Cape Argus is 'n poniegrootte-dagblad in Kaapstad wat op 3 Januarie 1857 deur Brian Henry Darnell en R.W. Murray opgerig is.
Dit was aanvanklik 'n oggendblad, maar het in 1883 'n middagblad geword. Die firma Saul Solomon & Co. het die koerant in 1862 oorgeneem, maar beland in die besit van die Argus Printing and Publishing Company in 1886 toe Francis Dormer dié maatskappy stig en die vorige eienaar bankrot speel. Vandag is die Argus Printing and Publishing Company Independent News & Media. Die koerant is op 1 Desember 1969 hernoem tot net The Argus. Die naam het egter nie inslag gevind nie en is in die nuwe millennium weer Cape Argus gemaak.
Die koerant was jare lank 'n teenstander van die destydse Nasionale Party, hoewel nie so uitgesproke soos die Engelse, Kaapstadse oggendblad, die Cape Times, nie. Die Cape Times het destyds tot dieselfde groep (SAAN) as die Rand Daily Mail behoort, waarskynlik die grootste teenstander van Apartheid onder die dagblaaie. Nadat SAAN in die middel jare tagtig finansiële probleme ervaar het, het die Argus Printing and Publishing Company die Cape Times bekom, sodat sowel Media24 as Independent News & Media in 2008 elk drie dagblaaie in Kaapstad uitgegee het. Die Engelse uitgawe van die Son is intussen gestaak.
Die koerant het lank die grootste sirkulasie van enige dagblad in die destydse Kaapprovinsie gehad, maar is sedertdien verbygesteek deur sowel Die Burger as Die Son. Cape Argus se sirkulasie het afgeneem tot sowat 75 000 eksemplare per dag in 2008, vergeleke met byvoorbeeld 120 000 in 1974 – 'n afname van 37,5%. Dit beteken terwyl meer as een uit elke nege mense in 1974 in Kaapstad die koerant elke dag gekoop het, het net een uit elke byna 47 mense dit elke dag in 2008 gekoop omdat die bevolking met 218% van 1,1 miljoen tot 3,5 miljoen toegeneem het. Die koerant is weliswaar steeds die grootste dagblad in die Kaapse Skiereiland, omdat Die Burger en Die Son baie gewild op die Wes-Kaapse platteland is.
Selfs nadat die koerant in 2012 in 'n ponieformaat herontwerp is, het die sirkulasie bly daal tot sowat 33 000 in die derde[2] en 32 000 in die vierde kwartaal van 2012.[3]