Benjamin Franklin | |
'n Portret van Benjamin Franklin deur J. S. Duplessis uit 1778. | |
6de President van Pennsilvanië
| |
Ampstermyn 18 Oktober 1785 – 5 November 1788 | |
Vise | Charles Biddle Thomas Mifflin |
---|---|
Voorafgegaan deur | John Dickinson |
Opgevolg deur | Thomas Mifflin |
Minister vir Frankryk
| |
Ampstermyn 14 September 1778 – 17 Mei 1785 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Thomas Jefferson |
Minister vir Swede
| |
Ampstermyn 28 September 1782 – 3 April 1783 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Jonathan Russell |
Posmeester-generaal
| |
Ampstermyn 26 Julie 1775 – 7 November 1776 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Richard Bache |
Speaker (voorsitter) van Pennsilvanië se Vergadering
| |
Ampstermyn Mei 1764 – Oktober 1764 | |
Voorafgegaan deur | Isaac Norris |
Opgevolg deur | Isaac Norris |
Lid van Pennsilvanië se Vergadering
| |
Ampstermyn 1762 – 1764 | |
Ampstermyn 1751 – 1757 | |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 17 Januarie 1706 Boston, Nieu-Engeland |
Sterf | 17 April 1790 Philadelphia, Pennsilvanië |
Politieke party | Onafhanklik |
Eggenoot/-note | Deborah Read |
Kind(ers) | William Franklin Francis Folger Franklin Sarah Franklin Bache |
Handtekening |
Benjamin Franklin (17 Januarie 1705 - 17 April 1790) was een van die grondleggers van die Verenigde State van Amerika. Franklin was 'n bekende veelweter: 'n vooraanstaande skrywer, drukker, satirikus, politieke teoretikus, politikus, wetenskaplike, uitvinder, aktivis, staatsman, soldaat en diplomaat.
As wetenskaplike het sy uitvindings en teorieë rakende elektrisiteit 'n groot bydrae tot die Amerikaanse Verligting en die geskiedenis van fisika gelewer. Hy het ook die weerligafleier, bifokale brille, die Franklin-oond, 'n afstandsmeter vir waens en 'n glasharmonika uitgevind. Hy het die eerste openbare biblioteek in Amerika gestig en die eerste brandweerstasie in Pennsilvanië. Hy was 'n vroeë voorstander van die vereniging van die Amerikaanse kolonies en het, as 'n politieke skrywer en aktivis, die idee van 'n Amerikaanse nasie ondersteun. Tydens die Amerikaanse Revolusie het hy as diplomaat gedien en het hy die Franse alliansie verseker, wat gehelp het om die onafhanklikheid van die Verenigde State te verwesenlik.
Franklin word beskou as 'n fondament van Amerikaanse waardes en karakter, 'n vereniging van die praktiese en demokratiese Puriteinse waardes van spaarsamigheid, harde werk, opvoeding, gemeenskapsgees, selfregerende instellings en teenkanting van outoritarisme (sowel op politieke as op godsdienstige terrein), met die wetenskaplike en verdraagsame waardes van die Verligting.
Hy het 'n koerantredakteur, drukker en handelaar in Philadelphia geword. Hier het hy welgesteld geword en Poor Richard's Almanack en die koerant The Pennsylvania Gazette gepubliseer. Franklin het ook 'n belangstelling in wetenskap en tegnologie gehad en as gevolg van sy eksperimente internasionale aansien geniet. Hy het 'n groot rol in die stigting van die Universiteit van Pennsilvanië en die Franklin & Marshall-kollege gespeel en is as die eerste president van die Amerikaanse Filosofiese Vereniging aangestel.
Franklin het 'n nasionale held in sy tuisland geword toe hy aan die spits gestaan het van 'n poging om die ongewilde Seëlwet van 1764 te herroep. Hy was ook 'n bekwame diplomaat en is in sy amp as Amerikaanse minister in Parys deur die Franse bewonder; hy het ook 'n groot bydrae gelewer in die bevordering van die Frans-Amerikaanse betrekkinge.
Van 1775 tot 1776 het Franklin die pos van Posmeester-generaal beklee en van 1785 tot 1788 was hy die President van die Opperste Uitvoerende Raad van Pennsilvanië. Nader aan die einde van sy lewe het hy 'n prominente voorstander van die afskaffing van slawehandel geword.
As gevolg van Franklin se kleurryke lewe en nalatenskap van wetenskaplike en politieke prestasies, asook sy status as een van Amerika se invloedrykste grondleggers, word hy vandag op munte en banknote en deur die vernoeming van baie dorpe, distrikte, skepe, opvoedkundige instellings en besighede vereer.