Holstein Kiel is 'n Duitsesokkerklub uit Kiel in Sleeswyk-Holstein en is in 1900 gestig as 1. Kieler Fussball Verein. Die klub se grootste prestasie was toe dit in 1912 Duitsland se nasionale kampioen geword het deur Karlsruher FV in die eindstryd te verslaan.
Na die Eerste Wêreldoorlog het die klub met FC Holstein saamgesmelt en sy huidige naam aangeneem. In die jare 20 van die vorige eeu het die klub verskeie kere die uitspeelwedstryde om die nasionale titel gehaal, maar is altyd vroeg uitgeskakel. In 1930 het die klub weer die eindstryd gehaal, maar teen Hertha BSC Berlyn verloor.
Tydens die Derde Ryk is 16 eerste klasse ingevoer en Kiel is ingedeel by die Gauliga Nordmark. In 1942 is die Gauliga Nordmark opgedeel in die Gauliga Hamburg en die Gauliga Sleeswyk-Holstein. Sterk klubs soos Hamburger SV was dus nie meer in Kiel se kompetisie nie en die klub kon maklik die uitspeelwedstryde haal. In 1943 haal die klub die halfeindstryd, maar word deur die uiteindelike kampioen Dresdner SC uitgeskakel.
Na die Tweede Wêreldoorlog was die gloriejare van die klub verby. In 1965 het Kiel 'n geleentheid om promosie na die Bundesliga gemis nadat die klub die Regionalliga Noord gewen het, maar nie suksesvol was in die uitspeelwedstryde nie.