Isabella Rossellini | |
Rossellini op die stel in Berlyn met die verfilming van The Innocent (1992).
| |
Geboortenaam | Isabella Fiorella Elettra Giovanna Rossellini |
---|---|
Geboorte | 18 Junie 1952 Rome, Italië |
Ouers | Roberto Rossellini en Ingrid Bergman |
Beroep(e) | Aktrise, model |
Aktiewe jare | 1976-tans |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Isabella Rossellini (gebore op 18 Junie 1952 as Isabella Fiorella Elettra Giovanna Rossellini)[1][2][3] is ’n Italiaanse aktrise, model, skrywer, rolprentmaker en filantroop. Sy was 14 jaar lank ’n Lancôme-model en het in rolprente gespeel soos Blue Velvet en Death Becomes Her. Sy is vir ’n Golden Globe benoem vir haar spel in Crime of the Century (1996).
Rossellini was van 1979 tot 1982 getroud met die regisseur Martin Scorsese[4] en daarna met die voormalige model Jon Wiedemann (1983–1986).[5] Later het sy met David Lynch,[6] Gary Oldman en Gregory Mosher uitgegaan.[7]
Rossellini is in Rome gebore as die dogter van die Italiaanse regisseur Roberto Rossellini en die Sweedse aktrise Ingrid Bergman.
Haar modelloopbaan het begin toe sy op 28 jaar deur Bruce Weber gefotograveer is vir die Britse Vogue en deur Bill King vir die Amerikaanse Vogue. Sy het tydens haar loopbaan ook saam met ander bekende fotograwe gewerk soos Richard Avedon, Annie Leibovitz en Robert Mapplethorpe. Haar gesig het verskyn op tydskrifte soos Marie Claire, Harper's Bazaar, Vanity Fair en Elle. In Maart 1988 is ’n uitstalling met die naam Portrait of a Woman in die Musee d'Art Moderne in Parys gehou wat aan foto's van haar gewy is.
Sy het hierna betrokke geraak by die wêreld van grimering en het in 1982 die eksklusiewe woordvoerder-model vir Lancôme geword. In 1990 was sy by Lancôme betrokke by produkontwikkeling vir die geur Trésor. In 1996, toe sy 44 was, is sy laat vaar as die gesig van Lancôme omdat sy "te oud" was.
In Oktober 1992 was sy in Madonna se omstrede boek Sex. Sy was ook in Madonna se musiekvideo vir haar treffer "Erotica", wat in 1992 uitgereik is. In 1995 het sy saam met die Coty-groep gewerk en haar eie reeks skoonheidsmiddels, "Isabella Rossellini's Manifesto", uitgebring.
Rossellini het haar rolprentdebuut gemaak in ’n kort verskyning saam met haar ma in die 1976-prent A Matter of Time. Haar eerste werklike rol was in die 1979-prent Il Prato, en in 1980 was sy in Renzo Arbore se rolprent Il pap'occhio saam met Martin Scorsese.
Ná haar ma se dood in 1982 was Rossellini in haar eerste Amerikaanse prent, White Nights (1985), en toe in haar bekende rol as die nagklubsangeres Dorothy Vallens in die David Lynch-prent Blue Velvet, waarin sy ook gesing het. Ander noemenswaardige prente in dié tyd sluit in Cousins (1989), Death Becomes Her (1992), Fearless en Immortal Beloved (1994). In 1996 het sy as haarself verskyn in ’n episode van die TV-reeks Friends met die naam "The One with Frank Jr."
In 2003 was Rossellini ’n karakter wat herhaaldelik haar verskyning gemaak het in die TV-reeks Alias. In dieselfde jaar het sy in die Kanadese rolprent The Saddest Music in the World gespeel wat deur Guy Maddin geregisseer is. Die volgende jaar het sy die hoëpriesteres gespeel in die wetenskapsfikie-minireeks Legend of Earthsea
In 2006 het Rossellini in verskeie TV-dokumentêre verskyn.[8] Die Sundance Channel het toe die Guy Maddin-geregisseerde kortfliek My Dad Is 100 Years Old aangekoop.[9] Dit is ’n huldeblyk wat Rossellini vir haar pa geskep het. Daarin speel sy feitlik elke rol, onder andere dié van Federico Fellini, Alfred Hitchcock en haar ma, Ingrid Bergman. Rossellini se tweelingsuster, Isotta Ingrid,[10] het dit gekritiseer en ’n "onvanpaste" huldeblyk genoem.[11]
Daarna het Rossellini onder meer in die rolprent Enemy gespeel saam met Jake Gyllenhaal; dit is in 2013 op die Toronto-rolprentfees vertoon. Sy is ook die stilprentakteur Rudolph Valentino se ma[12] in Vlad Kozlov se Silent Life.[13]
Rossellini het drie boeke geskryf: haar "fiktiewe memoires", Some of Me (1997), Looking at Me (oor foto's en fotograwe, 2002) en In the name of the Father, the Daughter and the Holy Spirits: Remembering Roberto Rossellini (2006). Laasgenoemde is gepubliseer as ’n geskrewe huldeblyk saam met die kortprent My Dad Is 100 Years Old, en het die prent se draaiboek as basis gebruik.[14]