Donald Trump | |
---|---|
45ste President van die Verenigde State | |
Ampstermyn | 20 Januarie 2017 – 20 Januarie 2021 |
Voorganger | Barack Obama |
Opvolger | Joe Biden |
Geboorteplek | Queens, New York Stad |
Sterftedatum | |
Sterfteplek | |
Eerste Dame | Melania Trump (née Knauss) |
Politieke party | Republikein (2012–hede; 2009–11; 1987–99)[1] |
Visepresident | Mike Pence |
Handtekening |
Donald Trump | |
---|---|
Gebore | Donald John Trump |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | Voorsitter en president van die Trump-organisasie Voorsitter van Trump Plaza Associates, LLC Voorsitter van Trump Atlantic City Associates Gasheer van The Apprentice (2004–15) |
Politieke party | Republikein Vorige affiliasies: Onafhanklik (2011–12)[1] Demokrate (2001–09;[1] 1987[2]) Reformiste (1999–2001)[1] |
Eggenoot | Ivana Zelníčková (1977–91) Marla Maples (1993–99) Melania Knauss (2005–hede) |
Kinders | 5: Donald jr., Ivanka, Eric, Tiffany, Barron |
Ouer(s) | Fred Trump Mary Anne MacLeod Trump |
Webwerf | donaldjtrump.com |
Donald John Trump (gebore 14 Junie 1946 in Queens, New York Stad) is ’n Amerikaanse sakemagnaat wat as die 45ste President van die Verenigde State van Amerika gedien het. Hy was die Republikeinse Party se kandidaat en het sy Demokratiese teenstander Hillary Clinton op 8 November 2016 in die Amerikaanse presidentsverkiesing verslaan, hoewel hy minder stemme as sy op hom verenig het. Hy is op 20 Januarie 2017 as die 45ste president beëdig. Op 20 Januarie 2021 is hy deur die Demokraat Joe Biden opgevolg, wat hom in die Amerikaanse presidentsverkiesing 2020 verslaan het.
Op 5 November 2024 is hy weer tot die presidentskap verkies.
Op 70 jaar was Trump die oudste en welvarendste persoonlikheid wat ooit die amp van president van die VSA beklee het, asook die eerste sonder enige voorafgaande militêre of politieke loopbaan en die vyfde wat op nasionale vlak geen meerderheid van die uitgebragte stemme op hom verenig het nie. Trump is ook ’n belegger, skrywer en TV-persoonlikheid. In 1971 het hy die voorsitter van die eiendomsgroep geword wat in besit van sy familie is en dit hernoem tot The Trump Organization. Hy het die onderneming vervolgens uitgebrei om die bou en renovasie van wolkekrabbers, hotelle, kasinos en gholfbane in te sluit. Die onderneming Trump Entertainment Resorts is deur hom gestig.
Hy het in Junie 2015 sy kandidatuur vir die Amerikaanse presidentskap van November 2016 aangekondig en is op 19 Julie 2016 deur die Republikeinse Party amptelik as die party se presidentskandidaat benoem.
Donald Trump se voorouers aan vaderskant is afkomstig uit die Duitse nedersetting Kallstadt in die Palts-streek, en van die Buite-Hebride in Skotland aan moederskant. Sy grootouers en sy moeder is almal in Europa gebore. Trump is op 14 Junie 1946 in Jamaica, Queens, 'n woonbuurt in die stad New York gebore. Hy is die vierde van vyf kinders van Frederick Christ "Fred" Trump (1905–1999) en Mary Anne Trump (née MacLeod, 1912–2000). Trump het twee susters, Maryanne en Elizabeth, en twee broers, Fred Jr., en Robert. Trump se ouer broer, Fred Jr., het in 1981 weens alkoholisme gesterf. Trump het al aangedui dat sy broer se dood aanleiding gegee het tot sy besluit om homself te weerhou van enige alkoholiese drank en sigarette. Robert Trump is in Augustus 2020 oorlede.
Een van Trump se verkiesingsbeloftes was om 'n muur teen die Meksikaanse grens op te rig, en Republikeine het oorweeg om aksyns van tot 20% op Meksikaanse invoere te hef wat effektief vir die muur sou betaal. Meksiko is byvoorbeeld die grootste verskaffer van vars groente aan die VSA, en het in 2016 groente ter waarde van $5,6 miljard na die VSA uitgevoer.[4] Teen die einde van Trump se termyn het betonmure of metaalheinings oor 'n afstand van 423 myl gestrek, waarvan sekere dele opknappings van bestaande mure was.
In die verkiesing van 2020 het 159 633 396 Amerikaners gestem, die grootste getal tot nog toe, waarvan Biden en Harris 51,3% op hul verenig het, en Trump en Pence, 46,8%. Trump was van mening dat grootskaalse verkiesingsbedrog die skaal in Biden se guns geswaai het, en het etlike geregtelike aksies geloots om sekere bepalende uitslae ongeldig te verklaar. Die deelstaat Texas het ook 'n aksie geloots maar was ewe onsuksesvol in die hof. Uiteindelik het Trump, sy regsverteenwoordiger Rudy Giuliani en ander Republikeine vurige toesprake voor die Kapitoolgebou gehou. Sekere optoggangers het die Kapitool bestorm en binnegedring. Hiervoor het die senaat gepoog om Trump nogmaals in 'n staat van beskuldiging te plaas, maar kon nie die nodige tweederde meerderheid verkry om hom skuldig te bevind nie.[5]
Die prioriteite van Donald Trump se buitelandse en veiligheidsbeleid het hul uiting gevind in die leuse America first – 'n merkbare koersverandering en breuk met Washington se politieke tradisies. Met hierdie nuwe doktrine het Trump beoog om groter speelruimte in sy buitelandse beleid te laat vir nasionale belange van die Verenigde State waar dit eensydig afdwingbaar was. Sy administrasie het gevolglik daarna gestrewe om verpligtinge, wat die VSA ingevolge internasionale ooreenkomste aangegaan het, te verminder en die land se militêre slaankrag te vergroot.[6] Die klem is dadelik geplaas op bestryding van gewelddadige ekstremisme en die herposisionering vir grootmoondheidskompetisie met China en Rusland.[7]
President Trump het 'n beleid in werking gestel wat beoog het om China se toenemende geopolitiese invloed hok te slaan. Spesifiek is daar opgetree teen China se ongunstige handelspraktyke en hul strewe na politieke, ekonomiese en tegnologiese dominansie deur finansiering van groot projekte in ontwikkelende lande. Daar is gevrees dat bates en natuurlike hulpbronne van arm lande in Chinese hande sal val wanneer hierdie lande nie hul Chinese leningsverpligtinge kan nakom nie. China se strategiese belange in Afrika het reeds veral olie, gas, steenkool en metale ingesluit, wat vir hul konstruksie- en vervaardigingsektore benodig is, terwyl Afrika lenings vir infrastruktuurprojekte benodig het. Zambië, Angola, die DRK, Mosambiek, Ethiopië, Soedan, Kenia en Djiboeti het onder die lande getel wat teen 2018 reeds van hul bates aan Chinese beheer moes afstaan.[8]
Daar is perke gestel op Chinese beleggings in die VSA wat kon meebring dat Amerikaanse tegnologie en handelsgeheime in Chinese hande val, en die uitvoer van siviele kerntegnologie na China is in 2018 aan streng beperkings onderwerp. Tariewe van $250 miljard is op Chinese goedere geplaas ten einde handelspraktyke te kortwiek wat Amerikaanse maatskappye benadeel het.[9]
In sy verkiesingsveldtog het Trump sterk kritiek uitgespreek oor Amerika se buitelandse hulp tydens sy voorgangers se termyne. 'n Afskaling van buitelandse hulp sou egter in China se hande speel wat beplan het om $1 biljoen se konstruksiehulp aan 100 lande beskikbaar te stel. Gevolglik is Trump se beleid in Oktober 2018 aangepas om buitelandse hulpprogramme vir infrastruktuur in Afrika, Asië en die Amerikas te bevorder. Dié hulpprogramme het $60 miljard se lenings, leningswaarborge en versekering teen politieke risikos vir maatskappye behels wat in ontwikkelende lande wou sake doen. Die hoop is uitgespreek dat die nuwe stelsel beleggings volgens maksimum ekonomiese en politieke effek sou toeken, en gelyketyd die korrupsie en wanbestuur sou systap waardeur China se beleggings in Maleisië en elders gekenmerk is.[9]
Weens Trump se kenmerkende America first-benadering was belangrike beleidsaanpassings jeens Afrika te wagte. Desondanks is Amerika se voorafgaande betrokkenheid by Afrika grootliks uit sy eie oorwegings en die kongres se invloed gehandhaaf. Sy grondige skeptisisme oor buitelandse betrokkenheid, en veral in armer ontwikkelende lande, het wel hand aan hand gegaan met 'n afskaling van dié internasionale handelsooreenkomste wat as onbillik teenoor die Verenigde State beskou is. Amerikaanse steun vir internasionale hulporganisasies waarvan Afrika afhanklik is, het onder die loep gekom, en Amerika se beperkte militêre teenwoordigheid in Afrika is ingekort van 7 200 ontplooide personeel in 2018, tot 7 000 in 2019 en 6 000 in 2020. Ten spyte van die besnoeiing van AFRICOM-magte, is beplan om tussen 2021 en 2025 meer as $330 miljoen te spandeer om 27 basisse op die vasteland te versterk en uit te brei.[7]
Trump het min aptyt vir betrokkenheid by Afrika se interne beleidskwessies getoon. Tydens sy eerste termyn het hy dan nie soos sy twee voorgangers na die vasteland gereis nie, en Afrika se publieke gesondheid of die integriteit van hul verkiesings het geen hernieude aandag geniet nie. Rex Tillerson, sy minister van buitelandse sake, het ontslae geraak van sy departement se kenners rakende Afrika-aangeleenthede, en sy opvolger Mike Pompeo het hierdie kundigheid eweneens nie herstel nie. Trump het Afrika-staatshoofde op die periferie van die VN se Algemene Vergadering ontmoet en enkele Afrika-leiers is in die Withuis ontvang. Diplomasie is gefokus op handel, belegging en hulp, benewens die finansiering van groot hulp- en beleggingsinisiatiewe, en die vestiging van nuwe ondernemings.[7]
In weerwil van Trump se begrotingsvoorstelle wat buitelandse hulp sou inkort, het die Republikeins-beheerde kongres duur humanitêre programme voortgesit, insluitend die president se noodplan vir vigsverligting (PEPFAR). Die staatsdepartement en Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) se hulp aan Afrika-lande het $7,1 miljard in die 2019-boekjaar beloop, wat met besteding deur die regering van president Barack Obama gestrook het. Een sg. onregverdige handelsooreenkoms, die African Growth and Opportunity Act, waarvolgens Afrika-produkte suid van die Sahara sonder aksyns na die VSA uitgevoer word, is ongeskonde behou. Trump het ook sy eie handels- en beleggingsinisiatief, Prosper Africa, van stapel gestuur vir fasilitering van private Amerikaanse beleggings in Afrika. Die by Trump ongewilde Overseas Private Investment Corporation wat finansierings- en beleggingsversekering aan Afrika-lande verskaf het, is saam met USAID se ontwikkelingskredietowerheid omskep in die U.S. International Development Finance Corporation wat grootliks op Afrika gefokus is.[7]
Sedert hy die presidentskap verlaat het, was Trump die onderwerp van verskeie ondersoeke na sowel sy saketransaksies as sy optrede tydens die presidentskap. In Februarie 2021 het die distriksprokureur vir Fulton County, Georgia, 'n kriminele ondersoek na Trump se telefoonoproepe aan die Georgia-sekretaris van buitelandse sake, Brad Raffensperger, aangekondig. Afsonderlik is die New Yorkse Staatsprokureur-generaal se kantoor besig met siviele en kriminele ondersoeke na Trump se sakebedrywighede, die ondersoek is in samewerking met die Manhattan-distriksprokureur se kantoor. Teen Mei 2021 het 'n spesiale jurie aanklagte oorweeg. In Julie 2021 het die aanklaers van New York die Trump-organisasie aangekla van 'n "15 jaar skema om die regering te bedrieg".
In Desember 2021 het die New York Staatsprokureur-generaal se kantoor Trump gedagvaar om sekere dokumente voor te lê. Op 25 April 2022 het regter Arthur Engoron in die staat New York Trump weens minagting van die hof aangekla omdat hy nie aan die dagvaarding voldoen het nie.
Toe hy die Withuis verlaat het, het Trump bokse dokumente saamgeneem na sy woning by Mar-a-Lago. Die Amerikaanse Nasionale Argief- en Rekordadministrasie het probeer om die dokumente in die hande te kry, soos vereis deur die Presidensiële Rekordswet, en het 15 bokse in Februarie 2022 ontvang. Hulle het later die Departement van Justisie ingelig dat sommige van die materiaal as geklassifiseerde nasionale veiligheidsinligting gemerk is.
In Junie 2022 het die departement van justisie aan Trump 'n jurie-dagvaarding gestuur, waarin enige bykomende dokumente wat geklassifiseer is, aangevra is.
Op 8 Augustus 2022 het FBI-agente met 'n deursoeklasbrief Trump se woning by Mar-a-Lago deursoek as deel van 'n ondersoek na die moontlike wanhantering van dokumente en materiaal wat na die Argief gestuur moes gewees het. Hulle was op soek na geklassifiseerde items en dokumente, insluitend dié wat met kernwapens verband hou. Die Geheime Diens het "toegang vergemaklik" vir die FBI, en Trump se prokureur was teenwoordig. Op 12 Augustus 2022 is die teks van die deursoeklasbrief aan die publiek vrygestel, met verwysing na die ondersoek van drie moontlike misdade: oortreding van die Spioenasiewet, dwarsboming van die gereg en die verwydering of vernietiging van staatsrekords. Die lys van dokumente en ander materiaal wat deur die FBI gekonfiskeer is, is ook vrygestel; dit het 11 stelle geklassifiseerde dokumente gelys, insluitend vier wat as "hoogsgeheim" gemerk is.[10][11][12]
In Maart 2023 het 'n groot jurie van Manhattan vir Trump aangekla op 34 aanklagte van bedrog. Dit maak hom die eerste voormalige Amerikaanse president wat kriminele aanklagte in die gesig staar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.[13]
Op 15 November 2022 het Trump sy kandidatuur vir die 2024 Amerikaanse presidentsverkiesing aangekondig en 'n geldinsamelingsrekening opgestel.[14][15] Hy is die vermoedelike genomineerde vir die Republikeinse Party.[16] In Maart 2023 het die veldtog begin om 10 persent van die skenkings aan Trump se leierskap PAC te herlei. Trump se veldtog het teen Maart 2024 $100 miljoen aan sy regsrekeninge betaal.[17][18]
In Desember 2023 het die hooggeregshof in Colorado beslis dat Trump gediskwalifiseer is vir die Republikeinse voorverkiesing in Colorado vir sy rol in die aanhitsing van die aanval op 6 Januarie 2021 op die Kongres. In Maart 2024 het die Amerikaanse Hooggeregshof sy naam in 'n eenparige besluit op die stembrief herstel, wat beslis het dat Colorado nie die gesag het om Artikel 3 van die 14de Wysiging toe te pas nie, wat opstandelinge verbied om 'n federale amp te beklee.[19]
Op 5 November 2024 is hy herkies as die 47ste president van die Verenigde State nadat hy Kamala Harris in die presidensiële verkiesing verslaan het.
Trump is in die oor beseer in 'n sluipmoordpoging tydens 'n veldtogsaamtrek op 13 Julie 2024 in Butler, Pennsilvanië.[20][21] Ná die skietery het Trump sy vuis in die lug gelig toe hy deur die Geheime Diens weggelei is. Hy is later mediese aandag by 'n plaaslike mediese fasiliteit gegee, waar daar aangekondig is dat dit goed met hom gaan. ’n Saamtrekganger is deur geweervuur getref en gedood, en twee ander is in ’n ernstige toestand gelaat.[22][23] Die oortreder is ook op die toneel deur die Geheime Diens doodgeskiet.[24][25] Amptenare het aangekondig dat die skietery as 'n poging tot sluipmoord ondersoek word.[26][27][28] Die FBI het die 20-jarige Thomas Matthew Crooks van Bethel Park, Pennsilvanië, geïdentifiseer as die skieter in die sluipmoordpoging.[29][30]