemenidiese Ryk.
Die vroegste aangetekende bewoners van Anatolië was die Hattiërs in Sentraal-Anatolië en die Horiete verder oos. Die Hattiërs was 'n inheemse volk, wie se hoofsentrum die stad Hattoesa was. Die affiliasie van Hatties is nog onduidelik, terwyl Horities behoort tot 'n familie van Horities-Urartiese tale. Al dié tale het uitgesterf.
Die streek het beroemd geword vir die uitvoer van grondstowwe. Georganiseerde handel tussen Anatolië en Mesopotamië het begin in die tyd van die Akkadiese Ryk en het toegeneem in die tyd van die Oud-Assiriese Ryk, tussen die 21ste en 18de eeu v.C. Assiriese handelaars het tin en tekstiele na Anatolië gebring in ruil vir koper, silwer of goud. Rekords in wigskrif wat uit die 20ste eeu v.C. dateer en by Kanesj ontdek is, het 'n gevorderde stelsel van handelsberekenings en kredietlyne gebruik.[27][28][29]
Anders as die Akkadiërs en Assiriërs, wie se Anatoliese handelsposte aan die rand van hulle kerngebiede in Mesopotamië gelê het, was die Hetiete teen die 17de eeu v.C. in Hattoesa (die moderne Boğazkale) in Noordsentraal-Anatolië gesentreer. Hulle het Hetities, 'n Indo-Europese taal, gepraat wat hulle nesjili (die taal van Nesja) genoem het. Die Hetiete het ontstaan uit plaaslike antieke kulture wat in Anatolië ontstaan het. Hulle word omstreeks 2000 v.C. die eerste keer op die Assiriese tablette van Nesja genoem. Hulle het Hattoesa in die 18de eeu v.C. verower, en die Hattiërs en Horiete oorheers. Hulle het egter nie dié bevolkings noodwendig geneties verplaas nie, maar is in dié kulture opgeneem met behoud van hulle taal.
Die Hetiete het die Mesopotamiese wigskrif aangeneem. In die laat Bronstydperk, omstreeks 1650 v.C., is die nuwe Hetitiese koninkryk gestig en in die 14de eeu v.C. het dit 'n ryk geword ná die verowering van Kizzoewatna in die suidooste en die oorwinning van Assuwa in Wes-Anatolië. Die ryk het in die 13de eeu v.C. 'n hoogtepunt bereik toe dit 'n groot deel van Klein-Asië, Noordwes-Sirië en Noorwes-Mesopotamie beheer het. Die uitbreiding na die Swartsee is egter stopgesit deur die seminomadiese Kaskiërs, 'n nie-Indo-Europese volk.[30] 'n Groot deel van die geskiedenis van die Hetitiese Ryk gaan oor oorlog met die mededingende ryke Egipte, Assirië en Mitanni.[31]
Die Antieke Egiptenare het uiteindelik aan die streek onttrek nadat hulle nie daarin kon slaag om die Hetiete te oorwin nie en bekommerd geraak het oor die mag van Assirië, wat Mitanni verower het.[31] Die Assiriërs en Hetiete is agtergelaat om oor beheer van Oos- en Suid-Anatolië en koloniale gebiede in Sirië te veg. Die Assiriërs het groter sukses as die Egiptenare behaal en 'n groot deel van die Hetitiese (en Horitiese) gebied in die streke verower.[32]
Ná 1180 v.C., tydens die verval van die Bronstydperk, het die Hetitiese Ryk in verskeie onafhanklike Siries-Hetitiese state versplinter. Eindelik is baie grond afgestaan aan die Middel-Assiriese Ryk en die Frigiërs, nog 'n Indo-Europese volk wat vermoedelik van die Balkan af migreer het. Die Frigiese uitbreiding na Suidwes-Anatolië is eindelik stopgesit deur die Assiriërs, wat die streek beheer het.[32]
Nog 'n Indo-Europese volk, die Loewiërs, het omstreeks 2000 v.C. in Sentraal- en Wes-Anatolië opgang gemaak. Hulle taal het tot dieselfde linguistiese tak as Hetities behoort.[33] Die algemene konsensus onder kenners is dat Loewies oor 'n groot deel van Wes-Anatolië gepraat is.[34]
Van die 9de eeu v.C. af het die Loewiese streke saamgesmelt tot baie state, soos Lidië, Karië en Lisië, wat almal Hellenistiese invloed gehad het.
Arameërs het oor die grense van Suidsentraal-Anatolië gekom in die eeu of so ná die val van die Hetitiese Ryk, en sommige van die Siries-Hetitiese state het 'n mengsel van Hetiete en Arameërs geword.
Van die 10de tot die laat 7de eeu v.C. is 'n groot deel van Anatolië (veral die suidoostelike streke) deur die Nieu-Assiriese Ryk verower, insluitend al die Siries-Hetitiese state, die Kimmeriërs, die Skitiërs en dele van Kappadosië.
Die Nieu-Assiriese Ryk het verval weens 'n reeks bitter burgeroorloë ná 'n gekombineerde aanval deur die Mede, Perse, Skitiërs en Babiloniërs. Die laaste Assiriese stad wat geval het, was Harran in Suidoos-Anatolië. 'n Groot deel van die streek is toe oorgeneem deur die kort bestaande Mediese Ryk.
Van die laat 8ste eeu v.C. het 'n nuwe vlaag Indo-Europse invallers Noord- en Noordoos-Anatolië binnegekom: die Kimmeriërs en Skitiërs. Eersgenoemde het Frigië oorgeneem en laasgenoemde het gedreig om dieselfde met Urartu en Lidië te doen, totdat albei deur die Assiriërs gestop is.
Die noorweskus van Anatolië is van die 20ste eeu v.C. af bewoon deur Grieke van die Achaïese/Miceense kultuur, wat verwant was aan die Grieke van Suidoos-Europa en die Egeïese eilande.[35]
Ná die verval van die Bronstydperk aan die einde van die 2de millennium v.C. het Ioniese Grieke die weskus van Anatolië ingeval en die gebied van die verwante, maar vroeëre Miceense Grieke oorgeneem. Oor verskeie eeue is talle antieke Griekse stadstate aan die kuslyne van Anatolië gestig.[35]
In die klassieke oudheid het die Antieke Griekse historikus Herodotos en latere historici Anatolië beskryf as verdeel in streke wat uiteenlopend was wat kultuur, taal en godsdienspraktyke betref.[36] Die noordelike streke het ingesluit Bitinië, Paflagonië en Pontus; in die weste was daar Misië, Lidië en Karië; en aan die suidkus Lisië, Pamfilië en Sisilië.
Daar was ook verskeie binnelandse streke: Frigië, Kappadosië, Pisidië en Galasië.[36] Tale wat gepraat is, sluit in die Anatoliese tale wat laat oorleef het, Isauries[37] en Pisidies, Grieks in westelike en kusstreke, Frigies tot die 7de eeu v.C.,[38] plaaslike weergawes van Thracies in die noordweste, Galaties tot die 6de eeu v.C.,[39][40] Kappadosies,[41] en Armeens in die ooste.
Anatolië is bekend as die tuiste van gemunte geld (in teenstelling met ongemunte geld, wat veel vroeër in Mesopotamië ontstaan het), iewers in die 7de eeu v.C. in Lidië. Die gebruik van gemunte geld het in die Griekse en Romeinse tydperk bly floreer.[42][43]
In die 6de eeu v.C. is die hele Anatolië verower deur die Persiese Achaemenidiese Ryk. In 499 v.C. het die Ioniese stadstate aan die weskus van Anatolië teen die Persiese bewind in opstand gekom. Hoewel die Ioniese opstand onderdruk is, het dit gelei tot die Grieks-Persiese Oorloë, wat geëindig het in 'n Griekse oorwinning in 449 v.C., en die Ioniese stede het hulle onafhanklikheid teruggekry. Teen 387 v.C. het Persië beheer oor Ionië teruggekry.[44][45]
In 334 v.C. het die Masedoniese koning Alexander die Grote die Anatoliese skiereiland van die Achaemenidiese Ryk verower.[46] Alexander se oorwinning het die binneland van Klein-Asië geopen vir Griekse besetting en invloed.
Ná die dood van Alexander die Grote en die daaropvolgende verval van die Masedoniese Ryk, is Anatolië regeer deur 'n reeks Hellenistiese koninkryke, insluitende die Attaliede en die Seleukidiese Ryk, wat later die grootste deel van Anatolië beheer het. 'n Tydperk van vreedsame Hellenisasie het gevolg, sodat die plaaslike Anatoliese tale teen die 1ste eeu v.C. deur Grieks vervang was. In 133 v.C. het die laaste Attalidiese koning sy koninkryk aan die Romeinse Republiek bemaak. Eindelik het feitlik die hele Anatolië onder Romeinse beheer gekom, maar die Hellenistiese kultuur het oorheersend gebly.
Ná die eerste verdeling van die Romeinse Ryk het Anatolië deel van die Oos-Romeinse Ryk geword, wat ook bekend was as die Bisantynse Ryk of Bisantium.[48] In die 1ste eeu n.C. het Anatolië een van die eerste plekke geword waarheen die Christendom versprei het. Teen die 4de eeu was die streek oorwegend Christelik en Griekssprekend.[48]
Die Bisantynse Anatolië was een van die rykste en digs bevolkte plekke in die latere Romeinse Ryk. Die streek se rykdom het gedurende die 4de en 5de eeu gegroei, deels danksy die Pelgrimspad wat deur die skiereiland geloop het. Letterkundige bewyse van die plattelandse landskap kom uit die hagiografie van die 6de-eeuse Nikolaas van Sion en die 7de-eeuse Theodorus van Sikeon. Groot en vooruitstrewende stedelike sentrums het ingesluit Assos, Efese, Miletus, Nicea, Pergamon en Afrodisias.[48]
Van die middel 5de eeu af het verstedeliking begin afneem, trwyl die plattelandse gebiede ongekende vlakke van vooruitgang beleef het.[48] Historici en kenners debatteer nog oor die redes vir die afname in verstedeliking.[48] Sommige skryf dit toe aan die pes van Justinianus (541) en ander aan die Bisantyns-Sassanidiese Oorlog (602-'28) of die Moslemse verowering van die Levant (634-'38).[49]
In die 10 jaar ná 1071 het die Seldjoekse Turke van Sentraal-Asië na groot dele van Anatolië migreer, met groot konsentrasies veral om die noordwestelike platorand.[50] Turks en Islam is geleidelik bekend gestel vanweë die Seldjoekse verowerings, en in dié tyd het Anatolië stadigaan verander van 'n oorheersend Christelike en Griekssprekende gebied tot 'n oorheersend Moslemse en Turkssprekende streek, hoewel etniese groepe soos die Armene, Grieke en Assiriërs talryk was en hulle eie tale behou het.
In die volgende eeu het die Bisantyne daarin geslaag om hulle beheer in Wes- en Noord-Anatolië te hervestig. Die beheer oor die skiereiland was toe verdeel tussen die Bisantynse Ryk en die Seldjoekse Sultanaat Rûm. Die Bisanynse vestings het egter al hoe minder geraak.[51]
In 1255 het die Mongole deur Oos- en Sentraal-Mongolië versprei en daar gebly tot in 1335. Die garnisoen van die Il-khanaat was naby Ankara gestasioneer.[51][52] Na dié verval van die Il-khanaat van 1335 tot 1353 was die Mongoolse nalatenskap in die streek die Oeigoerse Eretna-dinastie, wat in 1381 deur Kadi Burhan al-Din as sultan oorgeneem is.[53]
Teen die einde van die 14de eeu was die grootste deel van Anatolië onder die beheer van verskeie beyliks (prinsdomme). Smirna het in 1330 geval en die laaste Bisanynse vesting, Philadelphia, in 1390. Die Turkmeense beyliks was onder beheer van die Mongole, minstens in naam, weens die agteruitgang van die Seldjoekse sultans.[54][55]
Onder die Turkse leiers het die Ottomane onder Ottoman en sy seun, Orhan, die grootste mag geword.[56][57] Die beyliks is in die 15de eeu suksesvol in die opkomende Ottomaanse Ryk opgeneem.[58] Dit word nie goed begryp hie die Ottomaanse Turke daarin geslaag het om hulle bure te oorheers nie.[59]
Die Ottomane het hulle oorname van die skiereiland in 1517 voltooi met die verowering van Halicarnassus (die moderne Bodrum) van die Orde van die Johanniters.[60]
Met die al hoe vinniger verval van die Ottomaanse Ryk in die vroeë 19de eeu, en as gevolg van die Russiese Ryk se uitbreidingsbeleide in die Kaukasus, het baie Moslemvolke en groepe in dié streek (hoofsaaklik Sirkassiërs, Tartare, Azerbeidjanners en Tsjetsjene) hulle tuislande verlaat en hulle in Anatolië gevestig. Nadat die Ottomaanse Ryk verder gekrimp het in die Balkanstreke en toe verbrokkel het tydens die Balkanoorloë, het baie van hulle nie-Christelike bevolkings, hoofsaaklik Balkan-Moslems (Bosniake, Albanese, Turke, Moslemse Bulgare en Griekse Moslems) hulle in verskeie dele van Anatolië hervestig, veral op voormalige Christelike dorpe.
'n Omgekeerde migraise het sedert die vroeë 19de eeu plaasgevind toe Grieke van Anatolië, Konstantinopel en Pontus na die nuwe onafhanklike Koninkryk Griekeland getrek het, asook na die VSA, die suidelike deel van die Russiese Ryk, Latyns-Amerika en die res van Europa.
Ná die Russies-Persiese Verdrag van Torkamanchai (1828) en die inlywing van Oos-Armenië by die Russiese Ryk, het nog 'n migrasie plaasgevind onder die groot Armeense bevolking van Anatolië, van Wes-Armenië (Oos-Anatolië) na die Russiese Ryk, veral na sy nuutgestigte Armeense provinsies.[61]
Anatolië het veelrassig gebly tot in die vroeë 20ste eeu. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Assiriese, Griekse en Armeense volksmoord feitlik die antieke inheemse gemeenskappe van Armene, Grieke en Assiriërs uit Anatolië en omstreke verwyder. Ná die Grieks-Turkse Oorlog van 1919-'22 is die meeste oorblywende etniese Grieke uitgeforseer tydens die bevolkingsuitruiling van 1923 tussen Griekeland en Turkye. Van die oorblywende Grieke het die meeste Anatolië sedertdien verlaat. Vandag is daar minder as 5 000 oor.[62] Volgens Morris en Ze'evi het die Turke van 1894 tot 1924 vier miljoen Christene uit Klein-Asië verwyder.[63]
Anatolië se terrein is struktueel ingewikkeld. 'n Sentrale massief met opgeligte blokke en neergebuigde trôe, wat bedek is met onlangse deposito's wat dit die voorkoms van 'n plato met 'n rowwe terrein gee, lê tussen twee gevoude bergreekse wat in die weste saamloop. Ware laagland is beperk tot 'n paar smal kusstroke aan die Egeïese, Middellandse en Swartsee.
Plat grond en grond met geleidelike hellings is skaars en hoofsaaklik beperk tot die deltas van die Kızılrivier, die kusvlaktes van Çukurova en die valleivloere van die Gediz- en die Büyük Menderesrivier, sowel as 'n paar binnelandse hoë vlaktes, hoofsaaklik om die Tuzmeer en die Konyabekken.
Daar is twee bergreekse in Suid-Anatolië: die Taurus en die Zagros.[64]
Anatolië het 'n verskeidenheid klimate. Die sentrale plato word gekenmerk deur 'n kontinentale klimaat, met warm somers en koue winters met sneeu. Die suid- en weskus het 'n tipiese Mediterreense klimaat, met matige winters en warm, droë somers.[65] Die kus van die Swartsee en See van Marmara het 'n matige oseaanklimaat, met warm somers met mis en baie reën deur die jaar.
Die grootste stedE van Anatolië (buiten die Asiatiese kant van Istanboel) is Ankara, Izmir, Bursa, Antalya, Konya, Adana, Izmit, Mersin, Manisa, Kayseri, Samsun, Balıkesir, Kahramanmaraş, Aydın, Adapazarı, Denizli, Muğla, Eskişehir, Trabzon, Ordu, Afyonkarahisar, Sivas, Tokat, Zonguldak, Kütahya, Çanakkale, Osmaniye en Çorum. Hulle het almal 'n bevolking van meer as 500 000.
{{cite journal}}
: Check |pmc=
value (hulp)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)