Bonobo | |
---|---|
'n Mannetjie in die Apenheul-primaatpark. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Infraorde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Tribus: | |
Genus: | |
Spesie: | P. paniscus
|
Binomiale naam | |
Pan paniscus (Ernst Schwarz, 1929)
| |
Die hougebied van die bonobo. |
Die bonobo, of Pan paniscus,[2] is ’n spesie groot ape (Hominidae). ’n Nabyverwant is die gewone sjimpansee. Fossiel- en DNS-toetse wys albei spesies is sustersgroepe van die moderne menslike lyn.
Die bonobo is 'n bedreigde spesie en een van die twee spesies van die genus Pan. Die ander spesie is die sjimpansee.[3] Hoewel die term "sjimpansee" soms gebruik word om na albei spesies te verwys, word dit deesdae meestal gebruik vir Pan troglodytes, terwyl die naam "bonobo" gebruik word vir Pan paniscus. Hulle is voorheen as 'n enkele spesie beskou en die bonobo was bekend as die dwergsjimpansee. Taksonomies word die subtribus Panina heeltemal deur die genus Pan opgeneem en daarom is die sjimpansee en bonobo saam as die "paniene" bekend.[4][5]
Die bonobo word gekenmerk deur relatief lang bene, pienk lippe, ’n donker gesig en lang hare wat 'n middelpaadjie vorm. Hy kom voor in ’n gebied van 500 000 km2 in die Kongobekken van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die spesie is omnivore, veral vrugtevreters,[6] en kom hoofsaaklik in woude voor.
Nie die bonobo of sjimpansee is goeie swemmers nie en die vorming van die Kongorivier sowat 1,5-2 miljoen jaar gelede het moontlik gelei tot die splitsing van die bonobolyn vanweë spesievorming. Bonobo's bly suid van die rivier en het dus geskei geraak van die voorouers van die sjimpansee, wat noord van die rivier voorgekom het. Daar is geen konkrete inligting oor getalle nie, maar daar is na raming tussen 29 500 en 50 000 bonobo's oor. Die spesie is op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) se lys van bedreigde spesies. Hulle word bedreig deur die vernietiging van hul habitat en die groter wordende mensbevolkings, maar hoofsaaklik deur wilddiefstal. In aanhouding leef hulle sowat 40 jaar.[7] Hulle lewensverwagting in die natuur is onbekend, maar waarskynlik heelwat korter.[8]
Ondanks die ou naam "dwergsjimpansee" is die bonobo nie eintlik kleiner as die gewone sjimpansee nie. Die "dwerg"-deel kom moontlik van die pigmeevolk wat in dieselfde gebied woon.[9] Die naam "bonobo" is in 1954 die eerste keer gebruik deur Tratz en Heck. Dit is vermoedelik die verkeerde spelling op ’n skeepskrat van die dorp Bolobo aan die Kongorivier, wat verbind word met die verskeping van sjimpansees in die 1920's.[10][11]
Die Duitse anatoom Ernst Schwarz het die bonobo in 1928 eerste as 'n aparte takson erken, gebaseer op 'n skedel in die Tervuren-museum in België wat voorheen geklassifiseer is as 'n jong Pan troglodytes (sjimpansee). Schwarz het sy bevindings in 1929 gepubliseer en die bonobo geklassifiseer as Pan satyrus paniscus, 'n subspesie van die sjimpansee.[12][13] In 1933 het die Amerikaanse anatoom Harold Coolidge dit tot spesiestatus verhoog.[13][14]
Groot gedragsverskille tussen bonobo's en sjimpansees is in die vroeë 1950's die eerste keer in detail deur Tratz en Heck bespreek.[15] Die Amerikaanse sielkundige en primatoloog Robert Yerkes was ook een van die eerste mense wat groot gedragsverskille bespeur het.[16]
Bonobo's en sjimpansees is die twee spesies wat die genus Pan vorm. Hulle is die naaste lewende verwante van die mens (Homo sapiens).[17][18] Die presiese tyd waarin die laaste gemeenskaplike voorsaat van Pan en Homo gelewe het, is onbekend, maar DNS-vergelykings dui daarop dat verbastering tussen die twee groepe se voorsate nadat die spesies geskei het, tot sowat 4 miljoen jaar gelede voorgekom het.[19]
DNS-bewyse dui aan die bonobo en sjimpansee het sowat 890 000 - 860 000 jaar gelede geskei vanweë veranderings in die omgewing. Die twee spesies word tans deur die Kongorivier geskei. Die rivier het lank voor die skeidingsdatum bestaan, maar die voorouers van Pan het dalk die rivier oorgesteek met natuurlike brûe wat nie meer bestaan nie.[20] Die eerste Pan-fossiele is in 2005 aangeteken uit die Middel-Pleistoseen (ná die splitsing tussen bonobo's en sjimpansees) van Kenia, saam met fossiele van vroeë lede van Homo.[21]
Volgens A. Zihlman lyk die beenproporsies van die bonobo baie soos dié van Australopithecus,[22] en dit het die evolusionêre bioloog Jeremy Griffith laat voorstel bonobo's kan 'n lewende voorbeeld van ons verlangse menslike voorsate wees.[23] Volgens die Australiese antropoloë Gary Clark en Maciej Henneberg het die menslike voorsate deur 'n bonobo-agtige fase gegaan met minder aggressie en verwante anatomiese veranderings, soos voorkom in Ardipithecus ramidus.[24]
Die bonobo word algemeen beskou as slanker as die sjimpansee. Hoewel groot sjimpanseemannetjies baie groter en swaarder as enige bonobomannetjie kan wees, oorvleuel die twee spesies se liggaamsgrootte in 'n groot mate. Volwasse bonobowyfies is effens kleiner as volwasse mannetjies. Liggaamsmassa wissel van 34 tot 60 kg, met 'n gemiddelde gewig van 45 kg in mannetjies teenoor sowat 33 kg in wyfies.[25]
Die lengte van bonobo's van die neus tot die agterstewe as hy handeviervoet staan, is 70 tot 83 cm.[26][27]
Die bonobo se kop is relatief kleiner as dié van gewone sjimpansees en hulle het minder prominente oogbanke. Hulle het 'n swart gesig met pienk lippe, klein ore, wye neusvleuels en lang hare op die kop wat 'n paadjie vorm. Wyfies se borste is effens groter as die ander mensape se plat borste, maar nie so prominent soos by mense nie. Die bonobo het ook 'n slank torso, smal skouers, 'n dun nek en lang bene in vergelyking met die gewone sjimpansee.
Bonobo's hou op die grond en in bome. Op die grond loop hulle meestal op hulle kneukels. In minder as 1% van gevalle loop hulle op twee voete in die natuur,[28] terwyl daar in gevangenskap 'n groot mate van variasie is – van sowat 3,9% van die tyd tot sowat 19% wanneer volop kos verskaf word.[29]
Dié fisieke eienskappe en houding laat die bonobo meer soos die mens as soos die gewone sjimpansee lyk. Die bonobo het ook hoogs individuele gelaatstrekke,[30] nes mense, sodat een individu heelwat anders as ander individue kan lyk. Dié eienskap sorg vir visuele herkenning in sosiale situasies.
Volgens die Nederlandse primatoloog Frans de Waal is bonobo's in staat tot naasteliefde, deernis, empatie, goedhartigheid, geduld en sensitiwiteit.[2] Hy beskryf die bonobogemeenskap as matriargaal.[31] Primatoloë wat bonobo's in die natuur bestudeer het, het 'n wye verskeidenheid gedrag waargeneem, onder meer aggressiwiteit en meer sikliese seksuele gedrag nes by sjimpansees, hoewel bonobo's meer seksuele gedrag in 'n groter verskeidenheid verhoudings openbaar. 'n Ontleding van die binding (bonding) tussen wyfies in die natuur het vroulike seksualiteit beklemtoon en gewys hoe wyfies baie langer bronstig bly as sjimpansees.[32]
Sommige primatoloë reken De Waal se data weerspieël net die gedrag van bonobo's in gevangenskap, wat aandui dat hulle in die natuur 'n vlak van aggressiwiteit toon wat nader aan dié van sjimpansees is. De Waal het gereageer deur te sê die kontras in temperament tussen bonobo's en sjimpansees in gevangenskap is betekenisvol, want die invloed van die omgewing kan beheer word. Die twee spesies tree verskillend op, al is die omstandighede identies.[33]
'n Studie in 2014 het ook bevind bonobo's is minder aggressief as sjimpansees, veral die oostelike sjimpansees. Die skrywers reken die relatiewe vreedsaamheid van westelike sjimpansees en bonobo's kan hoofsaaklik aan ekologiese faktore toegeskryf word.[34] Bonobo's waarsku mekaar oor gevaar minder doeltreffend as sjimpansees in dieselfde situasie.[35]
Bonobo's is ongewoon onder mensape vanweë hulle matriargale sosiale struktuur (die groot oorvleueling van manlike en vroulike hiërargieë laat sommige kenners na hulle verwys as gendergebalanseerd in hulle magstruktuur). Bonobo's het nie 'n afgebakende gebied nie en gemeenskappe sal oor groot gebiede rondbeweeg. Danksy die nomadiese aard van die wyfies en die eweredige verspreiding van voedsel in hulle omgewing kry mannetjies nie 'n duidelike oorhand in die vorming van bondgenootskappe met ander mannetjies of in die verdediging van hulle tuiste, soos by sjimpansees, nie. Bonobowyfies het ook skerper oogtande as sjimpanseewyfies, en dit help verder om hulle status in die groep te verhoog.[36]
Hoewel 'n mannetjie in 'n bonobopaartjie oorheers,[37] na gelang van die gemeenskap, kan wyfies wat sosiaal bind net so oorheersend as mannetjies wees[38] of die mannetjies oorheers, in so 'n mate dat wyfies onwillige mannetjies kan oorreed om met hulle te paar.[39][40]
Aan die bopunt van die hiërargie is 'n koalisie van wyfies en mannetjies van 'n hoë rang met gewoonlik 'n ou, ervare matriarg[41] wat as besluitnemer en leier van die die groep optree. Wyfies verdien gewoonlik hulle rang met ondervinding, ouderdom en die vermoë om alliansies met ander wyfies in die groep te vorm, eerder as deur fisieke intimidasie, en wyfies met 'n hoë rang sal nuwe wyfies in die groep teen manlike teistering beskerm.[42]
Terwyl bonobo's dikwels matriargaal genoem word en elke gemeenskap deur 'n wyfie oorheers word, sal sommige mannetjies steeds 'n hoë rang bereik en saam met die alfawyfie werk.[43] Hulle sal dikwels die inisiatief neem om die groepsbewegings te koördineer. Hulle kan nie net 'n hoër rang as die ander mannetjies in die groep bereik nie, maar ook as baie wyfies.[44] Sekere mannetjies waarsku die groep teen moontlike bedreigings en beskerm die groep teen roofdiere soos slange en luiperds.[45][46]
Aggressiewe wisselwerking tussen mannetjies en wyfies is seldsaam, en mannetjies verdra kleintjies en jong diere. Daar is 'n bevestigde geval van 'n mannetjie wat sy boetie aangeneem het nadat dié wees gelaat is.[47] 'n Mannetjie kry gewoonlik sy status van dié van sy ma.[48] Die band tussen ma en seun bly dikwels dwarsdeur hulle lewe sterk. Hoewel sosiale hiërargieë bestaan en die seun van 'n wyfie met 'n hoë rang groter beheer as 'n wyfie met 'n laer rang kan hê, speel range 'n kleiner rol as in ander primaatgemeenskappe.[49]
Bonobo's is nie territoriale diere nie en die verhoudings tussen verskillende gemeenskappe is dikwels positief en samewerkend.[50] Hulle sal ook hulle kos met ander deel, selfs met vreemdelinge.[51] Volwasse bonobo's behou dikwels eienskappe van jong diere,[52] en dit verhoed aggressie in 'n groot mate. Dit stel ook vreemde bonobo's in staat om vrylik te meng en saam te werk.[53]
Mannetjies knoop lang vriendskappe met wyfies aan en op hulle beurt verkies wyfies om te paar met mannetjies wat respek teenoor hulle betoon en maklik is om oor die weg mee te kom. Omdat wyfies alliansies kan gebruik om oorheersende mannetjies te ondermyn, neem hulle hulle tyd om maats te kies wat nie aggressief teenoor hulle is nie.[54] Ouer bonobo's verloor hulle spelerige aard en raak makliker geïrriteer. Albei geslagte toon dieselfde mate van aggressiwiteit.[55]
Bonobowyfies migreer na nuwe gemeenskappe, terwyl die mannetjies in die groep bly waarin hulle gebore is. Dit is egter nie ongehoord dat mannetjies ook na 'n nuwe groep trek nie.[56] Soms bly wyfies met invloedryke ma's ook in hulle geboortegroep.[57]
Terwyl alliansies tussen wyfies sterk is, is dié tussen mannetjies in die meeste gemeenskappe onderontwikkel. Wyfies kan ook alliansies met mannetjies vorm, soos in 'n jaggeselskap met albei geslagte.[58]
'n Wyfie sal haar volwasse seun ondersteun in konflikte met ander mannetjies en hom help om beter bande met wyfies aan te knoop. So sal sy haar kans vergroot om kleinkinders van hom te kry.[59] Sy sal selfs fisiek tussenbeide tree om mannetjies te keer om met sekere wyfies te paar wat sy vir haar seun wil hê.[60] Wyfies is ook al waargeneem wat kinders van 'n ander gemeenskap aanneem.[61]
Bonobo's maak mekaar gewoonlik nie dood nie en hoewel hulle minder aggressief as sjimpansees is, kom aggressiwiteit wel soms voor. Sommige vryerige mannetjies bereik makliker 'n hoër rang en het baie kleintjies, en hulle dwing dikwels hulle rang aan ander, jonger mannetjies op. Mannetjies val mekaar dikwels aan en berokken mekaar groot skade. Soms word mannetjies ook deur wyfies met 'n hoë rang beseer wanneer hulle hom in 'n groep aanval.[62]
Hoewel die doodmaak van kleintjies nog nie waargeneem is nie, het dit al gebeur dat wyfies[63] en ook mannetjies[64] kleintjies gevange neem en dit lei soms tot die dood van die kleintjies deur dehidrasie omdat hulle gekeer word om melk te drink. Mense is ook al deur bonobo's aangeval en beseer, hoewel nie noodlottig nie.[65]
Weens die promiskuïteit van wyfies is 'n mannetjie nie altyd seker watter kinders syne is nie, en die versorging van die kleintjies berus dus gewoonlik by die ma's.[66] Bonobo's is egter nie so promisku as sjimpansees nie en hoewel poligame neigings voorkom, het mannetjies met 'n hoë rang gewoonlik groter sukses om te paar. Anders as by sjimpansees, waar enige mannetjie 'n wyfie kan oorreed om met hom te paar, het bonobowyfies 'n vryer keuse en kan hulle die aandag van 'n mannetjie verwerp ten gunste van een met 'n hoër rang.[67]
Bonobogroepe wissel in grootte, want 'n groep van sê 100 sal deur die dag in kleiner groepe opdeel om kos te soek, terwyl hulle saans weer sal byeenkom om te slaap. Hulle slaap in neste wat hulle in bome bou.
Wyfies het gewoonlik die voorreg om eerste te eet en hoewel sy haar nie teen 'n mannetjie sal kan verdedig nie, kan sy saam met haar bondgenote seker maak sy het alleenreg op kosbronne.[68] Verskillende gemeenskappe het verskillende kosvoorkeure. In sommige gemeenskappe sal net die wyfies jag en verkies hulle knaagdiere, terwyl albei geslagte in ander gemeenskappe jag en apies sal teiken.[69] In die natuur kan wyfies verdraagsamer teenoor jong mannetjies wees wat hulle om kos treiter, terwyl hulle aggressief teenoor ouer mannetjies sal wees.[70]
Seksuele aktiwiteit speel gewoonlik 'n groot rol in bonobogemeenskappe; dit kan volgens sommige wetenskaplikes 'n manier van groet wees, 'n manier om sosiale bande te vorm, 'n manier om konflik op te los en om vrede te maak ná konflik.[71][3] Bonobo's is die enigste niemenslike dier waarby tongsoene waargeneem is.[72] Bonobo's en mense is die enigste primate wat dikwels van aangesig tot aangesig in genitale seks betrokke is, buiten in een geval van westelike gorillas wat waargeneem is.[73]
Bonobo's gee nie om van watter ouderdom of geslag hulle seksmaat is nie, met die moontlike uitsondering van seks tussen ma's en hulle volwasse seuns. Wanneer bonobo's op 'n nuwe voedselbron of -terrein afkom, sal die opwinding gewoonlik lei tot gemeenskapseks, wat vermoedelik die spanning verlig en lei tot 'n vreedsame maaltyd.[74]
Veral wyfies raak betrokke by wedersydse genitale wrywing, moontlik om sosiale bande te vorm en so die mannetjies te oorheers.[74] Op dié manier word soms ook nuwe wyfies in 'n groep verwelkom. Wyfies se klitoris is groter en uitwendiger as by die meeste soogdiere.[75] Terwyl 'n jong bonobowyfie dalk die helfte so groot soos 'n menslike tienermeisie is, is haar klitoris omtrent "drie keer so groot as die menslike ekwivalent, en sigbaar genoeg om rond te swaai terwyl sy loop".[76] Wyfies skuur dkwels hulle geslagsdele teen mekaar, soms binne 'n gemeenskap en soms daarbuite. Die etoloog (gedragskundige) Jonathan Balcombe sê die skuur van bonobowyfies se klitorisse teen mekaar geskied vinnig en duur 10 tot 20 sekondes; dit kan met kort tussenposes geskied "en gepaardgaan met 'n gekners, gegil en die swelling van die klitorisse"; volgens hom doen hulle dit gemiddeld "omtrent elke twee uur".[75]
Omdat bonobo's soms van aangesig tot aangesig paar, "het die evolusionêre bioloog Marlene Zuk voorgestel die posisie van die bonobo en sommige ander primate se klitoris het ontwikkel om maksimum seksuele bevrediging te bied tydens paring".[75]
Bonobomannetjies raak ook soms betrokke by wedersydse genitale gedrag.[74][77] Die algemeenste vorm van een mannetjie op 'n ander is dieselfde as by heteroseksuele: Een van die mannetjies "lê passief op sy rug met die ander mannetjie wat teen hom stoot". Hulle penisse skuur dan teen mekaar danksy albei mannetjies se ereksie.[2]
In 'n ander, seldsamer vorm word die penisse soos by mense teen mekaar geskuur terwyl twee mannetjies byvoorbeeld aan 'n tak hang.[74][78] Soms sal twee mannetjies ná 'n rusie vrede maak deur hulle stuitjies en skrotums teen mekaar te skuur, maar dit is ook al buite rusieverband waargeneem: Kitamura (1989) het dié geskuur waargeneem tussen volwasse mannetjies wat seksuele toenadering by mekaar gesoek het soos wat wyfies doen.[79] Ook Takayoshi Kano het soortgelyke gedrag tussen mannetjies in die natuur waargeneem. Tongsoene, orale seks en genitale massering is ook al by bonobomannetjies gesien.[80][2]
Wyfies skenk in die natuur die eerste keer op 13- of 14-jarige ouderdom die lewe.[81] Die voortplantingstempo is nie hoër as by die sjimpansee nie.[74] Wyfies is egter langer bronstig.[82] Tydens bronstigheid is daar 'n swelling van die perineum (die deel tussen die anus en die vulva) wat 10 tot 20 dae duur. 'n Wyfie is gemiddeld 240 dae dragtig. 'n Jaar later kan sy weer bronstig raak, hoewel sy nie in dié stadium vrugbaar is nie. Wyfies versorg hulle kinders sowat vier jaar lank en skenk elke 4,6 jaar die lewe.[9] Wyfies wat steriel of nog nie vrugbaar is nie, kan egter seksueel aktief wees. Ma's sal vir hulle seuns bronstige wyfies kry om mee te paar.[49]
Bonobomannetjies sal seks met kinders hê,[83] maar sonder penetrasie.[84] Wyfies kan ook seks met kinders hê, maar minder gereeld. Kinders is nie passiewe seksmaats nie; hulle inisieer dikwels seksuele kontak met mannetjies én wyfies, sowel as diere van hulle eie ouderdom.[83]
Dit is onbekend hoe bonobo's voorkom dat hulle die Simiaanse immuniteitsgebreksvirus (MIV by ape) kry.[85]
Mannetjies in sjimpanseegroepe is vyandig teenoor mannetjies van buite die gemeenskap. Klein groepe mannetjies "patrolleer" hulle gebied, kyk uit vir mannetjies van buurgroepe wat alleen rondloop, val hulle aan en maak hulle dikwels dood.[86] Dit lyk volgens waarnemings nie of dieselfde gedrag by mannetjies of wyfies van die bonobo voorkom nie. Hulle verkies seksuele kontak eerder as gewelddadige konfrontasie met diere van buite die groep.[3]
Dit beteken nie bonobo's is glad nie aggressief nie.[87] In die natuur is bonobomannetjies omtrent die helfte so aggressief as sjimpanseemannetjies, en wyfies is aggressiewer as sjimpanseewyfies.[87] Beide bonobo's en sjimpansees is omtrent 100 keer so geneig om fisieke aggressie te toon as die mens.[87]
Die hougebiede van die bonobo's en sjimpansees word deur die Kongorivier geskei, met eersgenoemde wat suid daarvan voorkom en laasgenoemde noord daarvan.[88][89] Daar is 'n hipotese dat bonobo's 'n vreedsamer leefstyl kan hê deels danksy die oorvloed van voedsame plante in hulle natuurlike habitat, wat hulle in staat stel om in groot groepe te reis en kos te soek.[90]
Onlangse studies dui aan daar is aansienlike breinverskille tussen die twee spesies. Bonobo's het meer grysstof in dele van die brein wat empatie, die aanvoel van ongelukkigheid in ander en angstigheid beheer.[91] Hulle het ook 'n dik verbinding tussen die amigdala, 'n belangrike breindeel wat aggressie meebring, en die cingularis anterior ventralis, wat impulse by mense beheer.[92][93] Dié dikker verbinding help hulle dalk om hulle emosionele impulse en gedrag te beheer.[94]
Bonobogemeenskappe word deur wyfies oorheers, en die afsny van lewenslange alliansies tussen ma's en hulle seuns kan hulle kwesbaar vir vroulike aggressie maak.[3] De Waal het gewaarsku teen die gevaar om bonobo's te romantiseer: "Alle diere is mededingend van aard en net in spesifieke omstandighede samewerkend. Toe ek die eerste keer oor hulle gedrag geskryf het, het ek gepraat van "seks vir vrede" juis omdat bonobo's baie konflikte het. Daar sou geen rede gewees het om vrede te maak as hulle in perfekte harmonie gelewe het nie."[95]
Bonobo's is omnivore vrugtevreters; 57% van hulle dieet bestaan uit vrugte, maar dit word aangevul met blare, heuning en eiers,[96] asook die vleis van klein gewerweldes soos eekhorings en duikers[97] en ongewerweldes.[98] In sommige gevalle sal hulle selfs primate van 'n laer orde eet.[99]
In 2020 is die eerste genoomvergelyking tussen bonobo's en sjimpansees gepubliseer. Dit het aspekte van die genoom getoon wat hulle skeiding en gedragsverskille kon veroorsaak of daaruit kon gevloei het, insluitende seleksie vir gene wat met dieet en hormone verband hou.[100] Volgens 'n studie in 2010 het "bonobowyfies 'n groter omvang van gereedskapgebruik as mannetjies getoon, 'n patroon wat voorheen vir sjimpansees beskryf is, maar nie vir ander groot ape nie".[101]
Die bevinding is bevestig deur 'n ander studie in 2010 wat ook bevind het "bonobo's is bekwamer in take wat met die lees van gedagtes en 'n begrip van sosiale oorsaaklikheid te doen het, terwyl sjimpansees bekwamer is in take wat die gebruik van gereedskap en 'n begrip van fisieke oorsaaklikheid vereis".[102]
Bonobo's slaag, nes alle groot ape, die spieëltoets vir selferkenning.[103][104] Hulle kommunikeer hoofsaaklik op 'n vokale manier, hoewel die betekenis van hulle geluide tans nog onbekend is. Die meeste mense verstaan egter hulle gesigsuitdrukkings[105] en sommige van hulle handgebare, soos 'n uitnodiging om te speel. Hulle kommunikasiestelsel in die natuur sluit 'n eienskap in wat tevore net in mense bekend was: Hulle gebruik dieselfde roep wat verskillende dinge in verskillende situasies kan beteken, en ander bonobo's moet die konteks in ag neem om te verstaan wat daarmee bedoel word.[106]
Twee bonobo's van die Great Ape Trust in Iowa, Kanzi en Panbanisha, is geleer om te kommunikeer deur die gebruik van 'n "toetsbord" wat met geometriese simbole gemerk is en om op gesproke sinne te reageer. Kanzi se woordeskat bestaan uit meer as 500 Engelse woorde,[107] en hy kan sowat 3 000 woorde in dié taal verstaan.[108] Kanzi het ook geleer deur dop te hou hoe mense sy ma probeer leer. Hy het take begin verrig wat vir sy ma geleer is deur net toe te kyk. Van dié take het sy ma nooit leer verrig nie. In 'n studie in die 1990's om agter te kom of Kanzi die kognitiewe en biomeganiese vermoëns het om eenvoudige steengereedskap te maak en gebruik, is hy geleer om dit te doen. Hy het byvoorbeeld geleer hoe om klippe te breek, maar het dit anders as mense gedoen. Waar mense die klip in een hand sal hou en dit met 'n klip in die ander hand slaan, het Kanzi die klip teen 'n harde oppervlak of 'n ander klip gegooi. Dit het hom groter krag gegee om die klip te breek.[109]
Die IUBN-rooilys klassifiseer bonobo's as 'n bedreigde spesie, met 'n konserwatiewe raming van sowat 29 500 tot 50 000 individue.[1] Groot bedreigings sluit in habitatverlies en die jag van diere vir bosvleis. Laasgenoemde het geweldig toegeneem sedert die Eeste en Tweede Kongo-oorlog in die Demokratiese Republiek die Kongo weens die teenwoordigheid van swaar gewapende soldate in afgeleë, "bewaarde" gebiede soos die Nasionale Park Salonga.
Omdat bonobo's hulle habitat met mense deel, berus die eindelike sukses van bewaringspogings op plaaslike en gemeenskapsbetrokkenheid. Daar is sterk plaaslike teenkanting teen die skep van nasionale parke, omdat inheemse bevolkings dikwels uit hulle huise in die woude verdryf is daarvoor. In die Nasionale Park Salonga, die enigste nasionale park in die bonobo's se habitat, is daar geen plaaslike betrokkenheid nie. Opnames sedert 2000 dui daarop dat die bonobo, Afrika-woudolifant en ander spesies byna uitgeroei is deur wilddiewe en die florerende bosvleismark.[110] In teenstelling hiermee is daar steeds gebiede waar bonobo's en biodiversiteit floreer sonder gevestigde parke danksy die inheemse geloofsoortuigings en taboes oor die doodmaak van bonobo's.
Tydens die oorloë van die 1990's is navorsers en nieregeringsorganisasies (NGO's) uit die bonobohabitat gedryf. In 2002 het die Bonobo Conservation Initiative die Bonobovredeswoudprojek begin wat deur Bewaring Internasionaal ondersteun word en in samewerking met plaaslike instellings, NGO's en gemeenskappe bestuur word. 'n Paar gemeenskapsgebaseerde reservate word verbind en deur plaaslike mense bedryf. Daar was al ooreenkomste vir die bewaring van 130 000 km2 van die bonobo se habitat.[111]
In 1995 het kommer oor die afnemende getalle bonobo's in die natuur daartoe gelei dat die soölogiese vereniging ZSM van Milwaukee, Wisconsin, begin het om geld van wetenskaplikes oor die wêreld heen in te samel om die Aksieplan vir Pan paniscus te publiseer, wat onder meer voorstelle maak ook bewaring. Dit bevat data van 20 jaar van navorsing op verskeie terreine in die bonobohabitat.
In reaksie op aanbevelings van die Aksieplan het die ZSM die Bonobo-en-Kongo-biodiversiteitsinisiatief begin. Die program sluit in habitat- en reënwoudbewaring, die opleiding van Kongolese burgers en bewaringsinstellings, die assessering van natuurlewebevolkings en opvoeding. Namate die projek gevorder het, het die ZSM ook betrokke geraak by hulp aan die Kongolese wat in die bonobohabitat woon. Hulle het skole gebou, onderwysers in diens geneem, medisyne verskaf en 'n landbouprojek begin sodat die bevolking minder op die jag van wilde diere hoef te steun vir voedsel.[112]
Van 2003 af het die Amerikaanse regering $54 miljoen bewillig aan die Congo Basin Forest Partnership. Dié belegging het internasionale NGO's betrokke gekry om te help met bewaringsprogramme.[113]
...twenty-two mature community members (eight males, fourteen females)could be identified using facial features...
{{cite web}}
: Cite has empty unknown parameter: |1=
(hulp)