Androginie is wanneer 'n mens beide manlike en vroulike eienskappe besit.[1] Androginie kan gebruik word in verband met biologiese geslag, genderidentiteit of genderuitdrukking. Wanneer "androginie" verwys na gemengde biologiese geslagseienskappe in mense, verwys dit dikwels na interseks mense, wat gebore is met aangebore variasies wat dit moeilik maak om hulle geslag by geboorte te bepaal. In vergelyking is hermafroditisme die besit van beide manlike en vroulike voortplantingsorgane.[2] Dit word deesdae as neerhalend beskou as dit vir mense gebruik word.
Wat genderidentiteit betref, kan androginiese individue identifieer met niebinêre identiteite. Ander kan as transgender identifiseer. Op fisieke gebied kan 'n androginiese voorkoms bereik word deur persoonlike versorging, modes en hormoonbehandeling.
Androginie word vroeg in die geskiedenis al in geskrifte aangetref, asook in baie kulture wêreldwyd – van antieke Sumer tot latere Mesopotamiese kulture en die Griekse mitologie. Volgens Plato se Simposium het die mensdom as drie geslagte begin: man-mans, vrou-vroue en man-vroue. Sommige filosowe het in die laat oudheid die idee van androginie voorgestel as die mens se oorspronklike en perfekte toestand.
Die Westerse esoterisme se omarming van androginie het tot in die moderne geskiedenis voortgeduur. Die simbolisme en betekenis van androginie was sentraal in die idees van die sommige mistici en filosowe. Die filosofiese begrip van die "Universele Androgien" – 'n perfekte vermenging van die geslagte wat die huidige korrupte wêreld voorafgegaan het en/of die utopie van die volgende wêreld sal wees – is ook belangrik in sommige vorme van die geloof van die Orde van die Rosekruis.
In die middel 18de eeu nog was die macaroni's van Georgiaanse Engeland 'n welgestelde subkultuur van jong mans wat bekend was vir die uitdrukking van androginiese identiteit.
In die 1900's, van om en by die Eerste Wêreldoorlog, het genderrolle begin vervaag en modeontwerpers soos Coco Chanel het broeke vir vroue ontwerp. In die 1960's en 1970's het die vrouebevrydingsbeweging waarskynlik tot idees bygedra en modeontwerpers soos Yves Saint Laurent beïnvloed.
Bekende sangers wat in die moderne tyd 'n androginiese styl met hulle kleredrag bekend gestel het, was Elvis Presley, Mick Jagger, Boy George, Yoshiki, Grace Jones en Annie Lennox.
Die term is afgelei van die Griekse ἀνδρόγυνος (van ἀνήρ andro, "man", en γυνή gunē, gyné, "vrou-") deur die Latynse androgynus.[3]
Androginie word in vroeë geskiedkundige geskrifte en in baie kulture aangetref. In antieke Sumer was androginiese en interseks mans nou in die kultus van Inanna betrokke.[4]:157–158 'n Groep priesters bekend as gala het in Inanna se tempels gewerk, waar hulle rou- en klaagliedere uitgevoer het.[4]:285 Gala het vrouename aangeneem, in 'n dialek gepraat wat tradisioneel vir vroue gereserveer is en blykbaar seks met ander mans gehad.[5]
In latere Mesopotamiese kulture was kurgarrū en assinnu diensknegte van die godin Isjtar (Inanna se Oos-Semitiese eweknie). Hulle het vroueklere gedra en oorlogsdanse in Isjtar se tempels uitgevoer.[5] Volgens verskeie Akkadiese spreekwoorde het hulle blykbaar ook seks met ander mans gehad.[5] In een Akkadiese gesang word beskryf hoe Isjtar mans in vroue verander.[5]
Die tweede-eeuse Misjna, 'n stigtersgeskrif van die Rabbynse Judaïsme, noem die term androgynos 32 keer. Op een plek beskryf rabbi Meir die androgynos as "'n skepping in sy eie soort, wat die wysgeers nie kon besluit manlik of vroulik is nie".[6]
Die Griekse mite van Hermafroditos en Salmakis, twee gode wat in 'n enkele onsterflike saamgesmelt het, verskaf 'n verwysingsraamwerk wat eeue lank in die Westerse kultuur gebruik is. Androginie en homoseksualiteit word aangetref in Plato se Simposium, in 'n mite waar die mensdom as drie geslagte begin het: man-mans wat van die son af kom, vrou-vroue van die aarde af en man-vroue van die maan af.[7] Dit is een van die vroegste verwysings na androginie - en die enigste geval in klassieke Griekse geskrifte waar vroulike homoseksualiteit (lesbianisme) genoem word.
Filosowe soos Filo van Alexandrië en vroeë Christelike leiers soos Origenes het in die laat oudheid voortgegaan om die idee van androginie voor te stel as die mens se oorspronklike en perfekte toestand.[8] In die Middeleeuse Europa het die begrip androginie 'n belangrike rol gespeel in beide teologiese debatte en alchemiese teorie. Invloedryke teoloë soos Johannes van Demankus en Johannes Scotus het ook die idee van androginie van voor die sondeval verkondig wat deur die vroeë Kerkvaders voorgestel is.[8]
Die Westerse esoterisme se omarming van androginie het tot in die moderne geskiedenis voortgeduur.
'n Antologie van 1550 van alchemiese denkrigtings, De Alchemia, sluit die invloedryke "Bidsnoer van die Filosowe" in, waarin die heilige huwelik van die manlike beginsel (Sol) met die vroulike beginsel (Luna) gelei het tot die geboorte van die "Goddelike Androgien", 'n voorstelling van die alchemiese hermetiese geloof in dualisme, transformasie en die transendente perfeksie van die eenwording van teenoorgesteldes.[9]
Die simbolisme en betekenis van androginie was sentraal in die idees van die Duitse mistikus Jakob Böhme en die Sweedse filosoof Emanuel Swedenborg. Die filosofiese begrip van die "Universele Androgien" (of "Universele Hermafrodiet") – 'n perfekte vermenging van die geslagte wat die huidige korrupte wêreld voorafgegaan het en/of die utopie van die volgende wêreld sal wees – is ook belangrik in sommige vorme van die geloof van die Orde van die Rosekruis.[10][11]
In die middel 18de eeu was die macaroni's van Georgiaanse Engeland 'n welgestelde subkultuur van jong mans wat bekend was vir die uitdrukking van androginiese identiteit.[12] Hulle besonder groot pruike, uitspattige klere en sentimentele gedrag het 'n hewige teenreaksie van konserwatiewes van die tydperk ontlok. In 1770 het die Oxfordwoordeboek verklaar:
"There is indeed a kind of animal, neither male nor female, a thing of the neuter gender, lately started up among us. It is called a macaroni."
— Oxford English Dictionary[13]
'n Voorbeeld was die portretkunstenaar Richard Cosway, wat "die macaronikunstenaar" genoem is.[14]
Die woord "androginie" is histories toegepas op mense met 'n mengsel van manlike en vroulike geslagseienskappe en is soms as sinoniem vir die woord "hermafrodiet" gebruik.[15] In sommige dissiplines, soos botanie, word "androginies" en "hermafrodities" steeds om die beurt gebruik.
Wanneer androginie gebruik word om na fisieke eienskappe te verwys, verwys dit dikwels na iemand wie se biologiese geslag moeilik is om dadelik by geboorte vas te stel omdat hulle gemengde manlike en vroulike eienskappe het. Omdat androginie dui op bykomende betekenisse wat verband hou met genderidentiteit en -uitdrukking wat niks met biologiese geslag te doen het nie, word die woord vandag selde gebruik om gemengde biologiese geslagseienskappe in mense te beskryf.[16]
'n Individu se genderidentiteit – sy persoonlike aanvoeling van sy eie gender – kan as androginies beskryf word as hulle voel hulle het beide manlike en vroulike eienskappe. Die woord kan verwys na iemand wat nie netjies in een van die geslagsrolle van hulle gemeenskap pas nie, of na iemand wie se gender 'n mengsel van manlik en vroulik is (nie noodwendig half-half nie). Baie androginiese individue identifiseer as geestelik of emosioneel beide manlik en vroulik.
Hulle kan ook as genderneutraal, "genderqueer" of "niebinêr" identifiseer. 'n Androginiese persoon kan vrylik deelneem aan wat as manlike en vroulike gedrag beskou word, en kan hulle dissosieer van die gedrag wat tipies toegeskryf word aan die gender waartoe hulle sosiaal of fisiek behoort.[17]
Sommige nie-Westerse gemeenskappe erken bykomende androginiese genderidentiteite wat die "derde geslag" genoem word.
Genderuitdrukking wat 'n mengsel van manlike en vroulike eienskappe behels, kan as androginies beskryf word. Die kategorieë manlik en vroulik word maatskaplik bepaal en berus op gedeelde waarnemings van kleredrag, gedrag, kommunikasiestyl en ander aspekte van hoe 'n mens jou voordoen. In sommige kulture word androginiese genderuitdrukking gevier, terwyl dit in ander beperk is of onderdruk word.
Die woord genderqueer word dikwels deur androginiese individue gebruik om na hulleself te verwys, maar die terme "genderqueer" en "androginies" is nie dieselfde of uitruilbaar nie.[19] "Genderqueer", vanweë sy verbintenis met die queer kultuur, het sosiopolitieke konnotasies wat "androginies" nie het nie. Om dié rede kan sommige androginiese mense die etiket "genderqueer" onakkuraat, ontoepaslik of beledigend ervaar.
'n Alternatief vir androginie is genderrol-transendensie: die siening dat individuele bevoegdheid op 'n persoonlike basis beoordeel moet word, en nie op die basis van manlikheid, vroulikheid of androginie nie.[20]
In agenderisme word die verdeling van mense in mans en vroue (in die fisieke sin), as verkeerd en kunsmatig beskou.[21] Agender individue verwerp gender-etikettering in die waarneming van selfidentiteit en ander sake.[22][23][24][25] Hulle beskou hulleself as 'n "persoon" en nie as "man" of "vrou" nie.[22]:p.16 Volgens E.O. Wright kan genderlose mense eienskappe, gedrag en 'n gesindheid openbaar wat ooreenstem met wat tans as manlik of vroulik beskou word, en dié kombinasie kan van persoon tot persoon verskil. Dit beteken egter nie almal sal in die afwesigheid van genderverhoudings androginies in hulle identiteit en praktyke wees nie. Wat met die idee van genderloosheid verdwyn, is enige verwagting dat sommige eienskappe en gesindhede streng volgens 'n persoon se biologiese geslag bepaal word.[26]
Deur die grootste deel van die Westerse geskiedenis het sosiale reëls mense se kleredrag streng volgens gender bepaal. Broeke was tradisioneel net vir mans.[27]
In die 1900's, van om en by die Eerste Wêreldoorlog, het genderrolle begin vervaag en modeontwerpers soos Paul Poiret en Coco Chanel het broeke vir vroue ontwerp. Die flapper-styl vir vroue van dié tydperk het broeke en 'n netjiese bobhaarstyl ingesluit, en dit het vroue 'n androginiese voorkoms gegee.[28] Coco Chanel, wat self graag broeke gedra het, het broekmodes vir vroue ontwerp soos strandpajamas en perdryuitrustings.[27] In die 1930's het glansryke aktrises soos Marlene Dietrich baie betower en geskok met hulle broeke en androginiese styl. Dietrich word onthou as een van die eerste aktrises wat 'n broek na 'n première gedra het.[29]
In die 1960's en 1970's het die vrouebevrydingsbeweging waarskynlik tot idees bygedra en modeontwerpers soos Yves Saint Laurent beïnvloed.[30] Hy het Le Smoking-aandpak vir vroue in 1966 bekend gestel, terwyl Helmut Newton se erotiese androginiese foto's daarvan dit ikonies en klassiek gemaak het.[31]
Elvis Presley het 'n androginiese styl in ruk-en-rol bekend gestel.[32] Sy mooi gesig en gebruik van ooggrimering het baie mense laat dink hy is 'n taamlik "verwyfde man".[33] Toe die Rolling Stones in 1969 in Londen se Hyde Park optree, het Mick Jagger 'n wit "mansrok" gedra.[34] Dit is beskou as die verpersoonliking van die Swinging Sixties.[35]
In 1972 het David Bowie sy alter ego Ziggy Stardust bekend gestel, 'n karakter wat 'n simbool van seksuele dubbelsinnigheid was, toe hy die album The Rise and Fall of Ziggy Stardust and Spiders from Mars uitreik.[37]
Marc Bolan, nog 'n baanbreker van glam rock, het in 1971 op die BBC se Top of the Pops verskyn met blinkers en satynklere. Volgens die koerant The Independent het sy voorkoms "'n generasie tieners toegelaat om met die idee van androginie te begin speel".[38] Die Weseinde-musiekspel van 1973 The Rocky Horror Show het ook seksuele vloeibaarheid uitgebeeld.[39]
In die 1980's het nuwe modeontwerpers voortgegaan om die sosiale idees van gender uit te tart. Hulle het klem gelê op androginie in modeontwerp en gendersake. Dié beeld is ook deur popsterre soos Annie Lennox en Boy George uitgedra.[40][41]
Japannese ontwerpers het in die 1980's begin om androginiese modes gewild te maak, soos veral gesien is in die werk van Yohji Yamamoto en Rei Kawakubo. Hulle was die skeppers van 'n tipiese Japannese styl wat geskoei was op genderdubbelsinnigheid.[42]
Yamamoto het gesê sy dink dit is onnodig dat mans en vroue verskillende style dra. "Ek het altyd gewonder wie besluit het dat mans en vroue se klere verskillend moet lyk."[43]
Kragkleredrag vir vroue het in die 1980's selfs prominenter geword, terwyl dit vroeër hoofsaaklik deur mans gebruik is om invloedryk en magtig te lyk. In die artikel “The Menswear Phenomenon” deur Kathleen Beckett in 1984 in Vogue word die begrip kragkleredrag bespreek. Vroue het in die 1980's werke gekry wat hulle op 'n gelyke voet met mans geplaas het en hulle het dienooreenkomstig begin aantrek. Dit het 'n gewilde styl vir vroue geword.[44] Vroue het begin agterkom hulle kan mans met hulle kleredrag oorreed om meer aandag aan hulle intellektuele vermoëns te gee, eerder as aan hulle fisieke aantrekkingskrag.
In dié tyd het Grace Jones, 'n sanger en model, se androginiese voorkoms die publiek laat regop sit. Haar styl het baie mense geïnspireer en sy het 'n androginiese stylikoon vir moderne glansrykes geword.[45]
Androginie het in die vroeë 21ste eeu nog groter prominensie in die populêre kultuur gekry.[46] Beide die modenywerheid[47] en popkultuur het die androginiese voorkoms aanvaar en selfs gewild gemaak.
In 2016 het Louis Vuitton bekend gemaak dat Jaden Smith aan hulle vroueklereveldtog sou deelneem. Danksy gebeure soos dié is gendervloeibaarheid in die mode lewendig in die media bespreek, met mense soos Lady Gaga en Ruby Rose wat aan die begrip uiting gegee het. Jaden Smith en ander jong individue het die beweging geïnspireer met hulle beroep dat klere nie meer genderspesifiek moet wees nie, wat beteken mans moet rompe kan dra en vroue boksbroeke as hulle sou wou.[48]
In die antieke en Middeleeuse wêreld is androginiese mense en/of hermafrodiete in die kuns voorgestel deur die boodskapperstaf (caduceus), 'n staf met transformerende kragte in die Griekse en Romeinse mitologie. Die boodskapperstaf is deur Tiresias geskep en verteenwoordig sy transformasie in 'n vrou deur Juno as straf omdat hy na parende slange geslaan het. Die staf is later deur Hermes/Mercurius gedra en was die basis vir die sterrekundige simbool vir die planeet Mercurius en die botaniese teken vir hermafrodiete. Die teken word soms vir androginiese mense gebruik.
Nog 'n algemene androginiese ikoon in die Middeleeue en vroeë moderne gekiedenis was die rebis, 'n gesamentlike manlike en vroulike figuur, dikwels met son- en maanmotiewe. Nog 'n simbool is wat vandag die "sonkruis" genoem word en wat die kruis vir manlik verenig met die sirkel vir vroulik.[49] Die teken is nou die sterrekundige simbool vir die planeet Aarde.[50]
{{cite web}}
: Check |first=
value (hulp)
{{cite news}}
: |first=
has generic name (hulp)AS1-onderhoud: meer as een naam (link)