Groot Sfinks van Giza | ||
Die Groot Sfinks van Giza, 2008. | ||
Plaaslike naam | Aboe al-Haoel | |
Land | Egipte | |
Soort | Kalksteenstandbeeld | |
Streek | Giza | |
Geskiedenis | ||
Bouer | Antieke Egipte | |
Tydperk | Ou Ryk |
Die Groot Sfinks van Giza (Arabies: أبو الهول, Aboe al-Haoel, "die Verskriklike Een") is ’n kalksteenstandbeeld van ’n sfinks (’n mitiese figuur met die lyf van ’n leeu en die gesig van ’n mens) op die wesoewer van die Nylrivier by Giza, Egipte. Dit word gewoonlik bloot die Sfinks genoem. Daar word geglo die standbeeld se gesig is dié van farao Chafra.
Dit is die grootste standbeeld in een stuk in die wêreld. Die oorspronklike beeld is uit die rotsbodem gekap en is sedertdien met lae kalksteenblokke gerestoureer.[1] Die Sfinks is 73,5 m lank, 19,3 m breed en 20,22 m hoog.[2] Dit is die oudste bekende monumentstandbeeld en is waarskynlik gebou deur die Antieke Egiptenare van die Ou Ryk tydens die bewind van farao Chafra (c. 2558–2532 v.C.).[2][3]
Die Groot Sfinks is geleë langs die dodetempel van Chafra en is uit 'n rotsagtige formasie van kalksteen gekap wat in die geologiese tydperk die Eoseen gevorm het. Die terrein is duidelik deel van 'n steengroef waaruit die materiaal gehaal is om die Groot Piramide van Choefoe te bou.[4]
Voor die beeld is 'n halfvoltooide tempel gebou, waarskynlik met klipblokke wat weggekap is. Van die klippe het tot 200 ton geweeg. Farao Amenhotep II (1570-1544 v.C.) het omtrent 1 000 jaar ná die oprigting van die Sfinks ’n nuwe tempel reg langsaan laat bou.
Die kop van die Sfinks beeld waarskynlik Chafra uit en is bedek met 'n koninklike hooftooisel. Die verhouding van die kop is nie heeltemal in verhouding met die liggaam nie, omdat daar bolangs meer erosie voorgekom het. In die oudheid was die Sfinks waarskynlik met helder kleure geverf, soos rooi, blou en geel. Die beeld is al verskeie kere gerestoureer en is erg beskadig.
Hoewel die Groot Sfinks een van die wêreld se oudste en grootste monumente is, word die feite daaromtrent, soos wanneer dit gebou is en deur wie, steeds betwis. Die Romeinse filosoof Plinius die ouere noem die Groot Sfinks in sy boek Natuurgeskiedenis. Hy sê die Egiptenare het die Sfinks as ’n "godheid" beskou en dat koning Harmais daarin begrawe is.[5][6]
Dit is nie bekend wat die naam van die standbeeld was toe dit gebou is nie, want dit verskyn nie in enige bekende inskripsies van die Ou Ryk nie, en daar is geen ander inskripsies oor die bou van die Sfinks of wat die doel daarvan was nie. In die Nuwe Ryk is dit Hor-em-akhet (Horus van die Horison) genoem, en farao Toetmoses IV (1401–1391 of 1397–1388 v.C.) het dit so genoem in sy Droomstele.
Die naam Sfinks is daaraan gegee sowat 2 000 jaar ná die datum waarop dit vermoedelik gebou is; dit verwys na ’n figuur in die Griekse mitologie met ’n leeu se lyf, ’n vrou se kop en ’n arend se vlerke (hoewel dit nes die meeste Egiptiese sfinkse geen vlerke het nie). Die woord "sfinks" in Afrikaans en ander tale kom van die Antieke Griekse Σφίγξ, sfinks, oënskynlik van die werkwoord σφίγγω, sfingo (om te druk) na aanleiding van die Griekse sfinks wat enigiemand verwurg het wat nie haar raaisel kon oplos nie.
Middeleeuse Arabiese skrywers het aan die Sfinks 'n Arabiese Koptiese naam, Belhib (Arabies: بلهيب) en Belhawiyya (Arabies: بلهويه), gegee.[7] Dit kom van die Egiptiese pꜣ-Ḥwr, 'n naam van die god Horon, met wie dit verbind is. Die moderne Egiptiese Arabiese naam is أبو الهول (ʼabu alhōl, "Die Verskriklike Een"; letterlik "Vader van Vrees"), wat van die Koptiese naam afgelei is.[8]
Daar is argeologiese bewyse dat die Sfinks omstreeks 2500 v.C. vir farao Chafra, die bouer van die Tweede Piramide by Giza, gebou is.[9] Die beeld is gekap uit een stuk rots uit die plato, wat ook gedien het as steengroef vir van die piramides en ander monumente in die gebied.[10] Die Egiptiese geoloog Farouk El-Baz het voorgestel die kop is eerste uitgekap uit 'n natuurlike rotsrif wat deur die wind geskep is. Die riwwe het soms vorms wat soos diere lyk. El-Baz stel voor die "grag" of "sloot" om die Sfinks is dalk later uitgegrawe om die volle liggaam te skep.[11]
Die stene wat om die Sfinks uitgegrawe is, is gebruik om 'n tempel te begin bou. Die tempel is nooit voltooi nie en die relatiewe skaarste aan kulturele materiaal uit die Ou Ryk dui daarop dat 'n Sfinkskultus toe nog nie gevestig was nie.[12] Selim Hassan, wat in 1949 die destydse uitgrawings om die Sfinks beskryf het, het gesê:
Alles in ag genome, moet ons blykbaar aan Chafra krediet gee vir die oprigting van hierdie wonderlikste standbeeld ter wêreld, maar altyd met dié voorbehoud: dat daar nie 'n enkele inskripsie uit dié tyd is wat die Sfinks met Chafra verbind nie. Hoe seker dit ook al lyk, ons moet die bewyse as omstandigheidsgetuienis beskou, totdat 'n gelukkige spit van die uitgrawer 'n definitiewe verwysing onthul oor die oprigting van die Sfinks.[13]
Die een of ander tyd rondom die Eerste Oorgangstydperk is die Giza-nekropolis verlate gelos en dryfsand het die Sfinks tot by sy skouers toegewaai. Die eerste aangetekende poging om dit uit te grawe, is omstreeks 1400 v.C., toe die jong Toetmoses IV (1401-1391 of 1397-'88 v.C.) 'n span bymekaargekry en die voorpote met groot moeite uitgegrawe het. Hy het tussen die pote 'n altaar opgerig met die Droomstele, 'n granietblok met 'n inskripsie. Toe die stele ontdek is, was die teksreëls reeds beskadig en onvolledig. 'n Aanhaling lui:
... toe die koninklike seun Toetmoses aankom terwyl hy in die middag geloop het en in die skadu van dié magtige god gaan sit, is hy deur die vaak oorval en het geslaap toe Ra op sy hoogste aan die hemel was. Hy het gehoor die almagtige god praat met hom met sy eie mond, soos 'n vader met 'n seun: Kyk na my, o my seun Toetmoses; Ek is jou vader, Harmachis-Chepri-Ra-Toem; Ek verleen aan jou die soewreiniteit oor my gebied, die oppergesag oor die lewendes ... Aanskou my toestand sodat jy al my ledemate kan beskerm. Die sand van die woestyn waarop ek staan, het my bedek. Red my, en verwesenlik alles wat in my hart is.[14]
Die Droomstele verbind die Sfinks met Chafra, maar dié deel van die teks is beskadig:
wat ons vir hom bring: osse ... en al die jong groentes; en sal loftuitinge bring aan Wenofer ... Chaf ... die standbeeld wat vir Atoem-Hor-em-Achet opgerig is.[15]
Die Egiptoloog Thomas Young het, nadat hy die hiërogliewe vir Chaf ontdek het in 'n beskadigde cartouche (wat gebruik word om 'n koninklike naam te omring), die hiëroglief ra bygevoeg om Chafra se naam te voltooi. Toe die stele in 1925 weer opgegrawe is, was die teksreëls wat na Chaf verwys, verwoes.
Later het Ramses II (1279-'13 v.C.) dalk weer 'n restourasiepoging aangewend.
In die Nuwe Ryk is die Sfinks meer spesifiek met die songod Hor-em-akhet ("Horus-aan-die-Horison") verbind. Farao Amenhotep II (1427-'01 of 1397 v.C.) het 1 000 jaar ná die sfinks se konstruksie 'n tempel aan die noordoostekant laat bou en dit gewy aan die kultus van Hor-em-akhet.[16]
In Grieks-Romeinse tye het Giza 'n toeristebestemming geword – die monumente is as oudhede beskou – en sommige Romeinse keisers het die Sfinks uit nuuskierigheid en vir politieke doeleindes besoek.[17]
Die sand om die Sfinks is weer verwyder in die eerste eeu n.C., ter ere van keiser Nero en die goewerneur van Egipte, Tiberius Claudius Balbilus.[18] 'n Monumentale trap van meer as 12 m wyd is opgerig. Dit het na 'n sypaadjie voor die pote van die Sfink gelei. Aan die bokant van die trap is 'n podium opgerig wat 'n uitsig op die Sfinks-heiligdom gebied het. Verder terug was nog 'n podium en trap.[19] Die trap is verwyder tydens die uitgrawings van 1931-'32 deur Émile Baraize.[20]
Volgens Plinius die ouere was die Sfinks se gesig rooi geverf.[21]
'n Stele met die datum 166 n.C. vier die restourasie van die keermure om die Sfinks.[22] Die laaste keiser wat met die Sfinks verbind is, is Septimius Severus, omstreeks 200 n.C.[23] Met die val van die Romeinse Ryk het die sand weer eens die Sfinks toegewaai.[24]
Sommige antieke nie-Egiptenare het die Sfinks beskou as 'n ewebeeld van die god Horon. Die kultus van die Sfinks het tot in die Middeleeue voortgeduur. Die Sabiërs, 'n godsdiensgroep van Harran, het dit beskou as die plek waar Hermes Trismegistus ('n legendariese Hellenistiese figuur wat ontstaan het as 'n kombinasie van die Griekse god Hermes en die Egiptiese god Thoth)[25] begrawe is. Arabiese skrywers het die Sfinks beskryf as 'n talisman wat die gebied teen die woestyn beskerm.[26]
Die Arabies-Egiptiese historikus Al-Maqrizi beskryf dit as die "talisman van die Nyl", op wie die plaaslike inwoners geglo het die vloedsiklus geskoei was.[27] Die Moslemse geograaf en Egiptoloog Muhammad al-Idrisi het beweer mense wat burokratiese poste in die Egiptiese regering wou hê, het wierookofferandes aan die monument gebring.[28]
Deur die eeue het buitelandse skrywers en geleerdes hulle indrukke en reaksies weergegee nadat hulle die Sfinks gesien het. Die meeste het algemene beskrywings gegee, insluitende 'n mengsel van wetenskap, romatiek en mistiek. Een beskrywing, deur die Amerikaanse skrywer John Lawson Stoddard, het gelui:
Dit is die oudheid van die Sfinks wat ons aangryp wanneer ons daarna kyk, want dit het self geen betowering nie. Die woestyn se golwe kom tot by sy bors, asof dit die monster in 'n laag goud wil bedek. Die gesig en kop is deur Moslemse fanatici beskadig. Die mond, waarvan die lippe se skoonheid eens bewonder is, is nou uitdrukkingloos. Tog staan die oorblyfsel van die Egiptiese oudheid, groots in sy alleenheid – toegevou in die misterie van ongenoemde eeue – statig en stil in die teenwoordigheid van die verskriklike woestyn – simbool van ewigheid.[29]
Van die 16de tot die 19de eeu het Europese waarnemers beweer die Sfinks het die gesig, nek en bors van 'n vrou. Hulle sluit in Johannes Helferich (1579), George Sandys (1615), Johann Michael Vansleb (1677), Benoît de Maillet (1735) en Elliot Warburton (1844).
Die meeste Europese beelde was boekillustrasies in drukvorm, wat deur 'n professionele graveerder gemaak is van vorige foto's of 'n oorspronklike skets wat deur 'n skrywer verskaf is en nou meestal verlore is. Sewe jaar nadat André Thévet (Cosmographie de Levant, 1556) Giza besoek het, het hy die Sfinks beskryf as "die kop van 'n kolos, wat gemaak is deur Isis, dogter van Inachus, vir wie Jupiter toe so lief was". Hy, of sy kunstenaar of graveerder, het dit uitgebeeld as 'n monster met krulhare en 'n grasagtige hondehalsband. Athanasius Kircher (wat Egipte nooit besoek het nie) het die Sfinks uitgebeeld as 'n Romeinse standbeeld (Turris Babel, 1679). Johannes Helferich (1579) se Sfinks is 'n vrou met 'n vervalle gesig, ronde borste en 'n pruik met reguit hare. George Sandys het gesê die Sfinks is 'n prostituut; Balthasar de Monconys het gedink die hooftooisel is 'n soort haarnet.
Richard Pococke se Sfinks was 'n verwerking van Cornelis de Bruijn se tekening van 1698, met net 'n paar veranderings. Dit is egter nader aan die werklike voorkoms van die Sfinks as enigiets tevore. Die gedrukte weergawes van Norden se tekeninge vir sy Voyage d'Egypte et de Nubie van 1755 wys duidelik die neus is weg.
In 1817 het die eerste moderne uitgrawing, onder toesig van die Italiaanse kaptein Giovanni Battista Caviglia, die Sfinks se bors heeltemal ontbloot.
Aan die begin van 1887 het die bors, pote, altaar en plato alles sigbaar geword. Trappe is opgegrawe, en eindelik is akkurate metings van die groot figure gedoen. Die hoogte van die laagste treetjie was eenhonderd voet, en die spasie tussen die pote 35 voet lank en 10 voet breed. Hier was voorheen 'n altaar; en 'n stele van Toetmoses IV is ontdek wat 'n droom beskryf waarin hy opdrag gekry het om van die sand ontlsae te raak wat toe al om die terrein van die Sfinks versamel het.[30]
Vroeë Egiptoloë en uitgrawers het verskil oor die ouderdom van die Sfinks en die tempels wat daarmee verbind word.
In 1857 het Auguste Mariette, stigter van die Egiptiese Museum in Kaïro, die veel later Inventarisstele opgediep (wat na raming uit die 26ste Dinastie, omstreeks 664-525 v.C., dateer). Daarop word vertel hoe Choefoe op die Sfinks afgekom het wat toe al onder die sand begrawe was. Hoewel sekere dele van die stele waarskynlik waar is,[31] word dié paragraaf deur argeologiese bewyse weerspreek, en dit word beskou as historiese revisionisme uit die Laat Tydperk,[32] en dus 'n doelgerigte vervalsing wat deur plaaslike priesters geskep is in 'n poging om aan die destydse Isis-tempel 'n antieke geskiedenis toe te dig wat dit nooit gehad het nie. Sulke dade het algemeen geword toe godsdiensinstellings soos tempels en priesterdomeine meegeding het om politieke aandag en vir finansiële en ekonomiese skenkings.[33][34]
Flinders Petrie het in 1883 oor die ouderdom van die Chafra-valleitempel, en by uitbreiding die Sfinks, geskryf: "Die datum van die Graniettempel is so positief vasgestel as vroeër as die 4de Dinastie dat dit onbesonne kan lyk om dit te weerspreek. Onlangse ontdekkings het egter bewys dit is werklik nie voor die bewind van Chafra, in die Vierde Dinastie, gebou nie."[35]
Gaston Maspero, die Franse Egiptoloog en tweede direkteur van die Egiptiese Museum in Kaïro, het in 1886 'n opname van die Sfinks laat doen. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat, omdat die Droomstele die cartouche van Chafra in reël 13 wys, hy verantwoordelik was vir die uitgrawing en daarom moet die Sfinks van voor die tyd van Chafra en sy opvolgers kom – moontlik die Vierde Dinastie, omstreeks 2575-2467 v.C. Maspero het geglo die Sfinks is "die oudste monument in Egipte".[36]
Die Duitse Egiptoloog Ludwig Borchardt het gevoel die Sfinks kom uit die Middelryk omdat die spesifieke eienskappe van die beeld uniek is aan die 12de Dinastie, en dat die Sfinks soos Amenemhat III lyk.[37]
Die Engelse Egiptoloog E.A. Wallis Budge het saamgestem dat die Sfinks uit 'n tyd voor Chafra se bewind kom. Hy het in The Gods of the Egyptians (1904) geskryf: "Dié wonderlike voorwerp het reeds in die dae van Chafra, of Chefren ('n alternatiewe naam vir Chafra), bestaan en dit is moontlik baie ouer as sy bewind. Dit kan van die einde van die argaïese tyd [omstreeks 2686 v.C.] bestaan."[38]
Die Egiptiese Egiptoloog Selim Hassan reken die Sfinks is opgerig ná die voltooiing van die Chafra-piramidekompleks.[39]
Rainer Stadelmann, voormalige direkteur van die Duitse Argeologiese Instituut in Kaïro, het die ikonografie van die hooftooisel en baard, wat afgebreek het, ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat die styl meer dui op farao Choefoe (2589-2566 v.C.), die bouer van die Groot Piramide van Giza en Chafra se vader.[40] Hy ondersteun dié idee deur voor te stel Chafra se straatweg is gebou na 'n vooraf bestaande struktuur, wat volgens hom net die Sfinks kon gewees het.[41]
In 2004 het Vassil Dobrev van die Institut Français d'Archéologie Orientale in Kaïro aangekondig hy het nuwe bewyse ontdek dat die Groot Sfinks die werk kon gewees het van die minder bekende farao Djedefre (2528-2520 v.C.), Chafra se halfbroer en 'n seun van Choefoe.[42] Volgens hom het Djedefre die Sfinks laat bou as die ewebeeld van sy pa, Choefoe, en hom geïdentifiseer as die songod Ra om respek vir die 4de Dinastie te herstel. Dobrev sê ook die straatweg wat Chafra se piramide met die tempels verbind, is om die Sfinks gebou, wat beteken die Sfinks het toe reeds bestaan.
Die Egiptoloog Nigel Strudwick het op Dobrev se stellings gereageer deur te sê: "Dit is nie onmoontlik nie. Maar ek kort beter verduidelikings, soos hoekom hy dink die piramide by Abu Roash is 'n sontempel, iets waaroor ek skepties is. Ek het nog nooit gehoor iemand stel voor die graffiti by Zawiyet el-Aryan noem Djedefre nie. Ek is meer oortuig van die tradisionele argument dat dit Chafra was, of die meer onlangse teorie dat dit Choefoe was."[43]
In 1931 het ingenieurs van die Egiptiese regering die kop van die Sfinks gerestoureer nadat ’n deel van die kopbedekking in 1926 afgeval en ook die nek beskadig het.[44]
In dié twyfelagtige restourasie is 'n betonkraag tussen die hooftooisel en die nek ingevoeg, wat die profiel verander het.[45] Baie restourasies aan die steenbasis en liggaam is in die 1980's gedoen en in die 1990's oorgedoen.[46]
Die sandsteen van die gebied bestaan uit lae met wisselende weerstand teen erosie (meestal veroorsaak deur wind en gewaaide sand), en dit lei tot die onewige agteruitgang wat in die Sfinks se lyf gesien kan word.[10][48] Die laagste deel van die liggaam, insluitende die pote, is van soliede rots.[49] Die liggaam tot by die nek bestaan uit sagter lae wat taamlike agteruitgang toon.[50] Die laag waaruit die kop gekap is, is weer harder.[50][51] Oorblyfsels van rooi pigment is aan dele van die Sfinks se gesig te sien, asook spore van geel en blou pigment aan die res van die beeld. Die Amerikaanse argeoloog Mark Lehner het voorgestel die monument "was eens geverf in bont storieboekkleure".[52] Soos met baie antieke monumente het die pigmente en kleure sedertdien vervaag, en vandag het dit net 'n geel/beige voorkoms.
'n Paar skagte wat nêrens heen lei nie, kom voor in en onder die lyf. Dit is waarskynlik deur skatjagters en grafrowers gegrawe.
Die Sfinks se neus van sowat ’n meter breed word vermis. ’n Ondersoek van naderby wys lang stawe of beitels is in die neus gekap, een van die brug van die neus af en die ander van die neusgate af, en die neus is toe in ’n suidelike rigting afgeruk.[53]
Die Arabiese historikus Al-Maqrizi het in die 15de eeu die skuld voor die deur van die Moslemse sultan Muhammad Sa'im al-Dahr gelê. In 1378 het die sultan glo die plaaslike inwoners betrap dat hulle offerandes aan die Sfinks bring vir ’n groter oes, en hy was so kwaad dat hy die neus afgebreek het. Hy is toe gehang weens vandalisme.[54]
Daar is ook ’n verhaal dat Napoleon se soldate die neus met ’n kanon afgeskiet het, wat vandag steeds die ronde doen. Daar is ook ’n paar ander weergawes.
Die baard wat ook aan die Sfinks vas was, is vermoedelik ná die oorspronklike konstruksie bygevoeg. Die Egiptoloog Vassil Dobrev het gemeen as die baard oorspronklik deel van die standbeeld was, sou dit die ken beskadig het toe dit afval.[55] Die gebrek aan tekens van skade onderskryf sy teorie dat die baard later aangelas is.
Johann Helffrich het die Sfinks besoek op sy reise van 1565 tot 1566. Volgens hom het 'n priester in die kop van die Sfinks ingegaan en toe hy praat, was dit asof die beeld self gepraat het.[56]
Baie steles uit die Nuwe Ryk beeld die Sfinks uit met 'n kroon op sy kop. As dit die geval is, kon die gat se doel gewees het om die kroon te anker.[57][58]
Émile Baraize het die gat in 1926 met 'n metaalluik toegemaak.[59][60]
Die Britse Egiptoloog Howard Vyse het sy landgenoot John Shae Perring in 1837 opdrag gegee om 'n tonnel aan die agterkant van die Sfinks, net agter die kop, te boor. Die boorstange het op 'n diepte van 8,2 m vasgesit. Pogings om die stange los te skiet het nog skade berokken.
Die gat is in 1978 skoongemaak. Onder die rommel was 'n deel van die koptooisel.[61]
'n Groot natuurlike skeur in die rotsbodem loop deur die middellyf van die Sfinks. Dit is die eerste keer in 1853 ontbloot, deur Auguste Mariette.
Op die rug van die Sfinks is dit 2 m breed. Baraize het die kante in 1926 verseël en 'n dak van ysterstawe, kalksteen en sement bo-op geplaas. Hy het ook 'n valdeur geïnstalleer.
Die kante van die skeur is dalk kunsmatig reguit gemaak, maar die onderkant is onreëlmatige rotsbodem. 'n Baie smal kraak loop verder.[62]
In 1926 is sand om die Sfinks verwyder onder leiding van Baraize. Dit het 'n opening onthul na 'n tonnel op grondvlak aan die noordekant van die onderlyf. Dit is daarna met hout toegemaak en was byna vergete.
Meer as 50 jaar later het drie ouerige mans wat met die skoonmaakproses gehelp het, van die gang onthou. Dit het gelei tot die herontdekking en oopmaak daarvan in 1980.
Die gang bestaan uit 'n boonste en onderste deel wat teen 'n hoek van sowat 90 grade lê.
Dit is moontlik dat die tonnel van bo na onder gegrawe is en dat die huidige ingang later gemaak is.
Vyse het op 27 en 28 Februarie 1837 in sy dagboek aangeteken dat hy naby die stert boor, en hy was dus moontlik die skepper van die tonnel. Geen ander tonnel is op dié plek gevind nie.[63]
Nog 'n verklaring kan wees dat die gang 'n antieke oorsprong het, miskien as 'n verkenningstonnel of 'n onvoltooide graftonnel.[64]
'n Foto van 1925 wys 'n man wat onder die grondvlak in 'n nis in die noordelike flank van die Sfinks se lyf staan. Dit is tydens die restourasie van 1925-'26 toegemaak.[65]
'n Ruimte agter die Droomstele, tussen die Sfinks se pote, is deur 'n ysterbalk en sementdak toegemaak, en 'n ystervaldeur is geïnstalleer.[66][67]
Aan die rant van die muur om die Sfinks is 'n vierkantige skag oorkant die linkeragterpoot. Dit is in 1978 tydens uitgrawings deur Hawass oopgemaak, en is 1,42 x 1,06 m groot en 2 m diep. Lehner het gedink dit is 'n onvoltooide grafkelder en het dit die "Sleutelgatskag' genoem omdat uitgrawings in die lys bo die skag die vorm het van die onderste deel van 'n sleutelgat, maar onderstebo.[68]
Talle idees is al voorgestel om die oorsprong en identiteit van die Sfinks te verduidelik of hervertolk, maar daar is nie genoeg bewyse nie of hulle weerspreek mekaar. Daarom word dit beskou as pseudo- of skyngeskiedenis.
Tot die vroeë 20ste eeu is voorgestel die Sfinks het "Negergelaatstrekke", volgens rassistiese sterotipes wat nou verouderd is.[78][79]
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)