Boris Nemtsof Борис Немцов | |
Nemtsof in 2013. | |
Adjunkpremier van Rusland
| |
Ampstermyn 28 April 1998 – 28 Augustus 1998 | |
1ste adjunkpremier van Rusland
| |
---|---|
Ampstermyn 17 Maart 1997 – 28 April 1998 | |
Voorafgegaan deur | Wladimir Poetin |
Opgevolg deur | Joeri Masljoekof |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 9 Oktober 1959 Sotsji, USSR |
Sterf | 27 Februarie 2015 (op 55) Moskou, Rusland |
Religie | Russies-Ortodoks |
Boris Jefimowitsj Nemtsof (Russies: Бори́с Ефи́мович Немцо́в, IFA-uitspraak: bɐˈrʲis jɪˈfʲiməvʲɪtɕ nʲɪmˈtsof; 9 Oktober 1959 – 27 Februarie 2015) was ’n Russiese wetenskaplike, staatsman en liberale politikus. Hy was een van die belangrikste mense wat betrokke was by die instelling van kapitalisme in die Russiese ekonomie ná die verbrokkeling van die Sowjetunie.[1] Hy het in die 1990's ’n suksesvolle politieke loopbaan onder Boris Jeltsin gehad en was sedert 2000 ’n uitgesproke kritikus van Wladimir Poetin. Hy is op 27 Februarie 2015 doodgeskiet op ’n brug naby die Kremlin en Rooiplein in Moskou.[2] Hy is vier keer in die rug getref.[3]
Ten tyde van sy dood was Nemtsof in Moskou om te help met die organisasie van ’n optog teen Poetin se beleidsrigtings oor die Russiese betrokkenheid in die oorlog in Oekraïne en die Russiese finansiële krisis van 2014–'15. Sy kritiek jeens die Poetin-regering was veral weens beweerde wydverspreide geldverduistering en woekerhandel voor die Olimpiese Winterspele in 2014 in Sotsji, sowel as Rusland se politieke inmenging en militêre betrokkenheid in Oekraïne.[4][5] In die weke voor sy dood het Nemtsof gesê hy is bang Poetin laat hom vermoor.[6][7]
Tot met sy dood was Nemtsof lid van die streeksparlement van Jaroslawl-oblast (verkies in 2013), ’n medevoorsitter van die Republikeinse Party van Rusland en een van die leiers van die opposisiebeweging Solidarnost.
Boris Jefimowitsj Nemtsof is in Sotsji gebore as die seun van Jefim Dawidowitsj Nemtsof en Dina Jakowlewna Nemtsowa (geb. Eidman).[8][9] Sy ma is Joods. In sy outobiografie vertel Nemtsof hoe sy pa se Russies-Ortodokse ma hom as kind laat doop het,[10] iets waarvan Nemtsof, ’n praktiserende Ortodokse Christen, eers baie jare later uitgevind het.[11]
Van 1976 tot 1981 het Nemtsof fisika aan die staatsuniversiteit in Nizjni Nowgorod studeer, waar hy in 1990 ’n doktorsgraad in fisika en wiskunde behaal het. Tot in dié jaar het hy ook by die Navorsingsentrum vir Radiofisika in dié stad gewerk[12] en 60 akademiese geskrifte oor kwantumfisika, termodinamika en akoestiek die lig laat sien.[13] Hy het ook ’n teoretiese model voorgestel vir ’n akoestiese laser[14] [15] en ’n nuwe ontwerp vir die antennes van ruimtesondeerders. [16][17]
In 1986, kort ná die Tsjernobil-kernramp in die Sowjetunie, het Nemtsof ’n protesbeweging in sy tuisstad georganiseer wat die bou van ’n nuwe kernkragsentrale in die streek verhoed het.[12]
Van 1991 tot 1997 was hy die eerste goewerneur van die Nizjni Nowgorod-oblast. Later was hy die Russiese minister van energie (1997), die eerste adjunkpremier van Rusland (1997–1998) en in dieselfde tyd lid van die Russiese Veiligheidsraad. Hy was baie gewild en was een van die mense wat beskou is as ’n kandidaat vir die presidentskap. In 1998 het hy die Jong Rusland-beweging gestig. In 1998 was hy medestigter van die koalisiegroep Die Regte Saak en in 1999 medestigter van die Unie van Regte Magte, ’n verkiesingsblok en daarna politieke party. Hy is verskeie kere tot Russiese parlementslid verkies. Hy was ook lid van die Kongres van Volksafgevaardigdes (1990), die Federale Raad (1993–1997) en Staatsdoema (1999–2003).
Ná ’n skeuring in die Unie van Regte Magte in 2008 het hy en Garri Kasparof Solidarnost gestig en in 2010 was hy medestigter van die koalisie Vir Rusland Sonder Onwettigheid en Korrupsie, wat registrasie as ’n politieke party geweier is. Sedert 2012 was Nemtsof medevoorsitter van die Republikeinse Party van Rusland – Volksvryheidsparty (RPR-PARNAS), ’n geregistreerde politieke party.[18]
Hy het verskeie publikasies geskryf waarin hy die Poetin-administrasie kritiseer en was ’n aktiewe organiseerder van en deelnemer aan optogte deur andersdenkendes en vir regverdige verkiesings.